Foto’s: Woestynlelies blom weer op Sandhof

Duisende pienk en wit amaryllis-lelies het die afgelope week op die Sandhof-plaas, sowat 40 km noord van Maltahöhe in suid-sentraal Namibië, geblom. (Foto: Dawid Saayman)

Duisende pienk en wit amaryllis-lelies het die afgelope week op die Sandhof-plaas, sowat 40 km noord van Maltahöhe in suid-sentraal Namibië, geblom.

Die Sandhof-leliepan, wat sowat 800 hektaar groot is, is gewoonlik kurkdroog en dié besonderse gebeurtenis het meer onlangs in 2020, 2017 en 2010 plaasgevind.

Dié sogenaamde Sandhof-lelies (crinum paludosum) blom slegs in spesifieke klimaatsomstandighede en wanneer daar ʼn reënval van tussen 15 en 20 sentimeter is.

Dit is egter ʼn vlietende gebeurtenis. Die lelies blom gewoonlik net vir ses tot agt dae voordat hulle kleur van pienk na wit verander en dan verwelk of deur insekte verwoes word.

Duisende besoekers het tot Sondag na die pan gestroom, maar die hekke is intussen gesluit nadat die blomme weens die hitte verwelk het.

Stefan Saayman, ʼn inwoner van Windhoek, het die naweek saam met sy gesin besoek afgelê aan die pan. Hy vertel hulle het later begin wonder of die strawwe rit van sowat vyf ure, wat met ʼn nou grondpad eindig, die moeite werd is.

Die water was enkeldiep tussen die lelies. (Foto: Jo-Marí de Klerk)

“Dit is so ʼn rare gebeurtenis en ons het net gesê, kom wat wil, ons gaan vanjaar die lelies kyk sou dit blom. Van die plaashek af is dit nog ongeveer 1,5 km tussen die vaalbosse deur en skielik ontvou dit soos ʼn sprokie. Eers was ek nie seker of ek reg sien nie, maar dan raak dit duideliker en eers toe ek van naderby kyk, het ek die water, wat ongeveer enkeldiepte is, gesien,” vertel Saayman.

“Dan is dit net blomme, die pragtigste wit en pienk. Ons was aanvanklik stom van verbasing en toe ons tussen die blomme begin instap met die geel klei wat tussen ons tone deur peul – ʼn ervaring wat herinner aan ons kinderdae – saam met die skouspelagtigheid van die ragfyn blomme en die geur wat op die wind dryf, was al die kilometers tot daar die moeite werd.”

Al was dit ongelooflik warm, het die blommeprag hom steeds oorweldig. “Daar is baie mense, maar die omvang van die pan is so geweldig groot dat al die mense met hulle groot voertuie eenvoudig weggesmelt het. Dit het gevoel of dit net ons en die blomme is.

“Die gevoel om hierdie pan blomme in die middel van die ongenaakbare vlaktes van Maltahöhe te beleef, is baie naby aan hoe dit moet voel om ʼn wonderwerk te sien. Geen mens kan onaangeraak daar weggaan nie.”

Namibië het onlangs die grootste oorstromings sedert die negentigs beleef met swaar reënval sedert einde verlede maand landwyd. Damvlakke landwyd het met rekordgetalle gestyg en sommige damme het selfs vir die eerste keer oorgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eragrostis ·

Dis besonders. Ek sou wat wou gee om dit ook te kon beleef.

Johan ·

Duisende dankies aan elke betrokkene wat Sandhof met ons gedeel het. Dit verdryf die verslae en moeëgees wat soos ‘n donker wolk oor ons hang. Ons plant ons lelies in potte en tuine. God maak Sy tuin op 800 hektaar! Deur droogte bewaar Hy die bolle onder die warm sand totdat Hy die groot reën laat val. Sing saam: “O Heer my God! Hoe groot is U!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.