FPR distansieer hom van omstrede fliek se gradering

Inxeba – The Wound (Foto: ANA)

Die Film- en Publikasieraad (FPR) het Donderdag ʼn beantwoordende verklaring ingedien waarin hy homself distansieer van die Appèltribunaal, na aanleiding van ʼn hofgeding wat deur die vervaardigers van die veelbesproke Inxeba (The Wound) begin is.

Die Appèltribunaal het die FPR se klassifisering van die fliek as 16LS omgekeer en die rolprent as X18 geklassifiseer. Die rolprent val dus nou in dieselfde kategorie as pornografie. Dit beteken die rolprent moet uit alle fliekteaters onttrek word en kan nou slegs by volwasse winkels gevind word.

Dit beteken ook dat die prent nie in teaters of op enige ander platform uitgesaai mag word wat nié ingevolge die wet aangewese geriewe vir volwasse gehore is nie.

Die fliek, ʼn gay liefdesverhaal wat in isiXhosa vertel word en op die kortlys is vir vanjaar se Oscar-toekennings, se oorspronklike ouderdomsbeperking van 16LM (kru taal en seks), is in Februarie deur die FPR se appèltribunaal verander na X18 weens die klassifiseerbare elemente van seks, kru taal, naaktheid, dwelm- en alkoholmisbruik, geweld en vooroordeel.

Die vervaardigers van die fliek, Urucu Media, asook die fliek se verspreiders, Indigenous Film Distribution, het deur hul regspan, Webber Wentzel Prokureurs, hulself tot die hof gewend om die tribunaal se gradering om te swaai.

Die Congress of Traditional Leaders (Contralesa) in Gauteng, The Man and Boy-stigting en die appèltribunaal het aangedui hulle sal die hofgeding teenstaan.

Die FPR het egter in ʼn beëdigde verklaring hulself van die appèltribunaal se gradering gedistansieer.

“Die FPR se raad en die appèltribunaal is afsonderlike entiteite en die raad stem nie saam met dié sensorskap nie,” het die FPR in sy verklaring gesê.

“Dit is belangrik dat die posisie van die raad in die openbaar duidelik gemaak word. Die FPR steun nie die X18-gradering nie.” Die verklaring sê die FPR volstaan by sy 16LS (kru taal en seks)-gradering.

Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution, het gesê hul saak sal volgende week in die hof aangehoor word.

“Met die huide X-gradering is dit onwettig en ʼn kriminele oortreding wat tot vyf jaar gevangenisstraf kan lei as dit gekyk word. Ons werk hard om wettige maniere te vind om die fliek vir aanhangers beskikbaar te maak,” het Kuun gesê.

Kuun het aangedui hul regspan sal versoek dat die ouderdomsbeperking na minstens 18 aangepas word.

Inxeba (The Wound) handel oor die tradisionele ukwaluka, ʼn Xhosa-ritueel wat ʼn aanduiding is van ʼn seun wat ʼn man word, en wat besnydenis insluit. Kwessies oor seksuele identiteit word aangeroer in die vorm van ʼn gay liefdesverhaal. Die lokprent vir die fliek het wyd kommentaar uitgelok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.