[Foto’s] Vrystaat verheug oor reën, maar…

Hael naby Tweeling. Foto: David Gerber via Twitter.

Hael naby Tweeling. Foto: David Gerber via Twitter.

Die hemel het sy sluise die afgelope twee dae oor die dorre Vrystaat oopgemaak en skouspelagtige tonele veroorsaak met hael wat in sommige gebiede geval het.

Sommige gebiede het baie reën gekry met Tweeling in die Vrystaat wat volgens Vrystaat Landbou die afgelope twee dae 68 mm gekry het. Die organisasie het foto’s van David Gerber gedeel van hael wat spierwit lê op die grondpaaie in die Tweeling-omgewing.

Coert van Coller het foto’s op sy Facebook-blad gelaai van swaar hael op die Steynsruspad vanaf Kroonstad in die Vrystaat. Die DA se Moqhaka-munisipaliteit in die Vrystaat het Donderdagmiddag ook ʼn video op sy blad geplaas wat wys hoe daar strome water tussen Kroonstad en Steynsrus vloei met die byskrif “Every drop helps”.

Barkly-Wes in die Noord-Kaap het Woensdagnag ook hael gekry maar volgens ʼn inwoner, Manda Botes, op die Facebook-groep, Reënval in SA, het dit slegs 4 mm gereën.

Die reënmeters by die weerkantoor in Bloemfontein het ʼn lesing van 20 mm gehad met nog reën wat vir Donderdag in die Rosestad voorspel is.

Tobie Rossouw, senior weersvoorspeller van die weerkantoor in Bloemfontein, het aan Maroela Media gesê hoewel sosiale media nou aan die gons is oor die baie reën in die Vrystaat, mense nie nou al moet dink die droogte kom tot ʼn einde nie. “Ons moet onthou dit reën plek-plek. Op een plek in Bloemfontein het ons 5 mm gemeet, op ʼn ander 20 mm,” het Rossouw gesê.

“Ons het nou ons eerste lentereën ervaar, dit sal die veldtoestande help maar om enigsins afloop in damme te kry moet jy in ʼn maand se tyd 100 mm of meer reën kry. Die reën is as gevolg van ʼn afsnylaag wat tipies is van ʼn oorgangseisoen. Hierdie was die eerste een wat ons ervaar het, maar daar kan tot soveel as vyf per seisoen wees”.

Volgens Rossouw gaan die reënweer na die naweek se kant toe opklaar en word daar geen reën vir die Vrystaat vir volgende week voorspel nie.

“Die ouer en gevestigde boere het altyd gesê as ons goeie reën kry voor die 20ste gaan dit ʼn slegte seisoen wees, en ek stem nogal met hulle saam. Ons is regtig positief oor die reënseisoen wat voorlê, al die langtermyn-voorspellingsmodelle dui daarop dat die weerdiens bogemiddelde reënval in die somer reënvalgebiede tydens November, Desember en Januarie verwag. Selfs al is dit net normale reënval sal dit reeds ʼn reuse-verskil maak. Die toestande wat ons verlede seisoen ervaar het, was regtig abnormaal.”

Rossouw het gesê dat hy vier jaar terug al die munisipaliteite in die Vrystaat gewaarsku het dat daar erge droogte op pad is en dat hulle hul boorgate moet nagaan en toets of die water veilig is vir mense om te drink en waterlekke herstel. “Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie. In Desember moes mense bottels en bottels water aanry.”

Hy het gesê die media het al berig dat dit drie tot vier jaar sal neem vir die veld om te herstel van die droogte, maar die droogte kan letterlik in ʼn kwessie van weke tot ʼn einde kom as jy opvolgreën van 100 tot 200 mm kry en al die damme, wat tans baie leeg is, weer vol loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lida Hamman ·

Hulle is seker verheug oor dir reën…nie verjeug nie. Vingerfout?

Landi Slatter ·

Dagsê Lida,

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die fout, ons het dit byna onmiddellik gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

John ·

Nie man, ‘n boer word 30 jaar jonger as sy lorrie so gly-gly oor die plaaspad se modderwater dorptoe ry.

hoe nou ·

Dit is die beste nuus in ‘n langtyd. Hoop dit reen nog baie waar dit so droog is en dat die damme kan vol word

Louis ·

Dis wat ek ook se!Wees dankbaar vir die reen en vergeet van die maars.Dit kon niks gereen het nie.

Johann Smith ·

Daar is landswyd gevra dat ons ons tot die Lewendige God moet nader en bid vir reën. Ons het in geloof ons hoop op Hom gevestig en Hy het geluister.Alle eer aan die Lewendige God. Halleluja!!! Amen!!!

Dankbaar ·

Dankbaar dat die Almagtige Vader ons gebede verhoor het en ons aarde verkwik het met die lewendige water.

Paul ·

Ons se dankie vir die Here vir die reen, kom ons bid nou vir Geestelike reen want dis baie droog in die kerke wereld.

E VvZ ·

95 % van ‘n boer se probleme is oplosbaar in reënwater……………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.