ʼn Vrou in haar 60’s is Sondag deur reddingswerkers na veiligheid geneem nadat sy erg beseer is toe sy en ʼn groep mense in ʼn bergagtige gebied gaan voetslaan het.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici en reddingswerkers is omstreeks 11:15 na ʼn voetslaanpad in die Hekpoort-omgewing in Gauteng ontbied.
“Die vrou het vermoedelik haar balans verloor, geval en haar been gebreek,” het Herbst gesê.
Die vrou is op die toneel behandel en op ʼn draagbaar na die naaste pad gedra, vanwaar sy met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir mediese behandeling.