Fourie was ‘aggressief’ aand voor moord

Johanna Maryna Venter en Abraham Thomas Fourie (Foto: Facebook)

Abraham Thomas Fourie (52) het sy vriend Barry Heinrich Stander aangerand die aand voor Fourie se lewensmaat, Johanna Maryna Venter (48), se liggaam gevind is. Venter was boonop glo bang vir Fourie en het gereeld beserings opgedoen wanneer sy by hom was, het die rondgaande hof in Bethlehem Dinsdag gehoor.

Fourie word aangekla van Venter se moord en word tans verhoor. Sy is op 13 Junie dood in die paartjie se huis in Senekal in die Vrystaat gevind.

Stander het Dinsdag getuig Fourie het hom op 12 Junie op die neus met sy vuis geslaan ná hulle glo ’n woordewisseling oor ’n bottel brandewyn gehad het. Stander en Fourie was goed bevriend.

Volgens Stander het Fourie hom op 12 Junie omstreeks 14:22 gebel en gevra om hom drankwinkel toe te neem. Hulle is na die Tops-drankwinkel in Senekal, waar Fourie die drankwinkel ingegaan en met ’n bottel brandewyn uitgekom het.

“Hy het die bottel in die motor oopgemaak en begin drink. Ek was verstom, want ek het hom nog nooit só sien drink nie. Hy het gesê hy wil nie huis toe gaan nie. Ons is toe van die een winkel na die ander waar ons sigarette en polistireenkoppies gekoop het,” getuig Stander.

Fourie het Maandag in die hof getuig hy wou nie daardie aand by die huis slaap nie omdat Venter soos drank geruik het en hy “moedeloos was oor haar drankprobleem”.

Volgens Stander is hulle toe na ’n park in Senekal waar Fourie en Stander verder aan die bottel brandewyn gedrink het.

“Hy het baie vinnig gedrink. Sy gemoedstoestand het handomkeer verander. Hy het aggressief en gefrustreerd geword. Hy het gesê Maryna (Venter) se drankprobleem pla hom.”

Stander het vir Fourie gesê dat hy vir homself gaan drank koop en hom (Fourie) daarna by die huis sal gaan aflaai. Fourie het ook vir homself iets in die drankwinkel gekoop, maar volgens Stander kon hy nie sien wat hy gekoop het nie.

Abraham Fourie se verhoor het Maandag in die hof in Bethlehem afgeskop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Toe ons by sy huis kom, het hy die bottel brandewyn wat ek vir my gekoop het, ook gevat. Ek het uit die kar geklim en hom gevra waarom hy my bottel gevat het. Hy het nie geantwoord nie en my toe op die neus met sy vuis geslaan. My neus het verskriklik gebloei. My klere was vol bloed.”

Stander het daarna in sy motor geklim en huis toe gery. Op pad huis toe het sy motor sonder brandstof gaan staan en hy het verder huis toe geloop.

Stander se lewensmaat, Mageretha Johanna Visagie, vertel Stander het omstreeks 18:40 bebloed by die huis aangekom en hy het haar vertel wat gebeur het.

‘Ek was lief vir haar’

Visagie het in die hof getuig sy het die volgende oggend net ná 06:00 drie stemboodskappe en een oproep van Fourie ontvang. Die boodskappe is die vorige aand gestuur, maar omdat Visagie haar foon deur die aand afsit, het sy die boodskappe eers die volgende oggend gekry.

In die eerste en derde stemboodskap wat in die hof gespeel is, sê Fourie vir Visagie dat hy baie dringend na Stander soek.

In die tweede boodskap sê Fourie aan Visagie: “Magriet, ek het heeltemal my kop verloor. Ek kan nie meer so met Vlooi wat so baie drink nie. Ek gaan vanaand iewers anders slaap. Ek soek dringend na Barry.”

Visagie sê Fourie het ’n ruk daarna senuweeagtig by hul huis opgedaag en vir haar gesê hy is in groot moeilikheid en dat Venter of “Vlooi” – soos sy aan naastes bekend gestaan het – dood is.

Venter se verminkte liggaam is die volgende oggend (Sondag) in die slaapkamer van die paar se huis in Waterstraat gevind. Sy het erge brandwonde oor haar hele liggaam gehad.

Volgens Stander het Fourie hom kom wakker maak en ook aan hóm gesê hy is in groot moeilikheid.

“Ek het hom gevra wat aangaan. Hy sê toe: ‘Maryna het dit reggekry. Sy is dood en sy het selfmoord gepleeg,’” het Stander getuig.

Volgens Visagie het Stander en Fourie in die kamer gesels, maar sy kon nie hoor wat hulle gepraat het nie. “Hulle het later weer teruggekeer na die kombuis waar Braam [Fourie] vertel het dat hy op Maryna se liggaam in die slaapkamer op die grond afgekom het. Hy het gesê haar kop was vooroor gebuig en sy het ’n bottel brandy in die hand gehad,” getuig Visagie.

“Hy het in ’n huilstem gesê hy was so lief vir Vlooi, maar hy het nie regtig gehuil nie.”

Fourie en Stander is daarna weg polisiestasie toe om die saak aan te meld.

“Braam het gesê ek moet nie vir die polisie noem dat hy my met die vuis geslaan het nie,” getuig Stander.

‘Sy was bang vir hom’

Stander het Venter vir sowat sewe jaar geken en volgens hom het hy haar gereeld gehelp wanneer sy hulp by die huis benodig het.

“Sy het my vertrou en verskeie kere gesê sy is bang vir die beskuldigde. Sy het vantevore verskeie beserings opgedoen en Braam sou dan sê sy was dronk en het geval of haarself gestamp. Sy het altyd nuwe beserings gehad wanneer sy by Braam was.”

Volgens Stander het hy op 8 Junie laas ’n WhatsApp-boodskap van Venter ontvang. Hy het haar twee dae voor dit vir die laaste keer gesien.

“Sy het ’n groot sny op haar voorkop gehad. Volgens Braam het sy teen die vragmotor se sleepwa geval. Sy het egter nie gesê waar die merk vandaan kom nie.”

Fourie staan tereg op aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak duur Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Casper ·

Die omstandigheidsgetuienis is oorweldigend in hierdie saak en die staat het prima facie bewyse dat hy wel die moord gepleeg het.As sy wel aan die beserings dood is soos in die nadoodse ondersoek bevind is sou sy nie nog ‘n bottel brandewyn in haar hand kon vashou nie.Hoekom het hy vir sy vriend gesê hy is in die moeilikheid.Hoe het die oorledene al die beserings opgedoen.Hy lieg soos ‘n tande trekker.Dolus evetualis is hier ter sprake.Hy het die handelinge gepleeg wetende dat hy haar kon dood maak maar steeds met die handelinge voort gegaan.

Lee ·

Jong, hier is iewers ‘n groot slang in die gras. Senekal alweer in die nuus vir die verkeerde redes!

ES ·

Klink maar vir my of hy ‘n vroueslaner en self ‘n alkoholis is – hy kan maar in die tjoekie gaan bly vir die res van sy lewe en hoop niemand daar binne vind uit hy is ‘n vroueslaner nie.

Eerlik ·

“Haar drank probleem” se hy met n bottel brandewyn in die hand. Ek hoop hy sit lank.

Blikkantien ·

En die arme slagoffer is nie daar om haar naam te verdedig nie. .

Blikkies ·

Sjoe, deurmekaar met baie verskonings, klink na ‘n dronk spul.

Hennie ·

Eerste keer dat ek hoor iemand vermink hul eie liggaam gedurende selfmoord. Gooi die gemors in ‘n tronksel en neuk die sleutel weg. Kos moet ‘n opdionele ekstra wees! Hy gee die witmens ‘n slegte naam!

piet ·

Kyk, ‘n dronk persoon kan vreemde dinge aanvang maar hierdie klink darem te buitensporig.

Patch ·

Hy is moedeloos oor HAAR drankprobleem maar ek dink hy is die een met die drankprobleem. Ja broer…brandewyn het nie brieke nie en ‘n dronk man sien en verstaan nie rede nie. Betaal maar vir jou dade agter die tralies.

Louise ·

RIV en sterkte aan die wat agter bly, dis sleg dat sy soveel pyn en seer moes deurmaak!
Jy is vry van n godelose wereld…

piet ·

“Ek is in die moeilikheid”. Hy bel en gaan eers na sy pelle, nevermind die polisie of die nooddienste. Hmmm….

Anthony ·

Selfmoord gepleeg…. en dan die “sy het erge brandwonde oor haar hele liggaam gehad” en sy het kop onderstebo gesit me n bottel brandy in haar hand ??? Nou wat nou?

Herpiet ·

Brannas het nie brieke nie. Laat party mense kop verloor. Whiskey sou moontlik anders uitgedraai het

Faraway ·

Geld vir brandewyn maar nie vir petrol . . .
Hier’s meer probleme as wat ons dink

JohanR ·

Ek is seker ek het die ou al gesien daar in Pretoria waar hy in ‘n asblik rondkrap!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.