Foutiewe verkeerslig lei dalk tot ongeluk waarin 2 kinders sterf

Hernus Nieuwoudt. Foto: Facebook

Die polisie in Noordwes ondersoek tans of ʼn foutiewe verkeerslig moontlik bygedra het tot die botsing Vrydagaand op die N12 in Klerksdorp wat die lewe van twee kinders geëis het.

Maroela Media het vroeër berig drie leerders van die Laerskool La Hoff en drie leerders van die Hoërskool Klerksdorp is beseer toe die voertuig waarin hulle was teen ʼn vragmotor gebots het. Al ses kinders is in die hospitaal opgeneem ná die botsing.

Hernus Nieuwoudt (15) het Sondag aan sy beserings beswyk en Aimeé Janse van Rensburg (12) het Dinsdag in die hospitaal gesterf. Die ander kinders wat beseer is, is Rilanka Nieuwoudt en Lenike de Beer, gr. 6-leerders aan die Laerskool La Hoff, en Helouise Nieuwoudt en Marchand Nel, gr. 10-leerders aan die Hoërskool Klerksdorp. ‘n Ouer het die voertuig bestuur.

Wolfgang Wallhorn, DA-raadslid in die Matlosana-munisipaliteit, het gesê dit het onder sy aandag gekom dat die swak toestand van die padoppervlak en ʼn foutiewe verkeerslig moontlik tot die tragedie kon bygedra het.

“Ons het al voorheen gevra dat die aansluiting waar die ongeluk plaasgevind het, geplavei moet word aangesien die teeroppervlak nie die swaar padverkeer kan hanteer nie. Die teeroppervlak is daarom gehawend, ongelyk en geneig tot slaggate,” het Wallhorn gesê.

Aimeé Janse van Rensburg. Foto: Facebook

“Daar was voorheen klagtes oor die funksionaliteit van die driefase-verkeerslig by die aansluiting. Ons het beeldmateriaal van die verkeerslig gesien wat Vrydagaand kort ná die ongeluk geneem is. Daarop kan duidelik gesien word hoe die verkeerslig van groen na rooi verander, sonder om eers tot die oranje fase oor te gaan. Ons sal egter ons eie ondersoek hieroor doen.”

Wallhorn het gesê tydens ʼn besoek Dinsdagaand aan die toneel was spanne van die munisipaliteit en kontrakteurs besig om kabels by die aansluiting oop te maak om aan die verkeerslig te werk. “Die verkeersligte het rooi geflikker en daar was amper ʼn paar ongelukke aangesien motoriste doodgewoon die waarskuwings geïgnoreer het,” het hy gesê.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê sy is bewus van bewerings dat die verkeerslig foutief was, maar kan nie hierop kommentaar lewer nie aangesien die polisie se ondersoek nog aan die gang is.

“Ons wag op beeldmateriaal van die kameras van die departement van openbare werke om te bepaal wie daardie aand reg van toegang by die aansluiting gehad het en wat fout gegaan het. Tot dan kan ons nie bespiegel of ʼn verkeerslig of iets anders die oorsaak van die botsing was nie,” het sy gesê.

“Sodra ons bepaal het wat skeefgeloop het, kan ons ook bepaal wat die aanklagte in die saak sal wees.”

Sy het gesê daar is direk ná die ongeluk ʼn klag van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder van die vragmotor aanhangig gemaak. Die moontlikheid bestaan dat die klag na strafbare manslag verander sal word aangesien twee slagoffers intussen gesterf het, maar dit sal afhang van die uitkoms van die polisie se ondersoek.

Wallhorn het sy medelye teenoor die families van die kinders en hul onderskeie skoolgemeenskappe uitgespreek. Die party sal alles in sy vermoë doen om die presiese gebeure en relevante besonderhede van die voorval vas te stel.

“Ons sal die Matlosana-munisipaliteit verantwoordelik hou vir die moontlike nalatigheid van hul kant om die verkeerslig te onderhou en te verseker dat dit in perfekte werkende toestand is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nettie ·

Ja-nee, nou sal die politieke partye eintlik weer oormekaar val om in gevalle soos dié die “hero” te wees …. terwyl hulle eintlik moes toesien dat die paaie herstel en in goeie toestand en die verkeersligte in werkende toestand was vóór hierdie tragedie afgespeel het.

“Common sense” sê verder vir my dat ‘n mens ‘n verkeerslig, of dit nou rooi, groen of oranje is, áltyd met die wete dat dit enige oomblik kan verander, nader en dat ‘n mens eers kyk om te sien of dit veilig is, voor jy aanry, al het jy ry-voorreg. Dit is soos ek geleer bestuur het en 25 jaar later, beoefen ek dit steeds.

En swaar vragmotors “can’t stop on a dime”. Neem dit ook maar in ag.

Gesiggie ·

Als is goed en wel… maar hierdie nalatigheid, gaan nie die 2 onskuldigge kinders se lewe terug bring… ons land se paaie en als is in n slegte toestand… miljoene rand word spandeer om ander goed, maar dir wat belangrik is word gelos?? ek hoop maar jul kan iets uitrig… hierdie ouers het op die oomblik baie seer.. en ja kan dink dat daar ook vrae gevra word… die ander kinders wat saam in ongeluk was, moet nog herstel… hul moet ook oor die hartseer kom dat hul 2 van hul maats verloor het. Is daar al nuus wie die voertuig bestuur het tydens die ongeluk? Sterkte aan die ouers.. kan dink hoe leeg jul harte voel”’

Wouter ·

Soos ek verstaan het n minderjarige kind die voertuig bestuur. Hoop iemand kan my reg help.

Blommie ·

Ag asseblief Wouter lees maar weer die berig en sommer die van gister. ‘n OUER het die motor bestuur. Bid liewer vir almal as om hoorsê oor te vertel

Essie ·

Wouter, dit was Hernus se ma wat bestuur het en sy was nie nalatig nie, verkeerslig het vir vragmotor gewys om te ry…Ek weet want eks n vriendin van sy ma

marous ·

Kla dan die munisipale bestuurder aan vir strafbare manslag

Hartseer ·

Foeitog arme mamma, haar seun wat oorlede is in die ongeluk en sy het bestuur. My hart gaan uit aan almal in die bitter moeilike tyd.

Ria Coetsee ·

Wat van al die ander robots op die N12 wag die munisipaliteit vir nog sulke tragedies voor hul dit regmaak

Elmarie Boshoff ·

Hoekom daar altyd eers mense, veral onskuldige kinders, sterf voordat owerhede optree??

Coba ·

Ek lees nou die hartseer storie van die 2 tieners wat nog n lewe voor hulle gehad het, maar verkort is deur nalatigheid as ek dit so kan stel. My innige simpatie gaan met die ouers en famiies en die maaitjies van die kinders By ons is ook n robot wat n geel pyl gee om links te draai terwyl die motors aan di regterkant nog n groen het. Hier was al hoeveel onnodige ongelukke(gereelde) deur mense wat draai en karre wat aankom van die regtkant af. Maar nog steeds is die robot nie reg gemaak nie.

Pyl werk of nie... ·

Of die pyl werk of nie–mens KYK mos voor jy net voor aankomende verkeer indraai!
Gee nie om of die pyl groen is vir my nie EK WAG tot ek sien die voertuig van voor verminder spoed.
Mens NEEM NIE NET AAN nie!
Dankbaar dat ek geleer is om vir almal om my OOK te dink

Penelope ·

Baie sterkte vir die familie van almal betrokke. Mens wonder nou is die fout agv ‘n persoon wat nie die regte kwalifikasies het vir die pos waarin hy/sy aangestel is. Sover ek weet moet jy nogal weet wat jy doen as jy in hierdie pos is. SA is besig om in alle opsigte ten gronde te gaan. Here, help ons asseblief?

HARTSEER ·

Dit is vir my verskriklik hartseer, ek self is van Klerksdorp afkomstig en my familie bly nog daar. Ek deel my innige simpatie met die families sowel as met die trokdrywer. Ek ken die area baie goed net voor jy die robot kry is daar ‘n redelike afdraende, trokke kan nie so vinnig spoed verminder nie, ‘n video wat op sociale media geplaas is wys duidelik hoe vinnig die robot van kleur verander sonder om oranje te slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.