Foto’s: Winter breek aan met sneeu, stormweer in Kaap

Oorstromings in Kalkbaai, Wes-Kaap (Foto: Southern Staying Tourism via Twitter)

Suid-Afrikaners in dele van die Wes- en Oos-Kaap, sowel as die suidelike gebiede van die Noord-Kaap, het Woensdag die winter amptelik verwelkom met sneeu en reën wat in dié gebiede uitgesak het. In groot dele van die Kaapse metropool het stormweer egter verwoesting gesaai.

Die weerdiens en die Stad se ramprisikobestuur (DRM) het vroeër die week gewaarsku dat stormsterk wind van 50 tot 70 km/h en swaar neerslae van 5 mm tot 20 mm tot die moontlikheid van oorstromings en kragonderbrekings in dele van die Wes-Kaap kan lei.

Talle paaie in alle dele van die Stad Kaapstad is sedert Woensdag weens swaar reën oorstroom.

Die Kaapstadse ramprisikobestuur het Donderdag gesê ʼn aantal informele nedersettings in die Kaapse metropool, soos Overcome Heights, Phola Park, Goliath Estate, Langa, Masiphumelele, Khayeltisha en Philippi, is deur swaar reën en oorstromings geraak nadat daar geen noodskuiling geaktiveer is nie. Chantel Alexander, ʼn beampte van die ramprisikobestuur, sê van die nedersettings het ook kragonderbrekings ervaar weens die onstuimige weerstoestande.

Kanini-nedersetting in Khayelitsha, Kaapstad, oorstroom (Foto: Verskaf)

Alexander sê bome in Durbanville, Ravensmead, Atlantis, Eversdal en Somerset Wes is weens stormweer ontwortel.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag voorspel dat bibberweer van Woensdag vir die hele land verwag kan word weens ʼn hewige kouefront wat die Wes-Kaap tans teister. Sedert Woensdag het temperature in dele van die Wes-, Oos-, Noord-Kaap en Vrystaat tot onder 0 ˚C gedaal.

Terwyl stormweer in Kaapstad woed, bedek ʼn sneeukombers die berge in Lesotho en dié in dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.

Snow Report SA het op sy Facebook-blad foto’s geplaas van die gebiede wat sedert Woensdag sneeu gekry het.

Plekke soos Matroosberg naby Ceres, die Cederberge, Hexrivierberge, die Overberg-gebied, die Swartbergpas naby Oudtshoorn, Swellendam, Somerset-Wes, Stellenbosch en die Paarl in die Wes-Kaap lê dik onder sneeu.

Sneeu op die Op die Swaarmoedpas naby Ceres (Foto: Snow Report SA via Facebook)

Sneeu het ook in hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap rondom Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Hogsback, Queenstown, Barkly-Oos en Rhodes, asook in dele van die Vrystaat geval.

Die suidelike dele van die Noord-Kaap rondom Sutherland, Calvinia en Fraserburg lê ook onder ʼn sneeukombers bedek.

Die weerdiens voorspel dat temperature weer teen Sondag stadig maar seker gaan begin stabiliseer.

Die Kaapstadse ramprisikobestuur versoek alle inwoners om weerverwante voorvalle en noodgevalle by die Stad se openbare noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

DANKIE ALLE EER KOM GOD TOE – AMEN

marius

Dankbaar ?

Fedup

Breathtaking.
Honestly, you do not get more beauty winter than this.
Just love this freezing weather.

Ronel

Prentjie mooi.

Wielspore

Ek sien in my gedagte, sitkamer met groot vensters wat uitkyk teen die berg vol sneeu, kaggel wat brand, leer banke wat kraak, aangename glas rooi wyn, lekker boek om te lees. Voeding vir die siel.