[Foto’s] Wes-Kaapse taxistaking raak gewelddadig

ʼn Bus wat op die N2 is naby die R300-afrit in Delft, Kaapstad tydens ʼn taxistaking aan die brand gesteek is (18 September 2017). Foto: African News Agency

Klippe, rubberkoeëls en traangas het Maandag op verskillende plekke in Kaapstad deur die lug gevlieg nadat ʼn beplande taxistaking gewelddadig geraak het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê by Dunoon in die Milnerton-gebied is busse en lede van die polisie se openbareorde-eenheid met klippe bestook waarna beamptes rubberkoeëls en traangas gebruik het om die betogers uitmekaar te jaag.

By Fisantekraal, noordoos van Durbanville, het betogers ook klippe na polisie- en verkeersbeamptes geslinger. Polisiebeamptes is steeds daar op die toneel. Op die N2 by Borchards Quarry naby Nyanga is busse met klippe gegooi en polisiebeamptes is na die toneel ontplooi.

Volgens Van Wyk het betogers vroeër vanoggend die N1 by Joostenbergvlakte in Kraaifontein versper met bande wat aan die brand gesteek is, maar dit is intussen verwyder en die pad weer heropen.

ʼn Bus wat op die N2 is naby die R300-afrit in Delft, Kaapstad tydens ʼn taxistaking aan die brand gesteek is (18 September 2017). Foto: African News Agency

In Delft is busse ook met klippe bestook en een bus is aan die brand gesteek. Verkeersbeamptes en brandbestryders is na die toneel ontplooi, maar die omvang van die skade kon nog nie vasgestel word nie. Geen beserings is aangemeld nie, het Van Wyk gesê.

African News Agency berig die N2 is naby die R300-afrit gesluit nadat die bus aan die brand gesteek is, maar die pad is net voor 12:00 weer oopgestel.

Intussen is verskeie van die MyCiti-busdiens se roetes herlei of dienste vertraag weens die protesaksie. Die busdiens het Maandag pendelaars deur middel van sy sosialemedia-platforms van die skedule- en roeteveranderinge in kennis gestel.

Van Wyk het gesê polisiebeamptes en ander wetstoepassers monitor al die gebiede waar protesaksies voorkom en is besig om gewelddadige situasies te ontlont.

Bewerings op sosiale media dat lede van die publiek tydens die protesaksies beseer is, kon nie onmiddellik deur die polisie bevestig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Hou darem Uber, want mens kan op hul reken.
O ja en dis niks nuuts om te lees dat taxidrywers krimineel optree nie. As jy ‘n klip na ‘n polisieman gooi, moet jy moes nou weet jy stertvere gaan waai. Hul het ‘n totaal en al verwronge beeld in hul kop oor wie hul is en wat hul mag doen en wie ‘n geregsdienaar is. Geen respek vir hul nie. Sal eerder loop as van hul kamstige “diens” gebruik maak. Laat die Taxi Association al die skade dek. En dring aan op skorsing tot ad infinitum van elke drywer wat hom skuldig maak aan hierdie soort uittartende, platvloerse gedrag.

Asjas ·

Waaroor staak hulle nou alweer? Drie woorde of minder asseblief?

Jan ·

Daar sal niks vandaan kom nie. Maak nie saak wie wat sê nie.

Jan ·

Suid Afrika was en is so mooi land, maar als gaan deesdae in vlamme op. Het die mense al gesien hoe lyk dit bo in Afrika. Daar is niks

Kiepie ·

Die verslaggewer kon hierdie berig al gister geskryf het. Niemand behoort verras te wees dat die staking geweldadig geraak het en eiendom beskadig/vernietig is in die proses nie.

Penellope Jones ·

Soos altyd.
Die mense wat so tekere gaan in die strate hou skynbaar nie van orde en dissipline ens nie.
Dit lyk asof hulle chaos, vlamme, klippe in die paaie en strate ens. verkies.

Vermeende ·

Dit kom voor of die DA sy grip begin verloor in die WK.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.