Frankfort-boer in waakeenheid ná aanval

Johnny Muller. Foto: Verskaf

Johnny Muller (45), die Vrystaatse boer wat Sondag in die vroeë oggendure op sy plaas in die Frankfort-distrik in die kop geskiet is, kan reeds met sy naasbestaandes praat en onthou wat tydens die aanval gebeur het.

Dalene Muller, Johnny se vrou, het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed met Johnny. “Hy is nog nie heeltemal buite gevaar nie, maar hy praat en hy herken ons almal,” het sy gesê.

“Die koeël het hom bokant sy regteroog getref, maar dit het sy brein heeltemal gemis. So daar is geen skade aan sy brein nie, waaroor ons baie dankbaar is.” Sy het gesê dokters was aanvanklik bekommerd dat die are in Johnny se nek, waar die koeël uit is, baie skade gekry het, maar ook daar is die skade nie so erg soos dokters aanvanklik gevrees het nie.

Maroela Media het vroeër berig Johnny, ʼn melkboer, is Sondag omstreeks 00:30 buite sy huis deur twee aanvallers oorval, kort nadat die gesin by die huis gekom het. Dalene het Maandag gesê aanvanklike berigte dat Johnny na buite gegaan het om ondersoek in te stel nadat hulle ʼn geluid gehoor het, is nie waar nie.

Sy vertel sy, Johnny, hul 16-jarige seun en hul 14-jarige dogter het by die huis gekom nadat hulle by vriende gebraai het. Toe hulle by die huis kom, het die gesin se honde oudergewoonte na die hek aangehardloop gekom. “Ons het soos ons altyd doen eers na die voorkant van die huis toe gery voordat ons om die huis gery het na die motorhuise wat agter die huis is. Daar het ons die huis se alarm afgesit. Niks was vreemd of buitengewoon nie,” het sy gesê.

Die gesin is by die huis in en Johnny het uitgestap om die voertuie in te trek, terwyl Dalene in die kombuis besig was. “Die volgende oomblik het ek ʼn geweldige harde knalgeluid gehoor. Toe ek by die venster uitkyk, het ek gesien hoe Johnny iemand wegstamp. Toe besef ek hier is groot moeilikheid.”

Dalene het dadelik na die kluis toe gehardloop om haar rewolwer te kry. Op pad na die kluis het sy ʼn tweede skoot gehoor. “Ek was besig om die rewolwer uit te haal, toe staan die man hier langs my.” Die aanvaller het die rewolwer by haar afgeneem en haar gevra waar die geld is. ʼn Tweede aanvaller was vermoedelik op daardie oomblik nog buite by Johnny.

Nadat Dalene vir die aanvaller gesê het dat hulle nie geld in die huis hou nie, het hy gedreig om haar te skiet. Sy het egter volgehou dat hy kon vat wat hy wou, maar dat daar nie geld in die huis is nie. “Mense het hierdie persepsie dat alle boere groot bedrae kontant in hulle huise hou. Dit is nie waar nie. Daar is dalk boere wat dit doen, maar ons hou nooit geld in die huis nie. Daar was regtig geen kontant in ons huis nie,” het Dalene gesê.

In hierdie tyd het die egpaar se seun by Dalene in die kamer aangesluit, terwyl hul dogter elders in die huis weggekruip het.

Nadat die aanvaller met hulle na ander kamers in die huis gestap het, het hy weer na die hoofslaapkamer teruggekeer om die inhoud van die kluis te bekyk.

“Dit is toe dat ek besluit het om na my spieëlkas toe te stap en die paniekknoppie te druk wat daar gelê het. Ek weet dit is net genade van Bo dat hy my nie gesien het nie, maar toe ek daardie knoppie druk, het die alarm afgegaan en hy het die pad gevat,” het sy gesê.

Die aanvallers het met Johnny se bakkie op die vlug geslaan. Dalene het die huis se deure gesluit terwyl hulle telefonies hulp ontbied het. “Ek het geweet Johnny is in die moeilikheid, maar ek het vir my kinders gesê ons kan nie buitentoe gaan nie omdat ons nie weet hoeveel aanvallers daar is of waar hulle is nie. Ons móés wag vir hulp om op te daag.”

Johnny is eers na die plaaslike kliniek op Frankfort gehaas, voordat ʼn vriend hom na ʼn hospitaal in Bethlehem geneem het. Hy is van daar per ambulans na ʼn hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

“Johnny het ná die aanval vir my gesê hy het buitentoe gestap en toe hy weer sien, was die aanvallers op hom. Hoekom die honde nie vreemd opgetree het of besef het daar is vreemdelinge op die erf nie, kan ek glad nie verstaan nie,” het Dalene gesê. “Ná daardie twee skote afgevuur is, was die honde heeltemal paniekerig, maar voor die tyd het hulle heeltemal normaal opgetree soos altyd.”

Sy het gesê hoewel sy baie dankbaar is dat sy en haar kinders nie seergekry het nie, is dit vir die gesin traumaties dat Johnny hierdeur moet gaan. “Ek kry vir Johnny bitter jammer, want hy is baie ongemaklik en het nou baie seer. Maar dit is nou maar net ʼn situasie wat ons moet hanteer.”

Ao. Lorraine Earle, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Eish ·

Dis hoog tyd dat die tipe misdaad se naam verander word na volksmoord. Daar is nie n manier dat dit net gewone misdaad is nie.

Frikkie (Nie pienk) ·

Die boere is nou Ramaphosa-paddas. Die water word al hoe warmer. Dit is ook nie net meer die ouer boere nie, maar alle boere word nou geteiken. Die regering het nie meer geld om plase op te koop nie. Dus, vermoor die boere en koop die plase spotgoedkoop uit die boedel.

Teresa ·

In ons geval, toe ons aangeval is het die honde ook geen geluid gemaak nie, hoewel ons geen werkers op die plot gehad het nie. Daar is later aan ons vertel dat sommige misdadigers reeds weke voor so ‘n aanval al langs die omheining urineer sodat die honde die reuk gewoond raak en dus geen geluid meer maak nie. Dis wanneer die honde gewoond is en nie meer blaf nie dat die aanval plaasvind.

Buitestander ·

Ons dank die Vader dat Johnny nie erensig beseer is nie. Die dood wink maar ider uur.
Ons bid die Here Jesus om julle almal veilig te bewaar in die moeilik tyd wat voorlê

Marisa ·

Die honde het die aanvallers op ‘n manier leer ken? Aanvalle word beplan …

Elsa ·

VERDOMP doen iets REGERING…los bietjie guptas uit of arresteer hulle en gee aandag aan al die onsinnige moorde en aanrandings…waar is sigbaarfheid??

Dina ·

Dank die Here saam met julle, Dalene. Wat ‘n oneindige genade dat die koeël sy brein gemis het. Mag hy gou herstel. Sterkte vir julle en julle kinders.

Geregtigheid ·

Maar boere mag nie skiet op diewe of oortreders op hul grond nie. Dan word hulle in hegtenis geneem sonder parrool EN nog gevonnis en tronk toe gestuur.
Hulle moet mos WAG om te kyk of word hulle en hulle gesin geskiet. Belaglik.

Anoniem ·

Die skoot het sy brein heeltemal gemis? Ongelooflik! God is GROOT! Ek bid vir ‘n spoedige en algehele herstel!

IvR ·

Ek is regtig bly die boer het die skietery oorleef, en dat die res van die gesin ook ok is. Maar ek kan nie help om te wonder wat gaan dit nog vat vir boere – en hulle vrouens – om ‘n leefstyl verandering te maak en hulle wapens by hulle te dra nie. ‘ n Wapen in die kluis is net ‘n geskenk vd aanvallers.

gatvol ·

Ek stem dat n mens dit glad nie meer buite kan waag sonder n pistool/geweer. Maar…sal daar OOIT iets aan die plaasmoorde en selfs die moord op blanke mense in dorpe en stede gedoen word??? Ek as vrou moet oral om my kyk as ek by my meenthuis in en uit ry…in die aande moet ek met my pistool feitlik onder my kopkussing slaap…hoeveel verdrukking en moorde nog??
Dankie Heer dat hierdie broodwinner en gesin gespaar is. Ek bid vir vinnige herstel en beskerming voorentoe van GOD. ns. ek is n leek, maar dink ook dit is n ‘inside job’

Tiger ·

Dis wonderlike nuus die.Mag hy spoedig en volkome herstel.Alle eer kom ons Vader toe want hy is Almagtig en in beheer!
Selfverdediging Wapens in kluise is nutteloos.Verkoop hulle anders gaan hulle net een mooi dag terroriste sn word.

Desire Uys ·

Ek wil net graag vir die Here baie dankie se dat Hy hierdie gesin bewaar het. Ek bid gereeld vir die boere en ek vra dat die Here hulle moet bewaar en beskerm teen die vyand. Dit moedig my aan om nie op te hou bid nie.

Theuns ·

Hoop hy word gou gesond maar een vraag wil ek vra waar was jou vuurwapen toe jy aangeval was , mense jy kan nie op n plaas bly en nie jou vuutwapen dra nie, ek bly in die dorp en gaan nie eers winkel toe sonder my vuurwapen nie en as my vrou saam ry dan het sy ook haar vuurwapen by haar. Ek vra asb mense word wakker hoekom eers n insident he voor dat jy begin paraat wees

Callie ·

Het dit ook genoem. Magtig mense, dis nie of gaan jy aangeval gaan word nie, dit is wanneer. Alle simpatie. Asb mense, veral op plase, jy kan nie n wapen uit die kluis wil gaan haal nie. Ek noem dit weer. Jy gaan nie uit in die nag nie. As jy moet is jy gewapen, iemand in die huis is gewapen en hou jou dop, daar is helder ligte buite en honde stap saam. Asb die permitte is uitgereik. Die jag is oop op die witman.

JvdW ·

Die hartseer waarheid is dat ons moet besef dat ons NERENS waarlik veilig is nie. Ons wêreld is stukkend en ons moet aanpas. ‘n Wapen in ‘n kluis beteken niks, soos wat almal kan sien in hierdie situasie die geval was.
Google asb “Golan Krav Maga International” of soek hulle op Facebook. Doen selfverdediging kursusse en leer om jou wapen PERMANENT aan jou te dra. Die enigste rede hoekom die mense van Israel oorleef met al die tereur aanslae teen hulle is omdat hulle goed opgelei is en bly vas staan in geloof. Aanvaar dat ons in dieselfde situasie is.
Elke man, vrou en kind moet weet hoe om ‘n wapen te hanteer en hoe om in ‘n nood situasie op te tree.
Heinrich en sy span is puik en kom doen opleiding op die plaas vir groepe boere, boervrouens en kinders bo 12 jaar.
Baie sterkte aan Johnny, Dalene en kinders. Behalwe vir die fisiese beserings is daar emosionele en sielkundige letsels wat lank gaan vat om te genees.

Johan ·

Ek hoop van harte dat jou man volkome sal herstel. Dit is ‘n bestiering dat hy nog leef. Baie sterkte

Hanna ·

Verseker ken die honde hulle. Geen twyfel daaraan nie. Sterkte aan die gesin. Ons bid vir Johnny en sy gesin.

Ck ·

Ag hou tog op so rassisties wees. Dit is nie jou vel kleur wat bepaal of jy gaan moor of steel nie. As jy wil moor of steel gaan jy dit doen. Of is Donovan Steenkamp en Henri van Breda ook eintlik ‘n ander kleur. Jys ‘n dief as jy kies om een te wees, Jy maak mense dood as jy kies om dit te doen.

gatvol ·

Agge neeeee!!!! Kan regtig nie dink jy gebruik die rasis woord???!! Ons praat en gesels hier van plaasmoorde……Doen jouself n guns en gaan kyk WIE pleeg die plaasmoorde. Ek stem saam met jou dat ENIGE ras moor. MAAR DIT IS NIE DIE GEVAL MET ONS BOERE OP HUL PLASE.

Popcorn ·

Ek is ook nie’ n privaatspeurder nie maar geen honde is net ‘gemaklik’ met ‘n indringer of vreemde persoon nie. Hierdie mense was of werkers, of het geleidelik vriende met die honde gemaak. Daar is min honde wat nie ‘n kabaal sal opskop as hulle vreemdelinge op ‘n erf teekom nie. Baie sterkte aan die gesin en veral die man wat so ernstig gewond is, ek hoop jy herstel volkome.

Haan ·

Rewolwers hoort nie meer in die kluis nie. Lei jou gesin op om gemaklik te wees met gewere en maak seker elkeen kan skiet. Dit mag dalk jou lewe red

Theresa ·

BAIE dankbaar dat die boer oorleef het. Wat ‘n vreesaanjaende belewenis moes die gesin nie deurgegaan het nie! Hoop die mense wat moord wou pleeg om te kom steel, word gou gevang. Die water word dalk warmer – maar die paddas sal metamorfeer. Alle sterkte aan die gesin wat soos vele nou al, deur hierdie tipe hel moet gaan in ‘n “sonnige Suid-Afrika”. Moet nooit gewoond raak aan hierdie walglike gedrag nie. Dit is en bly verkeerd.

madels ·

Ek is sooo dankbaar dat die res van die gesin nie aangeval is nie. Dankie dankie Jesus, dit kon baie erger gewees het. Ek dank Jesus dat Johnny nie dood is nie, ek dank Jesus dat die koel nie sy brien getref het nie, ek dank Jesus dat Hy Johnny vir die gesin beskerm het. Dankie dankie Jesus

Anna ·

My vraag is;
Waar is die Weermag?
SAP Kan Saam met die Weermag werk om Grense te beskerm,
Situasies soos Boeremoorde
Gangsterism in die Kaap te bekamp.
Hulle Kan wonderlike ondervinding op doen en Min gesaaide SAP bystaan in al die onwettige betogings.
Ek voel as belastingbetaler en sodoende bydraer tot land Se ekonomie moet ons beskerm word.
Gee my al die belasting geld terug Wat my familie al ingesit het in die land en ons Sal trek. Ons het gewerk Vir die geld en gee meer as genoeg Vir NIKS.

@ Anna ·

Alhoewel ek met jou saamstem het hulle NET GISTER polisiemanne gevang wat deel van ‘n plaasaanval was. Die probleem is die polisie is in sy kern ook korrup . jy kry steeds die wonderlike eerbare manne, maar dan kry jy diegene wat saam met die kriminele werk .. hoe roei jy dit uit? Die weermag is non existent, al stry almal wat daar werk daarteen .. EK voel 100% saam met jou dat in ons KONSTITUSIE geskryf staan dat die regering sy LAND en sy MENSE moet beskerm .. ons betaal belasting .. hoekom word ons uitgelewer aan die skelms? Kyk tydens protesaksies .. die polisie staan eenkant, te bang om betrokke te raak. Selfs goeie polisiemanne is te bang om op te tree anders word daar teen hulle opgetree (soos by Marikana waar hulle hulleself teen die massas moes verdedig). Ek dink ONS is slap, ONS vat nie die regering aan nie ONS sit nie eise teen die minister van polisie in nie ONS mense moet nie so bang wees op rippels te maak nie, almal staan net terug en vat die houe, en die ander is bang hulle verloor hulle werk.

Ek ·

Mense, julle moet julle honde in die huis hou (veral as julle nie daar is nie) en in die huis laat slaap. As hulle alleen buite is kan hulle vergiftig word of aanvallers kan hulle selfs “bevriend” oor ‘n tydperk deur eetgoed aan te bied en hul vertroue te wen. Dis aaklig dat mens so moet leef, maar ek lees baie artikels oor honde wat vergiftig is of nie snaaks opgetree het terwyl aanvallers op die erwe was nie. Hou hulle binne by jou.

Jacques ·

Moet op niemand staat maak in die uur van nood..beslis nie op die regering wat vrot is van misdadigers.
Boere sowel as stedelinge moet die plig om self beveiliging en verdediging opneem en ophou die verantwoordelikheid af te skuif na n droom van eendag…vir jou en jou gesin se onthalwe.
En dra jul flippen vuurwapens aan julle en leer om die goed met self vertroue te gebruik en binne die reg.

Frik Brits ·

Waghonde wat eiendom oppas, moet in hokke aangehou word en slegs die eienaar en sy onmiddelike familie moet kontak hê met die diere. Hulle word geleer om geen kos te vreet wat nie in sy voerbak gegee word nie. Klein stukkies vleis word op klein muisvalletjies geplaas en wanneer die hond die vleis optel, kry hy ‘n klap op sy neus. Hulle leer baie vinnig. Daar moet nietemin baie ernstig besin word oor die talle plaasaanvalle en baie boere wat self teen die vuilgoed optree, bevind hulself deesdae in die moeilikheid.

koos ·

Hi hoop en glo Jonny kan dit oorleef ek het.Sterkte aan hom en sy gesin.Ons dien n almagtige GOD

susan ·

Ek is bly ek is nie Frik Brits se honde nie. Die skrif is aan die muur. Xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.