[Foto’s] Wes-Kaapse brande woed voort

Die Augusta-herehuis op Kleinbosch in ligte laaie. Foto: Justin Sullivan/Sullivan Photography

Die Augusta-herehuis op Kleinbosch in ligte laaie. Foto: Justin Sullivan/Sullivan Photography

Verskeie spanne brandbestryders het hul hande vol met twee verwoestende wegholveldbrande wat die Wes-Kaap teister en reeds duisende hektaar plantlewe verwoes en miljoene rande se skade aangerig het.

Lauren Howard, woordvoerder van Working on Fire in die Wes-Kaap, het Dinsdag aan Maroela Media gesê nagenoeg 160 brandbestryders en minstens vyf helikopters word ingespan om ʼn wegholbrand in die Paarl te bestry.

Die brand het Maandag omstreeks 23:00 naby die Du Toitskloof-pas ontstaan en het reeds ʼn pad van verwoesting gesaai. Sommige wynplase en die Augusta Kleine Bosch-herehuis op Kleinbosch het in die slag gebly. Na wat verneem word, is twee mense ook na ʼn hospitaal geneem vir behandeling vir rookinaseming.

Justin Lawrence, woordvoerder van CapeNature, het gesê brandbestryders het teen Dinsdagmiddag in die Du Toitskloof-berge gespook om te verhoed dat die brand na Wellington versprei.

Sterk winde blaas die vuur aan wat oornag reeds 650 ha plantegroei verwoes het.

“Die wind is baie, baie sterk, wat dit ʼn groot uitdaging maak,” het Lawrence gesê.

Lawrence het gesê die Kaap-Wynland-distrik se brandweer, Drakenstein-reddingsdienste en Working on Fire bestry die brand wat in die rigting van Perdeskoen beweeg. Volgens Howard is die brand nog buite beheer.

Intussen woed die veldbrand in die Helderberg-omgewing bo Somerset-Wes steeds na agt dae. Die brand het reeds omtrent die helfte van die historiese Vergelegen-plaas verwoes en die Bezweni-lodge in puin gelê.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit by die Kaapstadse munisipaliteit, het gesê minstens R54 miljoen se skade is reeds aangerig.

Howard het gesê nagenoeg 10 000 ha plantegroei is sover verwoes.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die Somerset-Wes-omgewing Maandag besoek. Hy het met rolspelers en provinsiale rampsbestuurspanne vergader.

Hy het gesê dit is duidelik dat die verskeie brandbestrydingspanne ʼn ver pad geloop en hard gewerk het om tot dusver lewens en eiendom te beskerm. Van Rooyen het al die rolspelers bedank.

Howard het gesê die oorsake van die brande word nog ondersoek. Daar word egter wyd bespiegel dat brandstigting vermoed word.

Van Rooyen het tydens sy besoek gesê aangesien die meeste van die brande deur mense veroorsaak word, is dit belangrik dat strenger strawwe opgelê word aan diegene wat skuldig bevind word aan hierdie misdrywe.

Die onderstaande foto’s is deur Justin Sullivan van Sullivan Photography geneem en word met sy vergunning gepubliseer. Besoek sy Facebook-blad en webtuiste.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jaco ·

Dis n ou ding dié maar daars nie bewyse nie: die storie loop ‘n paar jaar al dat arm mense wat ingeskakel is by Working on Fire self die brande stig. Dan is daar mos brande en dan kry hulle geld om dit te help blus.

Lise ·

@jaco, ja, daar is sulke bewerings, maar om dit te bewys is ‘n ander storie. Hierdie brandstigters val vir my in dieselfde kategorie as die renosterhoring stropers. Hulle voel vere vir die natuur of mense se eiendom. Dit gaan alles net oor geld. En Januarie is mos hoeka ‘n laaaang maand. Hoe groter en langer die brande aanhou, hoe meer is die pay.

Johann ·

Ek sien elders, die huis waarin Totius grootgeword het, is ook verwoes.

Josef du Toit ·

Enige nuus van die Hugenote Gedenkskool vlak by die Kleinbosch-opstal? Groot skade as die eerste Afrikaanse Skool ook in die brand vernietig is.

Josef du Toit ·

Volgens nuus24 is die Hugenote Gedenkskool, Hugenote Begraafplaas en Malherbe-huis, ongedeert. Lees meer oor hierdie gedenkwaardighede by http://www.kleinbosch.de/pages/monuments
Helaas verwys nuus24 na die afgebrande historiese opstal as gebou in AD1872, maar by begenoemde skakel word die meer waarskynlike korrekte datum gegee as AD1792, presies ‘n eeu na die plaas toegeken is aan die Du Toit stamvader. ‘n Hartseer verlies.

zoom zoom ·

Hoekom kry ek die gevoel dat daar ‘n politieke party ook dalk ‘n aandeel aan die brand het of dalk ‘n sekere vakbond. Wonder maar net

Waarheid ·

Gister is ons perd ry plaas toe vir die kinders se lesse en ek was geskok om te sien hoe die vrouens wat in die wingerde werk rook terwyl hulle werk. Dit is klein goedjies soos dit wat ook baie skade kan aanrig, net een sigaret wat gelos word of nie behoorlik dood getrap word nie en die plante is reeds so droog dat dit maklik ‘n brand kan veroorsaak – Stellenbosch.

Henriette ·

Ons kan net bid vir reën in daardie gebiede om die brande te blus. Ek bid ook vir die mense wat help om brande te blus. Dis groot verantwoordelikheid en julle is baie spesiaal.

Johann ·

Afrikaanse nuus berig nie eens vanaand oor die Afrikaanse erfenis wat afgebrand het nie (die een is die huis waarin Totius groodgeword het), maar hulle berig oor die ander.

Johann ·

En natuurlik het hulle gewys hoe hulle met van die ander plase se werkers onderhoud voer.

Penellope Jones ·

Mens voel bitter ongemaklik oor hierdie brande.
Dit voel net te toevallig dat die brande oral net te gelyk gebeur het.

Louis ·

Ek glo sterk brandstigting speel n rol in die brande maar hoe bewys jy dit, die E F F het juis mos genoem hulle sal die plase afbrand indien die boere nie gehoor gee nie

John ·

Pragtige kultuurerfenisse is daarmee heen. Maar mense voel vere vir dit waarvoor hulle nie gewerk het nie. Die Engelse het destyds ook boerewonings en landerye aan die brand gesteek en die dieperliggende aard van hul persoonlikhede openbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.