[Foto’s] Vrou sterf in brand ná trompop botsing

Foto: Twitter via ER24

Foto: Twitter via ER24

ʼn Vrou is dood nadat die voertuig waarin sy was aan die brand geslaan het ná ʼn botsing tussen drie voertuie op Christiaan de Wetweg in Roodepoort, Johannesburg.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het aan Maroela Media bevestig dat daar omstreeks 06:00 vanoggend ʼn botsing tussen twee voertuie tussen Hendrik Potgieter- en Ontdekkersweg was waarna een aan die brand geslaan het.

Die Johannesburgse nooddienste is na die toneel ontbied. Gerugte doen die ronde dat ʼn brandweerwa sonder water by die toneel opgedaag het. Mulaudzi het egter aan Maroela Media bevestig dat dit slegs ʼn gewone noodvoertuig was en nie ʼn brandweerwa nie, aangesien daar glo nie aanvanklik aan hulle gekommunikeer is dat ʼn brand uitgebreek het nie.

“Ons noodvoertuie het nie water nie. Die voertuie is slegs toegerus met noodtoerusting,” het Mulaudzi gesê. ʼn Brandweerwa is dadelik ontbied toe nooddienste by die toneel opgedaag het.

Een van die  insittendes van die voertuig wat aan die brand geslaan het, is vermoedelik weens rookinaseming dood.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het ʼn trompop botsing glo tot die ongeluk gelei.

“Ná die trompop botsing het ʼn derde voertuig teen die agterkant van een van die voertuie in die trompop botsing vasgery, waarna die brand ontstaan het,” het Meiring gesê.

Meiring het gesê buiten die oorledene is vyf ander pasiënte op die toneel behandel waarvan een in ‘n kritieke toestand was. ER24 het drie pasiënte na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Die Johannesburgse nooddienste het twee pasiënte vervoer. Volgens Mulaudzi het die ander pasiënte geringe tot matige beserings opgedoen.

Die ongeluk word ondersoek.

Kapt. Balan Muthan, polisiewoordvoerder, het die ongeluk bevestig.

Foto: Twitter via @PigSpotter

Foto: Twitter via @PigSpotter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Herman ·

Vrou brand dood na botsing – so tragies!!!
Wil net graag weet of die “gewone” Noodvoertuig nie toegerus was met Brandblussers nie? Al was dit n Reddingsvoertuig moes daar ten minste Brandblussers op gewees het – ten minste in my tyd, maar seker nie meer nie! Stel verdere ondersoek in !

Anna ·

die ongeluk het omstreeks 6:00 plaasgevind en nie 8:00 nie. Ek stem saam dat die noodvoertuig seer sekerlik ‘n brandblusser moes gehad het. Ek sou dink dat dit baie nalatig is van Johannesburg se nooddienste. Hoe laat het die voertuig daar opgedaag? Wel dit is nou te laat om dit te verander. Sterkte aan haar familie en die beseerdes.

pieter ·

het dit al gese maar se dit weer dis nie net ford wat brand nie

Hennie ·

Ai Pieter, in teënstelling met die Fords was hierdie voertuig in n botsing!!

Rieks ·

Die swart voertuig op die foto is was reg agter die voertuie gewees wat in die botsing was. Hierdie persoon werk saam met my en was so amper een van my kollegas wat betrokke was. Hierdie ongeluk het GLAD nie 8 uur plaas gevind nie, maar wel tussen 6 & 6:30. Ek myself was op die kruising en het vir ure gesit om uit die ophoping van verkeer uit te kom. Hy het die nood dienste geskakel – dit is bitter hartseer vir almal betrokke en ek verstaan dat beelde gepoets moet bly vir die nooddienste, maar mense verloor hul lewens aangesien ons staatsdepartemente nie instandhouding doen nie – en ek dink ook nie vanoggend GELUISTER het toe die oproep deur gekom het nie!
@ Pieter – om te spot oor die maak van die voertuig wat betrokke is in die brand is in slegte smaak veral omdat iemand se lewe kort gesny was vanoggend. Vanaand het ‘n gesin nie ‘n moeder nie en ‘n man nie sy vrou nie… :-(

Landi Slatter ·

Dagsê Rieks

Baie dankie vir jou terugvoer. Hierdie is die inligting soos van die nooddienste ontvang, ons wysig egter graag die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

pieter ·

EK BEDOEL NIE MENSE NIE MAAR KYK HOEVEEL VOERTUIE SLAAN AAN DIE BRAND

Jack Russl ·

Daar is ‘n baie groot verskil tussen die Ford Kuga’s wat brand en hierdie berig. Die gevalle kan nie vergelyk word nie, so weet nie eers hoekom jy dit weer se nie.

Die Kuga’s brand omdat daar een of ander fout is met die voertuig. In hierdie geval het die ongelug die brand veroorsaak.

Aster ·

Daar was ‘n brandweerwa wat net na 06h30 verby die string karre, wat van Robert Broom moes wag om of op Jim Fouché te kom of reguit moes aanhou met Christiaan de Wet, gery het. Ek myself het in die verkeer gesit vanoggend en self gesien hoe die ambulans etlike minute later deur ‘n brandweerwa gevolg was, as ‘n brandweerwa na ‘n toneel ontbied word, hoe is daar nie water nie tot hulle beskikking nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.