[Foto’s] WhatsApp-groep help boere om groep boewe aan te keer

Drie van die verdagtes wat aangekeer is. Foto: Verskaf

Drie van die verdagtes wat aangekeer is. Foto: Verskaf

Etlike boere in die Schweizer-Reneke-gebied in Noordwes het Woensdag saamgestaan en die lewe vir ses verdagtes bitter moeilik gemaak en dit alles te danke aan ʼn WhatsApp-groep wat ʼn 20-jarige boer twee jaar gelede begin het.

Jacques Jordaan, stigter en administrateur van die WhatsApp-groep Boerehulp, het die groep aanvanklik gestig om ses van sy direkte bure te verbind en sodoende mekaar oor veldbrande en plaasaanvalle te kan waarsku. Die groep het egter so doeltreffend en gewild geraak dat inligting daarop tans sowat 400 mense in die streek bereik. Die groep word ook met soortgelyke groepe verbind en die lede bestaan hoofsaaklik uit boere en belangrike rolspelers soos die lede van veiligheidsdienste en die polisie.

Van die boere wat reageer het. Foto: Facebook

Van die boere wat reageer het. Foto: Facebook

Jordaan het Donderdag aan Maroela Media gesê die hele gebied se boere is omstreeks 16:00 gemobiliseer nadat die kollegas van ʼn man wat by ʼn diamantonderneming werk, alarm gemaak het dat die man pas gekaap en van diamante beroof is. Volgens inligting wat Jordaan op die groep bekom het, is die man glo deur ses verdagtes van sy werkplek af agtervolg. ʼn Wit Audi het ‘n bakkie van die pad af gedruk en ʼn ongeluk veroorsaak. Die groep het daarna ʼn Wit Isuzu-bakkie bakkie gekaap en die verdagtes het saam in dié bakkie gevlug.

“ʼn Beskrywing van die gekaapte bakkie is op die groep gedeel, asook die rigting waarin die verdagtes gevlug het,” het Jordaan gesê. Die boere het vinnig daarop reageer en paaie na Migdol en Glaudina met hul voertuie versper en na die twee voertuie begin soek en dit is binne ‘n paar minute deur boere opgespoor en agtervolg.

“Ten minste twee voorvalle is aangemeld waar die verdagtes op boere geskiet het in hul poging om weg te kom.” Die verdagtes se bakkie het uiteindelik later in modder vasgesit en hulle besluit om te voet in ʼn mielieland in te vlug. Hulle was swaar gewapen en het onder meer van ʼn lang afstand met ʼn AK47’s op boere losgebrand, terwyl die boere die strop nouer om die verdagtes getrek het.

Die ses verdagtes is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem. Een van hulle is tydens die voorval gewond. Benewens die man wat gekaap is, is niemand anders ernstig beseer nie. Die slagoffer is na ʼn hospitaal geneem en is na wat verneem word reeds ontslaan.

Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Die ses verdagtes is almal onder swaar polisiebewaking na ʼn nabygeleë hospitaal geneem omdat hulle beserings opgedoen het in die ongeluk wat hulle veroorsaak het,” het Ramaloko gesê.

Sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word, sal die mans in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn op aanklagte van roof, poging tot moord, kaping en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Ramaloko het gesê die polisie het op drie vuurwapens, waaronder twee AK47’s, beslag gelê. Hy het gesê tien bokse met onder meer ongeslypte diamante ter waarde van miljoene rande is teruggekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

irene ·

Baie goeie ding wapp ons moet begin in dorpsgebiede ook sal baie help toe begin Meyerspark in Pta gaan buurtwag baie help

elize naude ·

ek is bevoorreg om in n land te woon wat nog nooit in n oorlog betrokke was nie…
as ek die berigte lees van wat in suid afrika aangaan… dan loop n yskoue straal deur my hele wese…
ons sal lewe ons sal sterwe… ons vir jou suid afrika… sing makliker as wat die werklikheid mens inhaal…

Francis ·

Baie goeie werk. Ons boere whatsapp groep werk net so goed en saam met die Polisie.

jennifer ·

So groep werk baie goed, ek wonder hoe lank voordat die regering( mag mens dit se?) die sein verswak, en internet te stadig word. Die nasionale “broadband ” wat die regering voorsien is ontoereikend, analoog tv gebruik te veel van die radiospektrum en benadeel die internetspoed. Hoe meer mense internet gebruik , hoe stadiger die internet, en hoe moeiliker om stelsels soos Whats Up te gebruik…….

SNEL ·

Jennifer, dan maak die boer weer n plan, hulle is baie goed daarmee.

Desiree ·

Baie geluk aan ‘n ieder en elk. Dit gebeur as mense saam staan.

Hannelize ·

Well done!! Ek dink meer plekke moet die roete begin gebruik. Dit is al hoe ons gaan oorleef.

Suzette ·

My seun wat in Rustenburg woon het ook n whatsupp groep in die buurt waar hulle woon. Die groep is redelik groot en die mense patrolleer om die beurt hulle buurt. So staan hulle saam teen die kriminele. Wie anders gaan ons beskerm. Geen diefwering of alarm hou die gemors uit nie. Regering en SAPD stel nie belang nie. Mooi so julle dis hoe dit gedoen word. Ons gaan nie sittend gevang word nie

FM ·

Op en wakkermanne!!! Julle is ysters. Die polisie is seker baie trots op julle en baie dankbaar. Knap gedaan!!!!!!

Rudi ·

Waarvan praat jy? Dis of hul broer of hul bribe wat gevang was. Ek kan jou ‘n miljoen wed dat minder as een ANC supporter op die watsup groep was! As hul so besorgd was sou hul misdaad bekamp het. Hul doen ongelukkig nie. Ek het al twee geraporteer by “crimelime” wat my wou “bribe”. Hul het niks aan hul gedoen. Polisie is gemors

reinette rautenbach ·

Mooi gedoen, manne. Jy sukkel nie met n boer nie. Mag dit voornemende plaasaanvallers veral in julle distrik afskrik.

Robbie Black ·

Knap gedaan, is dit moontlik dat Jacques Jordaan my ‘n persoonlike boodskap kan stuur, wil graag iets met hom bespreek wat hulle baie beter sekuriteit sal gee.

Jeanette Visser ·

Goeie werk mense, maar nou wonder ek hoe lank bly die misdadigers in die tronk? Kyk graag Nightguard op FoxCrime en wonder dieselfde ding. Die ouens gaan uit hulle pad uit om misdadigers aan te keer en die polisie kom verwyder hulle, gaan hulle regtig tronk toe? Ek wonder maar net.

Delien ·

Dis ‘n voorreg om te kan sê ek kom van die Migdol gemeenskap af, waar boere saamstaan! Well done jul almal! Dankie dat die Here my familie en die ander boere gespaar het!

Genis ·

Vasgetrekte verdagtes in plaasaanvalle moet eers deeglik ondervra word voor hulle aan die polisie oorhandig word. Waar kom hulle vandaan? Vir wie werk hulle? Ens.

Suzette ·

Goed gedoen. Dinge verbeter by die dag. Ons sal nie sittend gevang word nie

MM ·

Wel gedaan aan al die boere. Die SAPD sou nou nog seker rond getas het om ‘n voertuig te kry, nou neem hulle beslag op al die vuurwapens wat die boere eintlik gekry het. More kry hulle elk R500.00 bail en terug op straat na die boere se harde werk.

Jeany ·

Die boere het die ses verdagtes aangekeer en die polisie het die wapens gevind. Ek weet want my man is een van die polisie lede wat na die wapens gaan soek het.

zelda ·

moet nie jou mond spoel as jy nie daar was nie gaan tas jy rond

Derek ·

Mooi manne, wou net hoor of julle van Zello gehoor dit is ‘n app wat jy download en werk soos ‘n twee rigting radio. Baie goeie app om te hê vir sekuriteit en om met mekaar te praat.

Gerhard ·

Ja Zello is ‘n baie goeie app. Werk vinniger as Whatsapp. Deur die druk van ‘n knoppie is jy dadelik in verbinding met die mede lede op die kanaal en kan ook deur by die nodige kanale aan te sluit in direkte verbinding kom met nooddienste, sekuriteitmaatskappye ens. in ‘n nood situasie is tyd van kritieke belang en is Zello dus die aangewese kommunikasie middel. Dit van tyd om inligting deur te gee op whatsapp, tyd wat dalk jou lewe kan kos.

Dee ·

Dankie vir jòu reaksie op my vraag Gerhard. Derek wou klaarblyklik net adverteer maar het nie geweet hoe om my vraag te antwoord. Ek vind dit bevraagtekenbaar wanneer jy sê dat dit vinniger is as Watshapp sonder om bevestigende bewyse tw verskaf. Watshapp (sp) lyk vir my asof dit omtrent onmiddelik reageer in normale omstandighede.
Laat ons egter nie ‘n artikel daaroor skryf – ek gaan Professor Google daaroor uitvra en sê dankie vir julle inligting.

Baasspeerder Busfark ·

Wonderlik baie goed ons moet die tegnologie in stedelike gebiede ook gebruik En kan iemand asb vir my vertel waar daai AK 47 vandaankom. waar kry hulle dit

HEVW ·

Baie lof vir julle. Maar nou so n bietjie van die spoor af. Daardie gemeenskap is seker meer as een opsig betrokke by ons PUK. Staan so saam en maak n plan daar!!!!!!!

Lorraine Roodt ·

Al die boere en mense wat omgee vir mekaar, moet soortgelyke whatsapp dienste open en mekaar ondersteun.

Dee ·

Hierdie optrede van ons boere is waarlik ‘n advertensie vir almal daar buite. Neem aksie, reageer & werk in spanne! Dankbaar daar was geen noodlot nie.

Mirna ·

Magtag…dis nou spanwerk….ek stem saam …ons SA moet maar begin saam staan ….

Magda ·

Onse boere weet al jare der jare hoe om saam te staan – hierdie geval is maar net weer bevestiging daarvan. Well done!

Kwagga ·

Dis die beste nuus ooit. Dit gee n mens hoop en SA en ons boere kan. Niemand sak ons uit hierdie land verjaag. Ons sal die fight wen en ons kan.

anita ·

Mooi manne! Al wat ek wil WEET is waaaaaar kry hul daai wapens! DAAR moet polisie betrokke wees, want waar sal hulle sulke wapens kry! DIS nogal scary, vir n land met n wapen wet!

saarkie ·

Schweizer boere, uitstekend!. Julle is n trots en voorbeeld vir ons. Manne met murg in hul pype.!! Ek weet ook dis nie die eerste keer dat jul aanvallers fnuik nie. Welgedaan!!

Leonora Taljaard ·

Ek so trots op hierdie Boere, voel sommer veilig in ons gebied. Thanx julle jul doen wonderlike werk

scalla ·

Knap gedaan manne, ook die boodskap ontvang die middag, eks van na bygelee dorp op ons groep, wys jou net daar kan saamgestaan word as die popo die fan strike.

Johannes Meintjes ·

So word daar stadig maar seker meer effektief vordering gemaak tot selfbestuur en selfbeskikking. Daar is egter slegte nuus ook (uit GPF en Buurtwag ondervinding);- die arrestasies is moontlik onwettig, die boere het bo hulle magte opgetree, die saak sloer so dat dit teruggetrek word, die diamante as bewysstukke verdwyn, boere het nie tyd om heen en weer te ry vir hofsake wat uitgestel word nie (hulle meot nou boer en polisieman speel, en getuie, die AK 47s word weer deur die SAPD by die agterdeur uit verkoop, die speurders laat die leggers wegraak, die booswigte bestuur hul misdaadsake vanuit die tronk … ens)

pietie ·

nee wat johannes meintjies,,,, dit maak nie saak wat gebeur na die tyd met hulle nie, dis nie die doel van die operasies nie, HUL MOET ‘N BOODSKAP KRY…. DIE BOODSKAP IS, DIS ‘N WARM AREA DAAI, KOM ONS GAAN SOEK ‘N DORP OF DISTRIK WAAR DAAR NIE BUURTWAG IS NIE. bly positief, ons skryf net positiewe kommentaar hier, ons mag nie negatiewe komentaar skryf nie.

Dee ·

Heeltemal reg Pietie. Daar is reeds baie ander dinge in die land wat die inwoners bekommerd maak. Pessimiste en pessimisme kan nie ook bygevoeg word nie.

Cas Kempff ·

Wel gedaan aan almal betrokke. Daar is geen twyfel dat ons na onsself sal moet begin kyk nie. Ons het so Whatsapp groep in on buurt in Dan Pienaar in Bloemfontein en ook al booswigte aangekeer in die huis waar hulle besig was en hou die ander uit ons buurt omdat hulle weet so sisteem is in plek waar ons baie vining mense kan mobiliseer.

alida ·

Neelsie, ja die nar sal seer sekerlik lag omdat hy te dom is om ‘n volwasse gesprek te voer en die vrae te beantwoord.

Tossie nel ·

ek wil ook graag by so n paraat groep aansluit. Dit kan als net veiliger maak vir boere en bure.

Lee ·

Baie goeie einde aan die storie !
Kan die regs-vervolging van die kriminele ook so goeie einde hê !!!

Trotse-dogter ·

Voorwaar trots op die Polisie en die Boere van die gemeenskap, wat hulle take goed verrig !!!

DDB ·

Knap manne. Ons het ook n buurtwag groep in Lichtenburg en dit werk. Het al n paar suksesvolle aksies gehad.
ONS kan as ONS wil….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.