Foto’s: Wêrelddag teen marteling; brutaliteit van plaasmoorde uitgebeeld

Martin Coetzee (82) wat op sy plaas gemartel is toe besetters hom aangeval het. Hy was daar om sy storie te vertel. Foto: AfriForum

Martin Coetzee (82) wat op sy plaas gemartel is toe besetters hom aangeval het. Hy was daar om sy storie te vertel. Foto: AfriForum

‘n Video volg onderaan die berig.

AfriForum het vandag ’n verslag, waarin die brutaliteit van plaasmoorde uitgebeeld word, bekendgestel. Die Internasionale Rehabilitasieraad vir die Slagoffers van Marteling het ook reeds aan die burgerregte-organisasie onderneem om die verslag te bestudeer. Die verslag is juis vandag vrygestel omdat dit deur die Verenigde Nasies verklaar is tot Internasionale Dag ter ondersteuning van Martelingslagoffers.

Die Raad is in Denemarke gesetel en by die Verenigde Nasies geaffilieer. Dit is ’n sambreelorganisasie wat uit 144 onafhanklike rehabilitasieliggame in meer as 70 lande bestaan.

Die verslag beslaan meer as 30 bladsye en is met die hulp van Lorraine Claasen, ’n kriminoloog wat in plaasmoorde spesialiseer, saamgestel. Dit bevat ’n reeks gevallestudies waarin die wreedheid van marteling tydens plaasmoorde uitgebeeld word.

Die verslag is saam met ’n petisielys vir die prioritisering van plaasmoorde wat uit meer as 60 000 name bestaan, in hardekopie by die nuutaangestelde minister van polisie se kantoor ingedien.

AfriForum is goed ontvang, en ʼn woordvoerder in die minister se kantoor het aangedui dat die minister die verslag sal bestudeer en dat hulle ʼn opvolgvergadering met die minister sal skeduleer vir toekomstige samewerking met AfriForum asook om ʼn moontlike teenstrategie te bewerkstellig.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hierdie aksie ’n voortsetting van die organisasie se uitgebreide veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde is. “Plaasmoorde is buitengewoon wreed,” het hy gesê. “Ten spyte daarvan is die regering grootliks in ontkenning oor die ware omvang van die probleem. Die president het verlede week gesê dat die landbougemeenskap in die jare wat voorlê een miljoen werksgeleenthede moet skep, maar ignoreer die feit dat daardie einste werkskeppers gemartel en vermoor word.”

Slagoffers van plaasaanvalle – waarvan sommige self gemartel is – was teenwoordig met die bekendstelling van die verslag.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lisa ·

Baie baie dankie AfriForum!! Julle maak ons trotse Afrikaanse sprekende mense! Ons staan 100% agter julle!! Mag die Here ons land en sy mense seën en beskerm tot in ewigheid. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.