Foto’s: Wapens, dagga by huis in Centurion gekry

Die waarnemende minister van polisie, Aaron Motsoaledi, met van die wapens wat by die huis gevind is. (Foto: SA Polisie)

Die polisie, onder leiding van polisiehoof John Sitole en die waarnemende minister van polisie, Aaron Motsoaledi, het toegeslaan op ʼn huis in Gemsbokstraat in Wierdapark, Centurion, en beslag gelê op tientalle wapens. Hulle het ook ʼn dagga-kweekhuis ontdek.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê lede van die polisie se honde-eenhede in Soshanguve en Pretoria het die perseel gistermiddag ná ʼn wenk deursoek en die dagga-kweekhuis in die huis, asook vuurwapens, gevind.

“Hulle het die soektog van die perseel vergroot en afgekom op wat blyk versteekte kamers ín die huis en aan die agterkant van die huis te wees. Die vertrekke het verskeie vuurwapens, ook gewere soos AK 47’s, handwapens (pistole en rewolwers), ʼn mortierlanseerder, kruisboë, bokse met ammunisie en ʼn verskeidenheid ander items wat moontlik onwettig is, bevat,” het Naidoo gesê.

Nog polisielede, lede van misdaadintelligensie, die Valke, forensiese kenners en misdaadtoneelondersoekers is na die perseel ontbied. Hulle het die eiendom tot laat Dinsdagaand gefynkam en het die proses Woensdagoggend voortgesit.

“Elke item word individueel ontleed en alle items wat inkriminerend kan wees, word gekonfiskeer en as bewysstukke verpak,” het Naidoo gesê.

Die eienaar van die huis is ʼn 50-jarige man wat beweer dat hy ʼn handelaar en versamelaar is.

Naidoo het gesê die aanvanklike ondersoek dui egter op die teendeel. Sommige van die vuurwapens wat as versamelaarstukke gedeaktiveer moes wees, was byvoorbeeld nié gedeaktiveer nie.

Naidoo het gesê die polisie sal oorweeg om al die vuurwapenlisensies terug te trek, sou die man aan enige oortredings skuldig bevind word. Sy handelaarslisensie is ook voorlopig opgeskort.

“Alle lewendige wapens sal ballisties getoets word om te bepaal of dit in die uitvoering van enige ander misdade gebruik is.”

Die huiseienaar is in hegtenis geneem ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer en die Wet op Dwelms en Dwelmhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

KrokodilBotha ·

Wat n kombinasie. Lyk soos n versameling antieke roere

Michael P ·

Hoe kan Aaron minister van polisie wees as hy nou die dag nog minister van gesondheid was Dit is mos nou kader kyk na kader

Adri ·

Die “lewendige ammunisie” behoort vir ‘n goeie vertoning te sorg! Ek sou egter verkies om dit van ver af te aanskou.

Linda J ·

Ag hoe lekker lag ek nou!!! Hy moet net pasop of daai wapen gaan ook af, hulle weet mos nie hoe om ‘n vuurwapen te hanteer nie. So, nou weet ek ook hoe ‘n dagga plant lyk, ek is seker maar dom as dit by die goed kom. old school, ek. Dalk het ek al baie dagga plante gesien, maar nooit geweet dit is hoe dit lyk nie, maar nou weet ek hoe lyk dit.

Andre ·

Is die vier belangrike persone die ondersoekbeamptes in die saak ?
Indien nie wat soek hulle daar.

Hanlie ·

Nou wat weet ou Aaron van vuurwapens en dagga af, as hy nie weet hoe pille werk nie!!! Belaglik verby!!!

Johan ·

Ek verbeel my hierdie is die tweede soortgelyke voorval in Centurion. Die feite stem redelik goed ooreen met die vorige voorval sowat twee of drie jaar gelede. Is dit dalk dieselfde persoon? Wat het van die vorige saak geword? Weet MM dalk van die vorige saak?

m ·

Is dit van die vuurwapens wat die polisie moes vernietig?

Nice one, so die polisie vat die gewere van een dief af om weer vir ‘n ander te gee?

Johan ·

Minister – ek hoop daardie wapens is reeds vir vingerafdrukke geneem anders vernietig jy mos nou bewyse wat in die hof gebruik kon word?

Bobby ·

Weet iemand dalk presies hoeveel dagga n verbruiker nou tuis kan groei vir persoonlike gebruik ? Ek lees elke dag meer en meer van n paar ???? wat nuus maak en wat nou ?

Chris ·

Ai. Die staat dekriminaliseer die besit van dagga vir recreational purposes en gee geen kwota wat jy vir jouself mag aanplant nie maar in dieselfde asem sit die arme ou met n dwelm laboratorium. Ons regstelsel is n joke. Ek is seker die man se vuurwapens is gelisensieer. Waarom het die SAP nie eers n inqeust gedoen voordat hulle TV toe gehardloop het met die aangeleentheid nie. Wys asb die plaasaanvallers ook vir ons op TV sowel as die toneel met die vermikte boere en die wapens wat die plaasaanvallers gebruik waarmee hulle gemoor en gemartel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.