Frankryk wil Wes-Kaap droogtehulp bied

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Frankryk het sy hulp aan die Wes-Kaap gebied met die erge droogte wat die provinsie tans teister.

Laurent Amar, die Franse konsul-generaal, het dié voorneme Woensdag tydens ʼn vergadering met redakteurs van Independent Media bevestig. “Dit is nog te vroeg om besonderhede te gee, maar ons kan beslis hiermee hand bysit en help om ʼn ramp te voorkom en langtermyn oplossings te vind, eerstens deur geld en beleggings te voorsien,” het Amar gesê.

Hy het gesê die geld sal waarskynlik van die Franse Ontwikkelingsagentskap kom en bygevoeg die agentskap is gereed om met munisipaliteite in die provinsie saam te werk. “Ons kan ook tegnologiese oplossings deur ons maatskappye bied. Ons het goeie ervaring in die waterbehandelingsgebied,” het Amar gesê.

Hy het gesê daar is reeds verlede week ʼn ondersoekende vergadering in hierdie verband met Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, gehou, en het bygevoeg Frankryk is ernstig daaroor om die provinsie te help om maniere te vind om watervoorraad te stabiliseer.

Ambassadeur Christophe Farnaud het bevestig “ons maatskappye was reeds in verbinding met plaaslike owerhede”.

Daar word verneem Duitsland het ook na vore gekom en hulp aan Kaapstad en die omliggende gebiede aangebied met die ergste droogte die afgelope eeu.

Die burgemeester se kantoor kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie, maar De Lille het in ʼn onderhoud verlede maand bevestig die stad kyk na die Franse Ontwikkelingsagentskap, die Duitse Ontwikkelingsbank en plaaslike banke om waterverbeteringsprojekte te befonds nadat R2,6 miljard reeds uit die stad se eie sak gebruik is.

Die stadsraad het vandeesweek planne goedgekeur om ʼn waterheffing te implementeer wat gegrond sal word op die markwaarde van individuele eiendomme om fondse vir sy waterprojekte aan te vul. Dit is deur die ANC, as opposisie in die stad en die provinsie, gekritiseer wat meen daar moes vroeër opgetree geword het nadat navorsers meer as ʼn dekade gelede al gewaarsku het dat die gebied op ʼn ernstige waterkrisis afstuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Water kriek ·

Bou nog damme…. Die volk raak groter, damme bly dieselfde. Meer mense=meer water verbruik….

Tania Nell ·

Dit help nie jy bou damme en daar kom nie reën nie…dit is ‘n langtermyn oplossing. Die Kaap het nou onmiddellike verligting nodig.

Reinhardt ·

Meer damme, net soos meer paaie, los die simptome op, nie die oorsaak nie. Die oorsaak is te veel mense, wel dit gaan nie verander nie. So ons kort n ander oplossing. Een waar ons ons water meer effektief gebruik. Bv ophou skoon water vir toilette en skottelgoed te gebruik.

Willie ·

Wonder net hoekom hulle nie nou die geleentheid gebruik om die damme skoon te maak nie en te ver groot nie?

Rooi jan ·

Ek stem met die ANC saam die DA moes geweet het die ANC nasionale regering gaan nie hulle hulle werk doen en planne maak om die Weskaap van water te voorsien nie en self n plan gemaak het soos hulle nou doen.

B-man ·

Voor die DA was dit in ANC beheer. DA sit met nagevolge van nalatigheid en wanbestuur van ANC-beleid en -korrupsie.

Jaques ·

Rooi Jan, indien jy die hele storie gevolg het vanaf die begin van die jaar, sou jy geweet het dat die plaaslike regering van die WK telkemale aansoek gedoen het om grootter begrootings te verkry vanaf die national regering, maar elke keer die aansoek geweier is.
Nou gebuik die nationale regering natuurlik weer vuil taktiek om die plaaslike WK regering the probeer as sleg uitmaak, dit nadat hulle eers die ANC se gemors moes skoonmaak en begin in lyn te kry het met hoe ‘n regering moet funksioneer.

John ·

Die Vrystaat kan doen met Franse hulp. Al wat uit Kuba kom is standbeelde en name van oorlede Kubane wat nog nooit eers voet aan wal gesit het in SA nie wat nog enige hulp gebied het … die res van die huidige helpers geniet die plaaslike cusine en … en … en kos die stadsraad miljoene … wat eerder aan die betaal van die uitstaande skuld spandeer kon word.

B-man ·

Sê ek ook. Frankryk en Duitsland kan maar terugstaan, ons het mos klaar ‘n klomp Kubaanse ingenieurs wat alles kan ontwerp, implementeer en bestuur (en gaan nog meer kry). Kuba se water en sanitasie-infrastruktuur is mos ligjare voor die lande uit die Europese-unie…

WitBlits ·

Dit klink vir my meer soos opportunistiese bemarking as die Franse meld dat hulle “deur hulle maatskappye tegnologiese oplossings kan bied” en dis nie die maatstaf vir hulp aanbied nie!
Die Guptas het ook hulle hulp aangebied en kyk waar sit ons nou ….!
Was Franse maatskappye nie ook by die wapenskandaal betrokke nie en waar het ons geeindig?

Tania Nell ·

Moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. Ons moet ons trots in ons sak steek en nie nou picky raak nie.

B-man ·

Franse maatskappy was ook betrokke by die Gautrein en e-Tol “verbeteringe”. Soos ek dit het skuld SA die Franse nog baie geld vir hierdie projekte en dis deels hoekom SANRAL so graag wil hê dat almal hulle e-tol moet betaal. Die staat, in al sy wysheid, besluit mos om eerder van duur buitelandse dienste gebruik te maak eerder as om kennis en ondervinding by ons eie privaatsektor te gaan soek.

Al ·

Asof die ANC hul in elk geval sou steur aan so verslag indien hul aan bewind was. Hul steur hulself nie eers aan hul ANC president se manewales nie.
Ek is bly as ander lande help met krisis.

Gert Nel ·

Ek dink dit is puik as die Franse en Duitsers betrokke raak. Die ANC kan nie vinger wil wys nie omdat staatskaping en korrupsie al is waarin hulle belangstel.

Absurd ·

Die laaste paragraaf se besluit is absurd. Dit is presies dieselfde as ‘n heffing op meer as een toilet in my woning terwyl net ek alleen daar woonagtig is. My nood bly mos dieselfde en het niks te doene met die aantal toilette. Wat het die waarde van my eiendom te doene met waterverbruik waar daar ‘n beperking is?
Ja, daar is jare gelede gewaarsku maar die ‘pôpô’ en die ‘fan’ moet eers by mekaar uitkom!

Pikkewyn ·

As die Stad Kaapstad dan nou finansiële hulp gaan kry van twee lande, vir wat moet ons dan nog ‘n levy ook betaal? So word die ‘hond’ wat reeds lê net nóg harder geskop!

Jayare ·

Sover ek bewus is, is die Franse nogal ver gevorder met water tegnologie soos bv ontsouting en grys water herwinning. So as hulle kundiges kan betrokke raak en ‘n hulp skenking van die regering word aangewend om Franse tegnologie te implementeer sien ek nie ‘n probleem nie.

Hendrik ·

Moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. Gebruik fondse en hulp soos aangebied want…die werklikheid kan wees dat Kaapstad regtig in Mei sonder water gaan sit. Wat dan?

Altie ·

Ek wonder nou net…. presies waar en hoe is die R2, 6 miljard reeds aangewend? ……..

Ben ·

Stem saam met Water Kriek. Meer dame of vergroot / verdiep die huidige dame want na 7 maer jare kom 7 Vet jare. Ons bevolking is besig om te vergroot asook die hele Afrika se mense is omtrent hier. Ons dame sal weer vol word. Met vergrote dame sal die toekoms makiliker hanteer kan word. 1) Groter dame sal langer neem om leeg te word 2) Meer verdamping sal plaasvind, m.a.w die siklus kan dalk omgedraai word. Wat van meer opgaardame wat toe is?

Bob ·

So tussen al die universiteite in ons liewe land kan hulle nie uitdink watse tegnologie om te gebruik nie. Hulle kry immers geld vir navorsing. Ek dink die probleem is nie die tegnologie nie. Dit moet geimplementeer word voor dit werk. Toemaar ek glo as die water opraak laat die mense wyn drink.

Theresa ·

Gebruik die kans om soutwater te ontsout. Hul het die geld. Hul steek ‘n hand van hulp uit. Hou op om mense per salaris met meer en meer te hef vir elke ding. Die rondloper drink ook water en was boonop wasgoed in spruite. ALMAL moet dieselfde opdok vir water.
Fokus nou op onmiddellike hulp – wat ontsouting kan laat realiser. Dalk kry jul nooit weer die geleentheid nie.

Estelle van Dyk ·

Ons waardeer alle hulp, hoop net wie ookal help gaan toesig hou waar hul geld heengaan en dat dit nie in iemand se beursie beland nie. Baie dankie Frankryk en Duitsland

Karma ·

Ek dink Frankryk gaan met teleurstelling agterkom dat enige geldelike bystand wat hulle aan die Wes-Kaap gaan bied vir droogteverligting en watervoorrad-krisisbestuur, gaan in die sake van politici, kaders en dié se entrepreneuristiese ‘vriende’ beland en nie aangewend word vir die doel waarvoor dit beskikbaar gestel was nie. Die Franse ken nog duidelik nie die korrupte spul politici, kaders en dié se vriende in dié land nie.

JD ·

Hou op om massiewe nuwe ontwikkelings te bou en jaag al die immigrante terug van waar hulle kom. By die informele nedersettings word net water gemors. Gaan kyk maar. Daar word net niks gedoen nie. Nou moet ek en jy betaal omdat ons eiendom meer waarde het as hulle sin. Hulle dra al jare kennis va water wat verlore gaan en in die see in loop elke dag maar daar was nooit iets gedoen om dit te herlei ma die damme toe nie.

Danie Acker ·

Tyd dat iemand help help. Vir my kom dit voor asof die Wes Kaap regering nog absoluut niks gedoen het nie en die Kaapstad Munisipaliteit strompel van een krisis na die ander sonder daadwerklike optrede of vordering.

Derik ·

Hahaha, daar is meer as ‘n dekade gelede gewaarsku dat die gebied op ‘n ramp afstuur… ‘n dekade gelede toe die ANC nog aan bewind was in die WK.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.