Niemand is nog in hegtenis geneem nadat die Standardbank in Fourways, noord van Johannesburg, Donderdagmiddag beroof is nie.
Kapt. Tsekiso Mofokeng, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die mans het omstreeks 14:00 die bank betree en die bankbestuurder gedwing om hulle na die kluis te neem. Hulle het ʼn onbekende bedrag geld gesteel en van die toneel gevlug.
“Dit is onduidelik of die mans gewapen was, aangesien geen skote gevuur is nie. Niemand is in die voorval beseer nie,” het Mofokeng gesê.
Ross Linstrom, ʼn woordvoerder van Standardbank, het gesê die bank se personeel wat deur die rooftog geraak is, ontvang berading.
“Die veiligheid en gesondheid van ons klante en personeel is vir ons ʼn groot prioriteit,” het Linstrom gesê. – SAPA