[Foto’s] Vier vas vir duisende krewe sonder permit

Foto: Kaptein Piet Smit.

Foto: Kaptein Piet Smit.

Vier verdagtes is in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem nadat duisende krewe in hul besit gevind is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Kaapstadse honde-eenheid het inligting ontvang oor ʼn voertuig wat glo onwettige marinehulpbronne van Hermanus na Kaapstad vervoer.

Hulle het omstreeks 06:25 die wit Opel Corsa-bakkie met ʼn kap op by Sir Lowryspas gewaar. Nadat hulle die voertuig van die pad af laat trek het, het hulle verskeie sakke met kreefsterte onder ʼn duvet onder die kap gekry.

“’n 57-jarige man van Mitchells Plain is in hegtenis geneem en by die Gordonsbaai-polisiestasie aangehou, terwyl beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye die Weskus-kreefsterte getel het,” het Van Wyk gesê. Daar is ook beslag gelê op die voertuig.

Die beamptes het 2 077 sterte, met ʼn geraamde straatwaarde van R40 000, getel. Die verdagte sal Woensdag in die Strand-landdroshof verskyn. Die klagte sluit die besit en vervoer van Weskus-krewe sonder ʼn permit in.

Later die dag het dieselfde lede van die honde-eenheid weereens inligting ontvang en omstreeks 11:40 ʼn Kia 2.7 Workhorse-afleweringsvoertuig wat swaar gelaai was met skrootmetaal afgetrek. “Na deeglike ondersoek het hulle drie groot sakke met Weskus-krewe ontdek,” het van Wyk gesê.

Drie mans van Botrivier, onderskeidelik 22, 37 en 51 jaar oud, is in hegtenis geneem en ook na die Gordonsbaai-polisiestasie geneem terwyl die krewe getel is. Altesaam 223 krewe, met ʼn geraamde straatwaarde van R7 000, is gevind. Daar is ook beslag gelê op hierdie voertuig.

Die mans sal ook Woensdag in die Strand-landroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

3s4e ·

Sterte @ R20 en heel krewe @ R30 is dit die mark waarde? By watter mark?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.