Foto’s: Vyf sterf in Rustenburg-ongeluk

Foto: ER24

Vyf persone is Vrydagaand dood tydens ʼn botsing tussen ʼn bakkie en ʼn BMW op die N4 in Rustenburg.

“Paramedici is omstreeks 23:00 na die toneel ontbied,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê. “Die BMW is in stukke geskeur. Die bakkie is ʼn paar meter verder aangetref.”

Volgens Vermaak het vermoedelik ses persone in die BMW gery. “Twee vroue en drie mans het aan hul beserings beswyk nog voor paramedici by die toneel opgedaag het. Hulle is op die toneel dood verklaar.”

ʼn 23-jarige man het geringe tot matige beserings opgedoen. “Hy het aan paramedici gesê hy het voor in die BMW gesit. Paramedici het die man ondersoek, maar hy wou nie na ʼn hospitaal toe gaan nie.”

Die bestuurder van die bakkie is behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

“Die omstandighede rondom die ongeluk is nog nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Freud ·

“Paramedici is onder soek maar hy wou nie na die hospitaal gaan nie”
Huh???? Wat sê ons nou hier vir mekaar?

Sune van Heerden ·

Dagsê Freud

Ons vra om verskoning vir die fout wat ingesluip het.
Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Wonder ·

Ek verstaan nie mooi ie. Op die fotos sien ek n wit BMW en n swart BMW. Waar is die bakkie?

HFC ·

Die wit een is die bakkie want jy kan sy plat gestampte bullbar sien.

Philip. ·

Laat toets jou ogies, die wit voertuig is ‘n bakkie, het jy al ‘n BMW met ‘n nudge bar gesien?

Verkeerd? ·

Ek sien ‘n ‘bull bar’ voor op die wit wrak. Ook sien ek ‘n ventilasiegat op die enjinkap wat gewoonlik aangebring word op ‘n warmgemaakte voertuig. Die res kan ek maar net raai hoe twee voertuie op ‘n snelweg kan bots wat in dieselfde rigting ‘voortsnel’. Die oorlewendes behoort te weet wat gebeur het . . .

HFC ·

Baie vd Toyota bakkies het standaard met die ventilasiegate uitgekom.

Sam ·

Volgens Vermaak het 6 persone in die BMW gery. Twee vroue en drie mans.. Dis mos dan 5 nie 6 nie…

Karin ·

Nee….dit sê 2 vroue en 3 mans het aan hulle beserings beswyk… die ander persoon is die 23jarige wat nie hospitaal toe wou gaan nie…. dus 6 mense.

Chrisjan ·

Ek wonder of die BMW nie gelas was waar hy so in twee gebreek het nie.Dis algemene praktyk om van twee heel helftes een heel voertuig te bou.Veral as ek die minder skade aan die bakkie bekyk en bakkies is nie “harder” as motors nie al dink baie mense so.Hulle is net hoog.

Peet Schabort ·

By motors vorm die totale voertuig, d.w.s. die onderstel en bakwerk (soos deurpilare, dak en voor- en agterkante) ‘n geheel vir die struktuurversterking. In engels staan dit bekend as ‘monocoque’ en in afrikaans is dit ‘skulpbou/skulpromp. Die voordeel is ‘n voertuig wat veel ligter is as vroeër jare (ek skat so 1970’s en terug) met ek reken die VW-kewer as ‘n uitsondering alreeds gebou soos ‘n skulp. By bakkies oor die algemeen is die vraggedeelte se bak geskei van die res van die voertuig en ontbreek ook die dakgedeelte. Daarom is die onderstel heelwat sterker gebou as by motors om ook ‘n vrag te kan dra meer as by motors. Met ‘n vrag is daar dus voorsiening gemaak vir beweging tussen die kajuit en die vraggedeelte alhoewel minimaal. ‘n Uitsondering waar die vraggedeelte deel is van die kajuit is byv. die kleiner Nissan- en Opel bakkies. Jy soek dus vir moeilikheid om die struktuur (soos die dak) van ‘n motor te verander wat ook teen die wet is. Dit kan slegs gedoen word met uiterste kundigheid. Hou dus jou hande en ystersaag weg van sulke pogings.

Peet ·

Ek kan net byvoeg dat dit dus belangrik is om by ‘n motor seker te maak van die plekke om ‘n domkrag te gebruik. Daar is op die kante en onderkant die deure ‘n gedeelte wat soos ‘n pyp lyk vir die bakwerk se versterking. Sou jy verkeerd te werk gaan kan jy afgesien van duike ook daardie kante só beskadig dat deure se onderkante vashaak. Definitief iets om na op te let wanneer jy ‘n gebruikte voertuig wil aanskaf.

Chrisjan ·

Ek was jare gelede met ‘n Mazda 323 fwd in ‘n botsing met ‘n Mazda Magnum d/c bakkie betrokke.My karretjie het hom skuins van voor teen sy regter voorwiel getref en was afgeskryf.Die bakkie kon wel herstel word maar het meer skade gehad as wat ‘n nuwe 323 daai jare gekos het.Tot sy “chassis” was gebuig!Harde bakkie?My alie!Ek ry nou self ‘n 16 jaar oue Isuzu d/c en sy bakwerk is maar sag.Waarvan ek baie hou is sy groot wiele en rit hoogte vir ons slaggat besaaide paaie.Hy het darem stewige staal “trappies” aan die kante wat die deur oopgooiers in ‘n parkeer area laat tweede kom want hul voertuig se deur stop dood teen die soliede trappie amper 3cm my voertuig se deur af!
Sover dit die’ ongeluk betref vermoed ek daar was ‘n u draai gemaak want dit wil voorkom of die BMW teen ‘n spoed getref was en waarskynlik teen sy regter kant maar meer agtertoe.Die 4 wat agter gesit het sou nie ‘n kans op oorlewing gestaan het nie.Dit lyk ook asof die pad nat was.Tragies.

SjN ·

Volgens wet mag die swart BMW nie 6 persone vervoer nie, voeg spoed by en dan sien jy die resultate soos op die foto. Die een wat oorleef het kan mos vertel wat die oorsaak wasm

Violet ·

Lyk my party mense soek net die foute in n berig en gee nie om oor die feit dat daar mense dood is nie. Dankie Maroela Media dat julle vir ons nuus gee wat belangrik is.

Boesman ·

Soveel persone vir wie daar daar sitplekgordels is……….2 voor en 3 agter

Eddie ·

Daar is gereeld soort gelyke ongelukke by daai spesifieke plek want die mense maak u draaie op die snelweg en ek dink dit is wat die bmw gedoen het en die bakkie is in hulle vas

Riette ·

Soveel ongelukke op daardie pad want mense maak 4bane van die 2baan pad.

Magds ·

Is so waar Riette, te veel ongelukke in ons Stad. Mense ken nie hulle pad reëls nie en net soos hulle wil. Spoed is ook die oorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.