Frankfort-plaasaanval: ‘Dit gaan elke dag ʼn bietjie beter’

Johnny Muller. Foto: Verskaf

Johnny Muller (45), die melkboer van Frankfort in die Vrystaat wat Sondag in die vroeë oggendure tydens ʼn plaasaanval in die kop geskiet is, is steeds in ʼn bestendige toestand in die waakeenheid van ʼn Bloemfonteinse hospitaal.

Dalene Muller, Johnny se vrou, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar lê nog ʼn lang herstelpad vir Johnny voor en sy verwag dat hy nog ʼn hele ruk in die waakeenheid sal wees. “Dit gaan elke dag so ʼn klein bietjie beter. Die dokters het nog nie besluit of hulle gaan opereer nie. Sy oë is nog baie geswel, maar die swelling sak stadigaan,” het sy gesê.

Sy het gesê Johnny is wakker en kan met die mediese personeel en sy besoekers gesels, maar sukkel nog om sy oë behoorlik oop te maak weens die erge swelling. “Hulle gee hom natuurlik pynmedikasie en antibiotika, maar hy is nie onder verdowing nie. Hy gesels met ons en herken ons stemme wanneer ons hom besoek.”

Maroela Media het vroeër berig Johnny is omstreeks 00:30 buite die gesin se huis op die plaas deur twee aanvallers oorval toe hy uitgestap het om die voertuie in die motorhuis te trek. Hy is bo sy regteroog geskiet.

Een van die aanvallers het Dalene in die huis met ʼn vuurwapen aangehou en kontant geëis. Sy kon egter daarin slaag om die paniekknoppie te druk en die aanvallers het met Johnny se bakkie op die vlug geslaan. Dalene en die egpaar se 16-jarige seun en 14-jarige dogter is nie tydens die aanval beseer nie.

Dalene het Woensdag gesê dit is nog nie duidelik wanneer die gesin sal terugkeer plaas toe nie en sy verwag dat hulle eers ʼn ruk in Frankfort sal bly totdat Johnny ten volle herstel het. Die Muller-gesin en ander familielede is vir eers in Bloemfontein om Johnny by te staan.

“Dit is ʼn bietjie moeiliker om nou hier in Bloemfontein te wees. Ons sou verkies om op die plaas te kon wees en normaal met ons lewe aan te gaan, maar dit is nou die situasie waarin ons is en ons moet dit net hanteer. Dit help nie om op die negatiewe te fokus nie,” het sy gesê.

Ao. Lorraine Earle, woordvoerder van die polisie, het gesê Muller se bakkie is intussen verlate gevind in Standerton. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.