[Foto’s] WoF blus brande en skep werk

Brandbestryders by die WoF-basis buite Pretoria. Foto: Phillip Bruwer

Terwyl die Wes-Kaap vir die brandseisoen gereedmaak, is die einde in sig vir die binneland. Dit beteken egter nie dié brandbestryders van die organisasie Working with Fire (WoF) gaan nou leeglê nie.

Maroela Media het onlangs by ʼn basis in Gauteng gaan inloer om meer van dié uitgebreide openbare werkskeppingprogram, wat deur die departement van omgewingsake befonds word, uit te vind.

Parapara Makgahlela, provinsiale woordvoerder vir Gauteng, het Maroela Media vergesel na die Jopie Fourie-gronde in De Wildt, noordwes van die stad, waar 25 brandbestryders by dié basis ontplooi is.

Makgahlela verduidelik daar is 17 basisse in Gauteng en 373 landswyd wat altesaam vir nagenoeg 5 000 mense werk skep en só help om brande te beveg.

Brandbestryders moet 25 jaar of ouer wees – solank die bene kan hou. Fiksheid is die belangrikste vereiste vir kandidate en mans moet 2,4 km in 12 minute kan hardloop. Vroue moet dit in 14 min kan doen. Hulle moet ook 40 opstote en 40 opsitoefeninge in ʼn minuut kan doen en sewe optrekke in ʼn minuut. Brandbestryders word maandeliks aan dié vereistes gevalueer.

Voor brandbestryders na basisse in hul gemeenskappe ontplooi word, moet hulle eers ʼn 25 dae lange opleidingskamp slaag. Daar word hul fiksheid getoets en leer hulle teoretiese vaardighede in brandbestryding. Hulle gaan ook jaarliks op dié soort kampe, veral voor die brandseisoen, om hul vaardighede en gemoedstoestand te toets.

“Gauteng en die binneland se brandseisoen is van 1 Augustus tot aan die einde van Oktober. Ons is dan op ons besigste. Brandbestryders bly op hoë gereedheid tydens dié tydperk en daar is altyd mense op bystand,” het Makgahlela gesê.

Makgahlela het gesê as die brandseisoen verby is, doen WoF bewusmakingswerk, maak voorbrande en brandbane en is hulle die meeste van die tyd doenig om uitheemse indringerplante te verwyder.

“Die verwydering van indringerplante skep ʼn groot rol in brandvoorkoming. Veral die pompom-onkruid is ʼn groot brandgevaar in die brandseisoen.”

In Gauteng alleen is daar 385 brande aangeteken sedert die brandseisoen begin het. Altesaam 70 daarvan was in September.

“Baie minder hektaar plantegroei is tydens dié brande verwoes as vorige jare. Dit word toegeskryf aan die vinnige reaksie van ons professioneel opgeleide veld- en bosbrandbestryders.”

Enige gemeenskap kan met die regering hande vat om ʼn basis in hul omgewing op die been te bring en só tot werkskepping en natuurbewaring by te dra.

Die departement behartig die aanstellings, opleiding, toerusting, administrasie en lone. Die gemeenskap moet die basis kan voorsien wat toegerus moet wees met elektrisiteit en die basiese benodigde van verblyf moet kan bied.

Volgens Stephen Boyes, algemene bestuurders van WoF in Gauteng, is die provinsie vanjaar volgens statistiek die leiers op die gebied van brandbestryding. “Dit is die eerste keer wat Gauteng lei, wat beteken brandbestryders was dié seisoen sover baie besig,” het hy gesê.

Boyes het gesê as die brandbestryders nie beskikbaar was nie, sou brande ʼn groot ekonomiese uitwerking op boere en grondeienaars gehad het. Tweedens sou biodiversiteit erg benadeel gewees het.

Besoek workingonfire.org vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aandag: ·

Aandag: minister Mbalula, ek sien geen brandbestryder met ‘n polisielyf!

Eish ·

Baie goeie inisiatief. Ons hoop die die toegewyste fondse hou.

Liesie ·

Welgedaan! Hierdie brandbestryders kan ons onfikse, oorgewig en onbeholpe polisie en weermag lede iets leer van toewyding en gereedheid vir die taak voor hande.

Jd ·

En hulle het lekke naam weg gegooi in kanada toe hulle vertel is jy toi toi nie in kanada en sak en pak huis toe gestuur is.

Francois du Plessis ·

Ek woon en werk al 55 jaar op ñ plaas en het nog nooit in my lewe ñ kid van WoF in lewende lywe gesien nie, wat nog van help brande blus.
Myself en die omgewing waar ek woon is al by verskeie geleenthede deur verwoestende veldbrande getref, waartydens verskeie mense hul lewe verloor het, maar selfs in hierdie gevalle het WoF geskitter in hul afwesigheid.

Dit laat my tot die gevolgtrekking dat WoF:
– Moontlik in die geheim werk, of
– Daarin geslaag het om die “wegkruip speletjie” te vervolmaak.

Verseker het WoF nog nooit gehelp om ñ veldbrand in my omgewing te blus nie!

Henk Celliers ·

Skande,staak in Kanada,word weggejaag,baie slegte ondervinding met hul gehad,by vele geleenthede,net nog n vermorsing van geld,was n opbetaalde lid,maar sumier my lidmaatskap beeindig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.