Foto’s: Wupperthal ’n tranedal ná verwoestende brand

Die brand het blitsvinnig deur die strooidakhuise versprei. Foto: Facebook

Die gemeenskap van Wupperthal in die Cederberge is verslae en verstom nadat amper 50 van die geskiedkundige strooidakhuise op die eertydse sendingstasie Sondag in ʼn brand in puin gelê is.

Biskop Brian Abrahams van die Morawiese Kerk het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die oorsaak van die brand is nog onbekend. “Op die oomblik is dit net bespiegeling en gerugte. Ons sal wag tot die brandweerdiens hul ondersoek afgehandel het.”

Nagenoeg 200 van die dorpie se 2 000 inwoners is haweloos gelaat in die brand wat Sondagmiddag omstreeks 17:00 ontstaan en in ʼn oogwink deur die oudste woonbuurt versprei het. Aanvanklik is geglo 30 strooidakhuise is vernietig, maar Abrahams sê teen Maandagoggend is 45 getel.

“Die grootste gedeelte van die bewoners van die vernietigde huise is pensioentrekkers,” sê hy. Hul huise was nie verseker nie; dus sal hulle dit nie kan bekostig om hul woonplekke, waarvan baie sowat 180 jaar oud is, te herbou nie.

Abrahams sê die kerk wil by die Wes-Kaapse rampbestuursentrum aansoek doen om tente waarin die hawelose inwoners tydelik gehuisves kan word, want die sinkdakhuise wat behoue gebly het, is te klein en vol om hulle te akkommodeer.

Voor die brand was dit ’n gewilde toeristebestemming. Foto: Facebook

Die Morawiese Kerk doen sy bes om kos, klere en beddegoed vir die 200 mense bymekaar te maak, “want hulle het met niks daar uitgestap”. Abrahams vra enigeen wat kan help, moet hom 083 708 8384 bel om te reël om skenkings op Wupperthal uit te kry.

Die dorpie se kerkgebou, wat in 1834 deur die Rynse Sendinggenootskap opgerig is, het “genadiglik ongeskonde gebly”, sê hy, al het al die geboue rondom afgebrand.

Wupperthal, sowat 75 km suidoos van Clanwilliam, is net per grondpad bereikbaar. Die dorpie is in 1829 vir die Rynse Sendinggenootskap deur die skrywer C. Louis Leipoldt se oupa Johann Gottfried Leipoldt gestig en genoem na die vallei of dal (“Thal”) van die Wupperrivier in Barmen, Duitsland, waar die sendinggenootskap se hoofkantoor was.

Presies ʼn eeu later is die Duitse stad Wupperthal op 1 Augustus 1929 uit die dorpe Elberfeld, Barmen, Ronsdorf, Cronenberg en Vohwinkel as Barmen-Elberfeld saamgestel en ná ʼn referendum in 1930 ook Wupperthal genoem.

Die voormalige sendingstasie is vandag ʼn streeksentrum met ʼn poskantoor, skool, kliniek, kerk en kerkkantoor, winkels en ʼn skoen- en handskoenfabriek, waar tradisionele velskoene vervaardig word. Tabak word gedroog en gerol om roltabak te maak. Landbouprodukte uit die omgewing sluit in rooibostee, droëvrugte en gedroogte boontjies.

Hierdie video is gemaak voor die brand en wys die dorpie soos dit voor die vernietiging gelyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.