Frankfort-boer met batterysuur gedreig

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

ʼn Boer (68) is Maandagoggend deur twee mans op ʼn plaas tussen Frankfort en Heilbron in die Vrystaat oorval en aangerand. Die aanvallers het ʼn ketting om sy nek gebind en gedreig om suur in die boer se oë te gooi en hom daarna dood te maak.

Joep Marais, bestuurder van Bassopa Security & Tracking in Frankfort, sê Gert Terblanche is net voor 09:00 deur die twee mans op die plaas genader. Hulle het voorgegee dat hulle skape wil koop. Terblanche is die plaasbestuurder op die plaas, maar boer self met ʼn paar skape.

“Terblanche het twee van sy plaaswerkers geroep om te help om die skape te vang. Die mans het egter aangedui dat hulle self die skaap wil vang en dat die werkers nie nodig is nie,” vertel Marais aan Maroela Media.

Die twee mans het toe agterop Terblanche se Nissan-bakkie geklim en na die skaapkamp toe gery. Op pad na die kamp het een van die mans op die bakkie se dak geslaan en gesê hy wil urineer.

“Toe Terblanche met die bakkie stilhou het die twee mans afgespring en hom met ʼn 9 mm-vuurwapen oorval. Hulle het hom uit die bakkie geruk en ʼn vyf meter lange ketting om sy nek vasgemaak. Hulle het ook ʼn korter ketting om sy arms vasgemaak en met slotte gesluit. Hulle het hom daarna aan die ketting rondgesleep en aangerand.”

Volgens Marais het die mans geld geëis. Hulle het R2 400 se kontant, wat Terblanche uit skaapverkope verdien het, gebuit.

“Die mans het daarna Terblanche aan die bakkie se breekyster vasgemaak. Hulle het gedreig dat hulle batterysuur in Terblanche se oë gaan gooi. Hulle het die bakkie se battery uitgehaal en probeer oopmaak, maar dit was steeds geseël.

“Een van die mans het ʼn mes teen Terblanche se keel gedruk en gedreig dat hy hom gaan doodmaak. Iets moes egter die mans afgeskrik het, want hulle het skielik te voet met Terblanche se beursie, selfoon en bakkie se sleutel gevlug.”

Volgens Marais kon Terblanche homself loskry en het na ʼn nabygeleë woonhuis op die plaas gehardloop. Hy het omstreeks 10:43 vir Bassopa Security & Tracking gebel.

Danksy die vinnige optrede van dié sekerheidsmaatskappy, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en plaaslike boere, is die mans in minder as twee ure ná die aanval vasgetrek.

Marais sê een van die boere in die omgewing het twee mans gesien wat op die teerpad tussen Frankfort en Heilbron, sowat 7 km van die plaas, gestaan en duimgooi het. Die boer het ʼn vuurwapen agter in een van die mans se broeke opgemerk.

“Die boer het ons gekontak en ons het dadelik ons noodspanne geaktiveer. Die mans het in die veld in gehardloop en ons het hulle agternagesit. Die eerste verdagte is omstreeks 11:10 vasgetrek en die tweede een omstreeks 11:26. Sektor 2 GPF in Frankfort en plaaslike boere het ook gehelp om die mans aan te keer.”

Terblanche se gesteelde beursie, selfoon en sleutels is teruggevind.

Terblanche het merke aan sy arms en nek van die ketting opgedoen en hy is baie getraumatiseerd.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en sê die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

minnie muis ·

hulle dokumente gaan wegraak in polisie stasie …..of hulle gaan r100 borg kry

Tino ·

Ek is nie te vrede nie, die ketting en dreigemente is baie erger as die doodskis storie.

Ek verwag geregtigheid maar net ‘n dwaas kan dit verwag waneer swart teen wit misdaad pleeg

Anel ·

Net gewapende roof??? Ek sou dit poging tot moord maak? En niemand het nog betoog en plekke afgebrand nie. As dit anders om was, nou ja…!

Werner ·

Poging tot MOORD met die Doel om erinstig te beseer roof en plunder hoop hulle kry Geen borgtog

Misky ·

Welgedaan aan almal betrokke en die vinnige reaksie. Dankbaar dinge het so uitgedraai en kon so anders gewees het. Sterkte Mnr. Terblanche en hou jou vuurwapen 24/7 op jou

N ·

R100 borgtog en n tik oor die vingers dan is hulle weer op vrye voet. Maar vang hulle en gee n paar klappe dan sit jy 5-10 jaar vir aanranding, poging tot moord, ontvoering, rassisme ensovoorts. Hulle gaan seker sê hulle het gaan werk soek.

Sokrates ·

Dit is n godskreiende skande dat die regering swyg oor hierdie traumatiese aanval en poging tot moord. Die haat en wreedheid van hierdie mense is eenvoudig verskriklik. Suid-Afrikaners is reeds so afgestomp deur moord en aanranding dat ons die gevaar loop om nie meer die diepte en reikwydte van hierdie tipe aanvalle te kan peil nie. Dit bréék en vernietig die gees op maniere wat nie sommer net deur n bietjie “berading” en moed inpraat genees kan word nie……moenie julself bluf nie. Onthou wat met die sg “doodskis” twee gebeur het? Wat die aard van hul steaf was? Hoe sal geregtigheid hierdie keer uitspeel? Is ons strafregstelsel onverskrokke aan die kant van waarheid en geregtigheid?

Aikie ·

Nou moet die polisie nog net sê dit was ‘n “spontane lukrake” aksie wat op die ingewing van die oomblik uitgevoer was. Iemand moes hulle êrens’ n gat in die kop gepraat het dat hulle sou wegkom met so ‘n vergryp en daar was beplanning gewees om die man eenkant te kry en te beroof, aan te rand en so meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.