[Foto’s] Vrou gered ná perdongeluk op strand

Die vrou word op die strand bygestaan. Foto: NSRI

Die vrou word op die strand bygestaan. Foto: NSRI

ʼn Jong vrou, van Koffiefontein in die Vrystaat, is Maandagmiddag op ʼn Oos-Kaapse strand gered nadat sy glo van ʼn perd afgeval het en geskop is.

Rieghard Janse van Rensburg, die stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Jeffreysbaai, het gesê hulle is omstreeks 16:45 gevra om die 23-jarige vrou by te staan.

Sy was deel van ʼn groep mense op ʼn beplande rit toe sy tussen Kabeljous en Gamtoos op die sandduine van die perd af geval het.

“Die voorval het op sagte seesand, sowat 11 km buite Jeffreysbaai, plaasgevind,” het Janse van Rensburg gesê. “Paramedici van Private Care-ambulansdienste, sowel as die provinsiale nooddienste is ontbied, maar die ambulans kon egter nie by die vrou uitkom nie omdat die seesand te sag was om op te ry.”

Paramedici is met ʼn vierwielmotorfiets van die NSRI na die vrou geneem, waar hulle haar vir harsingskudding behandel het. ʼn Spesiale rugstut is om haar geplaas om haar nek en rug te beskerm. Sy is daarna op ʼn seereddingsvoertuig gelaai, wat haar na ʼn ambulans geneem het wat by die naaste pad gewag het.

Sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronnie ·

Volgens ooggetuies het die vrou verkies om nie ‘n veiligheidshelm te dra nie. Sy het na bewering ook nie op die sagte duine geval nie, maar langs die strand. Die perd het haar nie geskop nie, maar sy hoef het aan haar vasgehaak.

WitBlits ·

Mag sy spoedig herstel en haar vakansie verder geniet, want ongelukke gebeur onvoorsiens en niemand beplan om in een betrokkke te wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.