[Foto’s] Wêreld se eerste in vitro-buffelkalf in Limpopo gebore

Pumelelo, die eerste buffelkalf ooit wat met behulp van in vitro-bevrugting voortgebring is. Foto: Reint Dykema

Pumelelo, die eerste buffelkalf ooit wat met behulp van in vitro-bevrugting voortgebring is. Foto: Reint Dykema

Pumelelo, die eerste buffelkalf nóg wat met behulp van in vitro-bevrugting voortgebring is, is Donderdag op die Lekkerleef Buffalo Ranch naby Marble Hall in Limpopo bekendgestel.

Die geassisteerde reproduktiewe tegnologie wat gebruik is om die kalf voort te bring, is deur Embryo Plus van Brits in Noordwes, ʼn wêreldleier in die embriobedryf, ontwikkel. Die Embryo Plus-span onder leiding van dr. Morné de la Rey (BVSc) is besig om prosedures te ontwikkel wat gebruik kan word om bedreigde wildspesies van uitwissing te red.

In ʼn proses soortgelyk aan dié waardeur ʼn ovum verkry word van ʼn vrou wat in vitro-bevrugting (IVB) ondergaan, is die eierselle van ʼn buffelkoei versamel deur middel van ʼn tegniek genaamd ovum-opvangs. Dit is gedoen terwyl die buffelkoei ten volle onder narkose was. Die eierselle is ryp gemaak en in vitro bevrug met bevrore buffelsemen wat ontdooi is, en daarna in ʼn laboratorium-broeikas laat groei is deur middel van ʼn proses genaamd in vitro-produksie (IVP).

Pumelelo by sy surrogaat-ma. Foto: Reint Dykema

Pumelelo by sy surrogaat-ma. Foto: Reint Dykema

Ná ʼn groeiproses van sewe dae is die embrio in ʼn surrogaat-buffelkoei oorgeplaas wat die fetus vir 11 maande, die volle dra-termyn, gedra het. Sy het op 28 Junie geboorte gegee aan ʼn ten volle ontwikkelde, gesonde buffelkalfie. DNS-monsters wat van die kalfie geneem is, het bevestig dat die koei en bul wat in die IVB/IVP-proses gebruik is, wel die ouers van die kalfie is.

Volgens De la Rey is die gebruik van geassisteerde reproduktiewe tegnieke in wildbestuur nog in sy kinderskoene, maar word dit al hoe meer ʼn werklikheid. “Hierdie sukses is besonder belangrik vir die teel van bedreigde spesies in die toekoms en dit is die rede waarom ons hierdie werk aanpak,” het hy gesê.

Hy het gesê voordat die proses begin is, was dit noodsaaklik om eers omvattende navorsing te doen oor hoe om die eierselle te laat ryp word en te bevrug, en hoe om die embrio’s tot ʼn gevorderde ontwikkelingstadium te inkubeer, aangesien elke spesie se vereistes vir groei verskil en elke spesie ook verskillende voedingstowwe nodig het tydens die laboratoriumfase van die grootliks onbekende roete vir IVB/IVP in Afrika-wildspesies.

Die buffels wat vir hierdie prosedure gebruik is, is deel van ʼn trop op die plaas van Frans Stapelberg. Volgens De la Rey is hierdie plaas gekies deels omdat daar intensief met die diere gewerk word en die buffels gekondisioneer is om roetine veeartsenykundige prosedures toe te laat sonder dat narkose daarvoor nodig is.

Dr. Morné de la Rey. Foto: Reint Dykema

Dr. Morné de la Rey. Foto: Reint Dykema

De la Rey se werk word beskou as die eerste tree in ʼn internasionale gesamentlike poging om bedreigde wildspesies soos die noordelike witrenoster te red. Daar is slegs drie noordelike witrenosters wêreldwyd oor – ʼn renosterbul genaamd Sudan, en sy twee renosterkoeie, Najin en Fatu. Hulle word aangehou in die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia. Die laaste noordelike witrenoster in die VSA het in 2015 in die San Diego Zoo Safari Park gevrek.

Volgens De la Rey is elke sukses wat met geassisteerde reproduktiewe tegnologie in wilde diere behaal word, ʼn tree nader om die reproduktiewe vereistes vir ander wildspesies te begryp. “Die eerste stappe wat vir wildbewaring gedoen moet word, sal altyd habitatbeskerming wees, gevolg deur die beskerming van die diere self. Benewens hierdie basiese stappe bestaan daar egter ʼn werklike behoefte aan verbeterde teelpraktyke om ʼn toename in die getalle van hierdie bedreigde spesies te verseker.”

De la Rey het voorheen wêreldwyd erkenning verwerf vir sy betrokkenheid by die kloning van die eerste dier op die Afrika-vasteland, ʼn gesonde Holstein-verskalf genaamd Futhi wat in April 2003 by die Embryo Plus Embrio- en KI-sentrum by Brits gebore is. Geen semen of bul was by die ontstaan van hierdie kalf betrokke nie. Futhi het ontwikkel uit ʼn enkele sel wat deur middel van ʼn biopsie uit die oor van ʼn skenkerkoei geneem is. Die sel is daarna in ʼn leë koei-eiersel geplaas, wat later in ʼn ontvangerkoei ingeplant is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wiebo ·

Alles goed en wel. Dit is wonderlik, maar moet die kalfie nou so n naam gekry het??? Waar gaan die land heen??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.