Foto’s: Vier ‘stropers’ vas; wapen onder voertuig gevind

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Vier mans wat glo op pad was om renosters in die Krugerwildtuin te gaan stroop, is in hegtenis geneem nadat ʼn jaggeweer in ʼn plastieksak onder hul voertuig opgespoor is.

Konst. Dino Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die polisie, het Vrydag aan Maroela Media bevestig hulle het ʼn anonieme wenk ontvang waarna hulle op die verdagtes toegeslaan het.

“Die verdagtes het in ʼn halfton Hyundai-vragmotor van Mpumalanga in Namakgale se rigting gery. Die polisie het die vragmotor van die pad afgetrek en deursoek,” het Sekgotodi gesê. “Ons het ʼn .375-jaggeweer met ʼn knaldemper opgespoor. Dit was in ʼn plastieksak onder die voertuig vasgebind. Daar was ook messe in die voertuig.”

Lucky Bombi (41), een van die verdagtes, het hom eers as ʼn metropolisiebeampte van Gauteng en toe as ʼn polisiereservis probeer voordoen. Hy kon egter geen bewyse hiervoor verskaf nie. “Hy het toe aangevoer hy besit ʼn veiligheidsmaatskappy in Johannesburg.”

Volgens Sekgotodi behoort die voertuig ook nie aan een van die verdagtes nie. “Hulle het aan die beamptes gesê hulle het dit geleen.”

Bombi, Solly Shivambu (39), Welcome Shiundlane (21) en Fizer Bombi (35) het Vrydag in die Namakgale-landdroshof in Limpopo verskyn. Die saak is tot 4 September uitgestel. Hulle word aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Sekgotodi sê Fizer is glo van Mosambiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Hoe lyk dit my dit gaan nou plek, plek beter met ons polisie. Hoor so hier en daar van suksesverhale.

Paul ·

Ek sal maar nie weer se dat dit jammer is dat hulle net gevang en nie doodgeskiet is nie want die redakteur hou nie daarvan as die dieremoordenaars en misdadigers doodgeskiet word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.