[Foto’s] Wynlandgoed-moord: Ondersoek ter plaatse by Spier gehou

Jason Rohde. Foto: Maroela Media

’n Ondersoek ter plaatse is Maandag by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch gehou in verband met die moord op Susan Rohde.

Haar man Jason Rohde, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die eiendomsgroep Lew Geffen Sotheby’s International Realty, staan tereg op aanklag van haar moord in Julie verlede jaar in ʼn hotelkamer in dié luukse hotel. Rohde het Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof skuld ontken op ’n aanklag van moord en ’n aanklag van dwarsboming van die gereg.

Hy het in ’n beëdigde verklaring, wat deur sy prokureur aan regter Gayaat Salie-Hlophe voorgehou is, aangedui dat die staat tot dusver slegs sommige van die verklarings en/of bewyse waarop die staat in die hofsaak sal staatmaak, aan sy regspan verskaf het. Volgens hom was die staat die afgelope naweek, voor die aanvang van die hofsaak, nog steeds besig met verskeie verklarings en om inligting te versamel, en op 7 Oktober nog twee kenners by hul lys van getuies gevoeg.

“Die saak teen my is baie ingewikkeld, aangesien die staat steun op omstandigheidsgetuienis en ’n groot hoeveelheid sogenaamde forensiese bewyse,” het hy bygevoeg. Dit sluit forensiese patoloë, DNS-getuienis, bloedspatselgetuienis, vingerafdrukbewyse en selfoonrekords in.

Foto: Maroela Media

“Die saak is op 25 Julie 2017 na die Kaapstadse hooggeregshof oorgeplaas. Ek verneem dit is algemene praktyk, indien dit nie ’n wet is nie, dat ’n ondersoek eers afgehandel moet wees voor ’n saak na die hooggeregshof oorgeplaas kan word. Dit het ongelukkig nie in hierdie geval gebeur nie. Hierdie is ’n moordsaak en my lewe hang daarvan af. Dit sal dus heeltemal onbehoorlik wees om met die saak voort te gaan sonder behoorlike voorbereiding. Dit kan selfs my regspan blootstel aan wetlike wanpraktyke en ’n impak hê op hul vermoë om my te verteenwoordig.”

Rohde het bevestig dat hy en sy vrou die naweek van haar afsterwe by die Spier-hotel op die Spier-wynlandgoed tuisgegaan het om ’n kantoorfunksie by te woon. “Susan het, teen my sin, daarop aangedring om my te vergesel na Sotheby’s se jaarlikse byeenkoms. Ek was in daardie stadium die uitvoerende hoof van Sotheby’s.

“Ek en Susan het tydens die betrokke naweek in kamer 221 tuisgegaan. Op my versoek het Desmond Daniels, ’n nutsman van Spier, die oggend van 24 Julie 2017 ’n skroewedraaier gebruik om die badkamer se deur oop te maak. William Lee en Mark Thompson, Sotheby’s-agente, het ook by die badkamer opgedaag.”

Foto: Maroela Media

Rohde het in die beëdigde verklaring beken dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het met Jolene Alterskye. “Jolene het ook die funksie bygewoon as ’n werknemer van Sotheby’s. Ek glo egter nie dat die inligting relevant is tot die saak nie.

“Susan het in 2016 van die buite-egtelike verhouding te hore gekom. Ons huwelik het as gevolg van verskeie redes al hoe meer verbrokkel en Susan se gedrag het al hoe meer irrasioneel en obsessief geword. Dit was duidelik in haar houding, optrede en mondelingse aanvalle teenoor my.”

Volgens hom was Susan kwaad, vol verwyt, desperaat en hartseer. “Ek glo, met respek, dat haar onvermoë om te redeneer of rasioneel op te tree, uiteindelik tot haar selfmoord gelei het. Niemand sal moontlik egter ooit die ware redes weet vir haar optrede nie. Daar is moontlik verskeie redes.”

Die egpaar het Caroll Nader, ’n huweliksberader wat nou ’n staatsgetuie is, gespreek. “Nader was baie besorg oor Susan, aangesien sy depressief was. Sy was besorg dat Susan ’n selfmoordrisiko was en het aangeraai dat Susan ’n psigiater moet spreek. Susan het ook ’n kliniese sielkundige, ene Jane Newcombe, gespreek.” Newcombe is ook ’n staatsgetuie.

“Susan het daarop aangedring om die Sotheby’s-funksie by te woon, alhoewel dit nie algemene praktyk was nie en geen ander werknemer se eggenote of lewensmaats het die funksie bygewoon nie. Ons het ook albei geweet dat Jolene die funksie sou bywoon.

Rohde, lede van sy regspan, die regter en lede van die staat se regspan tydens die ter plaatse ondersoek. Foto: Maroela Media

“Ons verhouding was onder baie druk en dit sal ten volle tydens die hofsaak bespreek word.

Tydens die Sotheby’s-naweek het Susan al hoe kwater geword. Selfs voor die naweek was dit duidelik dat sy nie meer wou leef nie.”

Rohde het gesê die staat se getuies is akkuraat wat Susan se optrede en gedrag waargeneem het, en dat hulle die aand voor haar dood ’n luide woordewisseling gehoor het en dat ’n veiligheidsbeampte van Spier gesien het dat Susan aan hom vasgeklou het toe hy van haar wou wegkom.

“Ek het nooit ontken dat ons daardie aand baklei het nie. Daar was selfs ’n fisiese konfrontasie, en Susan het aan my bly klou en my gegryp en wou met mag verhoed dat ek die hotelkamer verlaat. In ’n poging om weg te kom, het my arm haar getref en sy het geval en beserings opgedoen. Ek het haar nooit aangeval nie. Sy het ook voor die naweek ’n besering opgedoen.

“Ek het haar nie doodgemaak nie en ek het nie aan die toneel gekarring om dit soos ’n selfmoord te laat lyk nie. Ek bid dat die hof my onskuldig sal vind nadat al die getuienis aangehoor is.”

Die multi-miljoenêr is in Augustus verlede jaar by sy huis in hegtenis geneem. Hy het kort daarna op 25 Augustus vir die eerste keer in die hof op aanklag van moord verskyn.

Die staat voer aan Rohde het sy vrou vermoor en ’n haartang gebruik om dit na selfmoord te laat lyk. Die staat voer ook aan hy het met die misdaadtoneel gepeuter deur die badkamerdeur self te sluit en die haartangkoord in verskillende posisies om die haak te bind. “Die DNS-analise van die bloed wat in die badkamer gevind is, stem ooreen met die DNS van [Susan] en [Rohde],” lui die opsomming van die staat se saak.

Die staat versoek 15 jaar tronkstraf op aanklag van die moord op Susan en tronkstraf na gelang van die hof se diskresie op die aanklag van dwarsboming van die gereg.

Rohde is vrygelaat op R100 000 borgtog met ’n R1 miljoen-borgwaarborg.

Lees alle vorige berigte oor Jason Rohde op Maroela Media.

Rohde, lede van sy regspan, die regter en lede van die staat se regspan tydens die ter plaatse ondersoek. Foto: Maroela Media

Rohde, lede van sy regspan, die regter en lede van die staat se regspan tydens die ter plaatse ondersoek. Foto: Maroela Media

Rohde, lede van sy regspan, die regter en lede van die staat se regspan tydens die ter plaatse ondersoek. Foto: Maroela Media

Rohde, lede van sy regspan, die regter en lede van die staat se regspan tydens die ter plaatse ondersoek. Foto: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genieve ·

15jaar tronkstraf vir hom en Oscar 6jaar eish die geregstelsel.

SjN ·

Iets klink nie lekker nie, moenie te vroeg oordeel nie, mag die waarheid seevier.

LMF ·

Jong ek sê nie hy is skuldig nie maar klink my hy het sy storie mooi agtermekaar en hy beskryf hom as die victim hier en laat dit bo als klink na n lekker los naweek omdat geen lewensmaat ooit die funksie bywoon nie nee hoor iets is defnitief nie pluis hier nie

marous ·

Ja … dis vreeslik as almal so saamspan teen onskuldiges.

jaco ·

Hoe kry hy die badkamerdeur van binne af gesluit? Die nutsman moes dit dan van buite af oopmaak. Dis dus logies dat sy selfmoord gepleeg het. Maar nou ja, hy is wit em ryk, so hy moet seker skuldig bevind word deur die Staat, wat hom seker ook wil straf vir sy uitbuitende wit monopoliekapitaal…

Babsie ·

Volgens berigte reg in die begin is daar berig dat die badkamer venster oop was. Kon maklik die deur gesluit het en deur die venster geklim het terug kamer toe. Toe die nutsman opgedaag het was hy ten volle en netjies geklee asof hy alreeds gestort en aangetrek was vir die ontbyt. Gee net feite van berig gewing na hy in hegtenis geneem is

Verstom ·

Die man toon geen berou of hartseer oor die vrou met wie hy jare getroud was en drie kinders gehad het se afsterwe nie. As sy opgetree het soos hy beweer was dit moontlik omdat sy enigiets sou doen om haar huwelik te probeer red. Klink of hy haar na depressie gedryf het en haar sleg behandel het. Nou is sy oorlede onder uiters verdagte omstandighede en dit lyk of die verhoor vir hom n irretasie is wat gou afgehandel moet word. Hy is dan die onskulige “victim”. Sy vrou is nou uit die pad, hy wil aangaan met sy lewe.

Al het hy haar moontlik nie met sy eie hande dood gemaak nie, is sy hande beslis nie skoon nie.

Mag sy rus in vrede!

Asmain ·

Werksfunksies sonder gades is n bron van onheil en gee aanleiding tot menige egskeidings. As jy n werksfunksie sonder gades reel geskied dit as n middagete. Aand funksies & naweek uitstappies geskied met gades.

Asmain ·

Werksfunksies sonder gades is n bron van onheil! Veral aand of naweek funksies.

Hannelie ·

Erken maar skuld jong…..jy was in elk geval besig om egbreek te pleeg. Hoekom nie die probleem uit die weg ruim nie. Jy het jou plannetjies fyn uitgewerk….maar nie fyn genoeg. Sommige lieg later so, hul glo hulself.

Badlamgunther ·

Ek is skoon naar na ek die “details” in vandag se hofverrigtinge gelees het. Dis te erg om dit te herhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.