Frank Opperman op ʼn missie om meer voete in teaters te kry

Die verhoog- en televisie-akteur Frank Opperman is onlangs aangewys as die Linden-ambassadeur vir die Aardklop-kunstefees. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die Goudstad het ʼn nuwe feesambassadeur en hy wil jóú vanjaar in teaters sien.

Die verhoog- en televisie-akteur Frank Opperman is onlangs aangewys as die Linden-ambassadeur vir die Aardklop-kunstefees, wat danksy sy opwipmodel vanjaar van 30 September tot 9 Oktober ʼn draai in dié woonbuurt sowel as op Potchefstroom én in Pretoria gaan maak.

“Die afgelope twee jaar was rof vir die feeste, maar ek is doelgerig om hierdie jaar meer voete by verhoogproduksies kry,” sê die 61-jarige Opperman in sy kenmerkende rasper stem.

“Ek is so opgewonde dat Aardklop hier sy plek kom inneem. Ek ken die buurt goed en weet dat die skole en gemeenskap die fees met ope arms gaan verwelkom,” sê hy breëbors oor sy nuwe rol.

Opperman was ook pas op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Ek wens, ek wens te sien. Dié treffende Aardklop-soloproduksie vertel die verhaal van Seb, ʼn lykversorger wat ʼn vervelige en ongelukkige bestaan voer tot ʼn seuntjie met ʼn terminale siekte oor sy pad kom.

Opperman is vanjaar ook vereer met die KKNK se Kunste Onbeperk-prys vir vertolking vir 2022. Daaroor gee hy egter net ʼn beskeie laggie.

“Jinnetog, dit was darem maar lekker om weer by die KKNK te wees. Jy voel minder alleen as jy kollegas en ou vriende by feeste raakloop wat in dieselfde bootjie as jy is,” sê hy oor die afgelope twee jaar wat talle feesterreine weens die Covid-19-pandemie leeg gelaat het.

“ʼn Fees is amper soos ʼn tipe ‘tydelike tydkapsule’. Daai ‘magic’ word vir daardie paar dae op een of ander dorp vasgevang en dan word alles opgepak en ‘poof’… dan’s dit weer weg. En as jy uitgemis het, jammer vir jou. Jy kan dit nie later op Catch Up kyk nie.”

Ook die direkte interaksie met die gehoor en geleentheid om optrede ná optrede te verbeter maak van die verhoog sy gunstelingplek.

Die selfverkondigde ‘teater junkie’ bieg dat hoewel hy bevoorreg is om die land met Ek wens, ek wens en die Dana Snyman-stuk, Steeds Donkie, plat te toer, dit by tye uitdagend is. “Dis nie soos voor die pandemie wat jy een vertoning vir ʼn bepaalde tyd doen en dan klaar is met hom nie. Mense bespreek, maar die blerrie onsekerheid waarmee Covid ons gelaat het maak dat venues nie datums altyd kan vasmaak nie en jy die heeltyd aan meer as een ding moet repeteer.”

Die Orkney snork nie-akteur maak ook geen grap oor die huidige inperkingsregulasies, “wat net 50% kapasiteit in teaters toelaat, maar ons soos sardiens in vliegtuie inprop”, asook die jarelange stryd rondom die betaling van heruitsendings nie.

Opperman was ook pas op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Ek wens, ek wens te sien.

Die bedrag wat Opperman byvoorbeeld vir die heruitsending van ʼn hele seisoen van Orkney snork nie ontvang is nie eens genoeg om sy gesin met ʼn restaurant-maaltyd te bederf nie. “Ons word darem maar lelik ingedoen, dis ʼn skreiende skande.”

Hy glo egter in besig én positief bly en sê die silwer randjie van sy post-Covid-produksies is die geleentheid wat dit hom bied om saam met sy vrou te toer.

“Kyk nè, die Oppermans kan ʼn bussie vir jou darem maar mooi pak. Ek het nie meer ʼn begroting vir ʼn klankman nie, so ek en my vrou laai self al die klanktoerusting en rekwisiete in ons wit bussie en saam toer ons die land plat. Ons loop soos ʼn masjien, dit hou ons fiks!”

Sy 15-jarige dogter en die “talentvolle jong laaitjies” waarmee dikwels werk hou hom ook jonk. Sy oudste seun is self ook in die vermaakwêreld bedrywig. “My hoop en vertroue is by die jong mense. Daar is so baie talent onder hulle, dis tyd dat hulle hul merk maak.”

Die “laaitjies” verwys na Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse, sy mede-akteurs in die kykNET-reeks Nêrens Noord-Kaap, ʼn verwerking van Nico Scheepers se gelyknamige teaterstuk wat sedert 2017 uitverkoopte teaterlokale gehad het.

Hy vertel dat sy rol as Lourens Adendorff in dié reeks hom na aan die hart lê. “Ek het hierdie program as ʼn kyker én akteur werklik geniet. Ek het Dinsdagoggende gekriewel om te sien hoe elke nuwe episode aanmekaar gesit is. Dit is werklik een van die mooiste goed wat ek ooit al op die kassie gesien het.”

Een van sy grootste drome tans is om Ek wens, ek wens in ʼn rolprent te omskep. Daar is reeds met teksverwerking begin en ʼn regisseur is gekies. “Maar ai, die finansiering, jy weet,” sê hy laggend met bak hande. Hy hou boonop ook deesdae sy lyf stem-akteur met die opname van luisterboeke in ʼn tuisateljee en sien uit om sy rol as feesambassadeur vol te staan.

“ʼn 44-jarige vrou het na ʼn onlangse vertoning in Boksburg by my gebieg dat sy daardie aand vir die eerste keer in haar lewe ʼn teaterstuk gesien het en sy was so opgewonde daaroor want ʼn hele nuwe wêreld het vir haar opgegaan. Ek wil dieselfde liefde vanjaar vir mense by die Aardklop-fees help kweek.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.