Foto’s: Wonderwerke gebeur nog

Tobelani Mzamo, sy ma en sy lewensredder, Jannie Krynauw Foto: Jannie Krynauw (verskaf)

Tobelani Mzamo, sy ma en sy lewensredder, Jannie Krynauw Foto: Jannie Krynauw (verskaf)

Tobelani Mzamo (25) wat op 2 Mei danksy ʼn inwoner van Houtbaai se vinnige optrede van verdrinking gered is, het ten volle herstel en is terug by die werk.

Maroela Media het vroeër berig Jannie Krynauw het met sy honde gaan stap toe hy ʼn liggaam in die see opgemerk het. Hy is dadelik die golwe in en het Tobelani na die strand toe gesleep. Hy het met KPR begin en om hulp geskree. Anthony Allen, ʼn vrywilliger by die Nasionale Seereddingsinstituut, het kort daarna opgedaag en Jannie bygestaan. Teen die tyd wat paramedici by die toneel opgedaag het, was Tobelani reeds stabiel en het op sy eie asemgehaal.

“Hy is ná twee dae uit die hospitaal ontslaan en met sy ma herenig,” het Jannie aan Maroela Media gesê. “Woorde kon nie haar of my dankbaarheid beskryf nie.”

Volgens Jannie is dit nog nie duidelik wat presies die dag gebeur het en hoe Tobelani in die water beland het nie. “Hy was op pad bank toe op sy ma se versoek,” het Jannie verduidelik. “Hy weet glad nie hoe hy op die strand beland het en kan ook nie onthou dat hy wou swem nie. Al wat ons weet is dat Tobelani epilepsie het, maar hy het ongeveer ʼn jaar laas ʼn toeval gehad. Die silwer randjie is egter sy lewe en dat hy ʼn tweede kans gegun is.”

Tobelani werk by die Avignon Estate in Houtbaai, en sy werkgewer het hom ʼn week lank verlof gegee ná die voorval, maar hy was sommer gou weer terug op sy pos. “Tobs en sy kollegas was ewe bly dat hy weer terug is by die werk!”

Die gemeenskap van Houtbaai het Jannie op sosiale media geloof vir sy heldhaftige optrede.

“Die lewe maak soms vreemde en wonderlike draaie,” het Jannie gesê. “Ek en Tobelani sal altyd vriende bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Jannie, jy is weer eens ‘n bewys dat mense nog vir mekaar omgee – ongeag ras!! Laat dit vir ons ander Suid-Afrikaners ‘n goeie voorbeeld wees om na te volg!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.