Fourie dalk dronk op moordtoneel, hoor hof

Abraham Fourie bedek sy gesig tydens sy verhoor in die rondgaande hof in Bethlehem [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Meda]

Konst. MJ Mashinini het Woensdag in die rondgaande hof in Bethlehem gesê Abraham Thomas Fourie (52) was moontlik onder die invloed van drank toe die polisie hom op 13 Junie gekonfronteer het oor sy lewensmaat, Johanna Maryna Venter (48), se dood.

Hy het ook ontken dat hy enigiets weet van bloed wat volgens Mashinini duidelik voor die polisie se koms afgewas is.

Fourie word aangekla van Venter se moord en word tans verhoor. Hy het Woensdag weer in die hof verskyn, waar hy heeltyd kop onderstebo in die beskuldigdebank gesit en skryf het. Hy het skaars na Mashinini gekyk terwyl sy getuig het.

Volgens Mashinini het Fourie op 13 Junie aan die polisie gesê dat hy Venter daardie oggend dood in die slaapkamer op die grond aangetref het. Haar kop was glo vooroor gebuig. Fourie het Maandag in die hof getuig Venter het ʼn bottel brandewyn in die hand gehad.

Die polisie is die oggend deur Fourie se vriend, Barry Stander, na die toneel ontbied, wat aan die polisie gesê het dat Venter haar eie lewe geneem het.

“Op die toneel het die beskuldigde nie duidelik aan ons gesê of Venter dood is nie, net dat sy baie drink en moontlik geval het,” sê Mashinini.

Volgens Mashinini het Fourie normaal gepraat en geloop, maar hy het na alkohol geruik. “Hy kon moontlik onder die invloed van alkohol wees, ek kan dit nie bevestig nie.”

Fourie het ook vroeër in die hof aangedui dat hy Venter probeer bybring het. Volgens Mashinini het hy dit egter nie aan die polisie genoem nie.

Sy het verder getuig dat Fourie aan die polisie gesê het hy het die vorige aand in sy vragmotor geslaap en is onkundig oor wat in die huis gebeur het. Volgens hom het hy die huis die volgende oggend in ʼn chaotiese toestand aangetref.

Mashinini het in die hof gesê die slaapkamer was deurmekaar en vuil en dit het vir haar gelyk asof daar ʼn fisieke skermutseling in die kamer kon plaasgevind het. Sy sê dit lyk ook asof die kamer lanklaas skoongemaak is.

“Die wasgoedmandjies was gebreek en vuil klere het orals op die grond gelê. Daar was ook hare – duidelik dié van ʼn mens – wat op die slaapkamervloer gelê het. Die hare het tot by die badkamerdeur gelê.”

Venter se liggaam was reeds styf en koud met polisie se aankoms, het die hof gehoor.

‘Moontlik onder die invloed’

Johanna Maryna Venter en Abraham Thomas Fourie (Foto: Facebook)

Volgens Mashinini was daar ook bloed op die vloer langs die bed en op die muur, asook op die deurraam van die slaapkamer. Daar was ook bloed op die vloer en muur van die badkamer en bloed in die stort.

Sy sê dit het gelyk asof die bloed afgewas is, maar die persoon het nie ʼn ordentlike werk gedoen nie omdat die bloed nog duidelik sigbaar was. “Die strepe van hoe die persoon die bloed probeer afwas het, was duidelik sigbaar.”

Die polisie het luminol op die vloere en mure gespuit wat aangedui het dat daar wel bloed was.

Mashinini sê wat ook opmerklik was, was die groot plastiekskottel – van ongeveer 60 cm in omtrek – wat in die stort gestaan het.

Sy sê die polisie het Fourie oor die bloed op die vloer ondervra, en hy het gesê dat daar nie bloed op die vloer was toe hy by die huis gekom het nie. “Hy het vir ons gesê die vloer was nat en hy het ʼn mop gebruik om die vloer skoon te maak. Hy het gesê hy weet niks van bloed nie.

“Toe ons Fourie oor die bebloede klere gevra het, het hy gesê Venter het die klere ʼn week voor haar dood aangehad toe sy ‘oor die vragmotor se sleepwa’ geval het. Hy sê dit is moontlik waar die bloed vandaan kom.

“Ek dink egter as dit ʼn week gelede was, sou die bloed droër gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

piet ·

Nou hoekom sou hy ‘n mop gebruik om enigiets skoon te maak op die toneel terwyl die vrou dood daar le en hy nog nie eers die polisie en nooddienste in kennis gestel het nie? Die ou se storie het meer gate as ‘n sifdraad. En waarvoor wil hy sy gesig bedek, hy’t mos dan nie rede om skaam te wees en enige iets weg te steek nie.

Johan David ·

Jissy maar die mannetjie kan darem nou vir jou stories opmaak……..lieg homself in ñ hoek in.

Papsak ·

Sluit toe laat hy verdien hy wil mos mense se lewens vat flip hom op

Herpiet ·

Hierdie hillbilly moet uit die samelewing uit so gou moontlik

Suzette ·

Hy is ‘n gemors! Smyt hom in die tronk – hoop hy kry sy dag daar! Mos baie sterk as jy ‘n vrou kan mishandel!

Herpiet ·

Laat my dink aan een van die karakters in die 1977 film “The hills have eyes”

piet ·

Die grootste weggee in hierdie sage is die tydsverloop van nadat sy dood is en die tyd wat dit aangemeld is. Ek bedoel, wat sou ‘n normale persoon gedoen het as jy op so ‘n toneel afgekom het? Jy sal eers geskok staan en dan so gou as moontlik minstens die nooddienste en/of die polisie bel. Hierdie ou het eers vriende gebel en die plek skoongevee, kon nie vriende in die hande kry nie en toe ure later (seker nadat hy sy roes half afgeslaap het) na die vriende toe gegaan…. gou eers storietjies opgemaak met tjommie voordat hulle polisie toe is…..

Casper ·

Barry Stander sê aan die polisie Venter het selfmoord gepleeg maar hy wat Stander is het die polisie na die toneel ontbied.Die liggaam was reeds styf en koud.Wat was die temperatuur die spesifieke nag want daarvolgens kan bepaal word hoelank ‘n persoon al dood is.In warm temperature neem selle in die liggaam langer om dood te gaan as in die winter.

piet ·

Sy was reeds die vorige nag dood want sy was reeds styf (rigor mortis tree gewoonlik so na 8 ure in).

Danny ·

Volgens Mashinini het Fourie normaal gepraat en geloop, maar hy het na alkohol geruik. “Hy kon moontlik onder die invloed van alkohol wees, ek kan dit nie bevestig nie.”
WEEREENS BEWYSE DAT HUL NIE PROTOKOL VOLG VIR TONELE OF MISDADE SE ONDERSOEKE NIE. Ken hul hul PROTOKOL??

Afgesien daarvan, ek sou ook moontlik paar groot slukke uit die naaste alkoholiese verversing vat as ek op so skoktoneel moes afkom en minder as rasionaal optree. Enigeen wat normaal kan voortgaan na so toneel se sien – ken ek nie.

Casper ·

Ek verstout my om te sê Stander het Fourie gehelp om die misdaadtoneel soos selfmoord te laat lyk en dan is hy moontlik skuldig aan regsverydeling en peuter met ‘n misdaadtoneel

Swerwer ·

Ag, lyk my hy het mooi geleer by die ANC. Hy glo seker hy sal ook loskom soos al die ander ANC kaders as hy hul “tricks” probeer.

Hennie ·

Absolute skuim van die samelewing. Hopelik word hy lank daaruit verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.