Foto’s: Vier vas ná gewaagde transitorooftog

Foto: SAPD

Vier vermeende transitorowers wat Dinsdagaand ná nóg ʼn transitorooftog in Limpopo in hegtenis geneem is, kan vermoedelik met ander transitorooftogte in Limpopo en Mpumalanga verbind word.

ʼn G4S-transitovoertuig is Dinsdag omstreeks 18:30 op die R71 tussen Letsitele en Tarentaal buite Tzaneen beroof. Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê ongeveer tien rowers in twee voertuie het op die geldwa toegeslaan.

Die rowers het vanuit die voertuie die buitebande van die transitovoertuig stukkend geskiet en dit só tot stilstand gedwing. Daarna is vuurwapens op die veiligheidswagte gerig en hulle is beveel om op die grond te lê, terwyl die rowers die geldwa oopgeblaas het. Die rowers het met ʼn onbevestigde bedrag geld van die toneel gevlug.

“Die polisie is ontbied en binne minute is die voertuie opgemerk. ʼn Jaagtog het op die Hoedspruit-Lydenburg-pad ontstaan en die plaaslike landelike veiligheidseenheid het die polisie gehelp deur die pad af te sper,” het Mojapelo gesê.

Een van die voertuie is naby Swadini in die Hoedspruit-polisiëringsgebied voorgekeer en ʼn skietgeveg het ontstaan. Een van die vyf verdagtes in die voertuig is doodgeskiet, drie ander is in hegtenis geneem en die vyfde een kon daarin slaag om te vlug.

Intussen is die ander voertuig by die Strydom-tonnel vasgekeer en daar het ook ʼn skietgeveg ontstaan. Die verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet gevlug, maar die polisie kon daarin slaag om een van hulle in hegtenis te neem.

Daar is tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op onder meer twee AK47-gewere, ʼn R4-aanvalsgeweer, ʼn pistool, twee koeëlvastebaadjies wat deur die polisie gebruik word, ʼn tweerigtingradio en twee sakke met kontant.

Mojapelo het gesê die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is, is van Burgersfort, Burgersdorp in Limpopo, Hazyview en Bosbokrand afkomstig en kan na alle waarskynlikheid met ander transitorooftogte verbind word. Hulle sal binnekort in die Tzaneen-landdroshof verskyn.

Nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Mense kan se wat hulle wil maar hier is polisie lede betrokke vanwaar die polisie koeeelvaste baadjie asook weermag lede.

christa ·

hoekom nie hierdie geldwaens nie met wielbeskutting toerus nie. Ek weet daar is voertuie wat selfone Vervoer wat se wiele met staal-beskermings beveilig is. Natuurlik is daar ‘n polisielid betrokke.

Raai Wie ·

Briljante samewerking tussen SAPD, plaaslike GPF en sekuriteits firmas…welgedaan.

SAN ·

ek merk op dit is net die G4S voertuie wat gebuit word, is daardie voertuie dan makliker om oop te kry,

Annette ·

Ek glo nie dit is makliker nie maar ek glo wel dat meeste van die rowe intern is. My gesin is ‘n maand gelede deur hel gesit met ‘n transito roof in Limpopo waar my seun ernstig gewond was. Mense moet begin besef dat misdaad nie ‘n kleur het nie dit gaan nie oor wit of swart of bruin nie. Dit is tyd dat alle Suid Afrikaners begin saam staan

Francois ·

Hoekom word daar altyd net gesê ”n onbekende bedrag geld is gebuit’ ? Tel niemand die kontant voordat dit uitgestuur word na die sekeheidsmaatskappy nie?

Jannie ·

Francois want as daar R2-00 in die geldwa was en die polisie kry R1-00 terug hoeveel is geroof?
Wie gaan die som maak die minister van onderwys is bekommerd oor ń vals weergawe van geskiedenis nie oor wiskunde nie.

smurfie ·

Is daar dan nie meer n toestel wat ontblof, en die geld kleur, wanneer die tasse sonder n sleutel oopmaak nie?

Cynthia TREDOUX ·

Ek is nou nie n forensiese kenner nie…maar hier ruik ek LONT! Die skielike TOENAME in die rooftogte….spel duidelik uit dat mense wat WEET HOE OM DIT TE PLEEG…sonder die onmiddellike teenwoordigheid van die SAPD…BESLIS SAL WEG KOM! Verder…wat van die LUI SLAPENDE WEERMAG LEDE wat selfs by die HEKKE wat toegang gee…sit en SLAAP HELDER OORDAG….Span gerus hierdie sluip slapers in met die bietjie wat die WEERMAG NOG HET om hul te kan vastrek…wat het ook geword van BEGELEIDING van hierdie voertuie? Vra maar net! Nou die SKIELIKE BELANGSTELLING in hierdie rooftogte!

Janosh ·

Cynthia, ek stem saam. Wat dinge nog meer interessant maak is dat daar ‘n skerp styging in hierdie transito rooftogte is elke keer voor ‘n nasionale verkiesing….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.