Frans Steyn se broer neem eie lewe

Frans en Wimpie Steyn. Foto: Facebook

Frans en Wimpie Steyn. Foto: Facebook

Die Springbok-senter Frans Steyn se broer, Wimpie (31), het Maandagoggend sy eie lewe op die familie se plaas buite Bethlehem geneem.

Ian Schwartz, die Springbokke se spanbestuurder, het die nuus bevestig. “Frans het my ná ons oefensessie Maandagoggend ingelig, pas nadat hy self die tragiese nuus ontvang het dat sy broer oorlede is,” het hy gesê.

“Ons sal nie enige besluite oor sy onmiddellike betrokkenheid by die span neem nie. Sy persoonlike situasie is nou die belangrikste en ons sal hom en sy familie ondersteun gedurende hierdie moeilike tyd. Ons gedagtes en gebede is by Frans en sy hele familie in hierdie routydperk.”

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie is Maandagoggend na die plaas ontbied. Hy het gesê die oorledene het homself in ‘n voertuig geskiet. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Gerrie Swart, Frans se agent, wou nie Maandag kommentaar lewer nie.

Alani Janeke, ʼn jarelange vriendin van Wimpie, het aan Maroela Media gesê dat hy ʼn baie positiewe gees gehad het en elke dag opgehelder het. “Ek gaan hom bitter baie in my lewe mis, absoluut elke dag,” het ʼn emosionele Janeke gesê. Sy het gesê as sy geweet het waarom Wimpie sy eie lewe wou neem, sou dit dalk makliker gewees het om sy dood te verwerk.

Medelye het intussen ingestroom op sosiale media. “Gedagtes en gebede aan Frans Steyn en familie in die baie moeilike tyd, sulke tragiese nuus. Baie sterkte, mag God julle kalmte gee,” het Breyton Paulse, TV-aanbieder en voormalige Bok-vleuel, op Twitter gesê. Die voormalige Springbok-kaptein Corné Krige het gesê: “Ons gedagtes is met Frans Steyn en sy familie. Mag vrede en vertroosting julle in die moeilike tyd vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willie van der Merwe ·

Meegevoel aan die Steyn familie in die moeilike rouproses….Baie Sterkte.

Johann Marx ·

Niks wat ek kan sê kan hierdie situasie verander nie. Het dit self alreeds 3 keer beleef. Tyd bring nie genesing soos die spreekwoord sê nie. Redenasies bring geen antwoorde nie, ek het al vir afgelope 17 jaar probeer. Jy leer eenvoudig om daarmee saam te leef…..want daar is geen ander opsie nie. Ek ween in my hart vir hierdie familie…..en baie ander soos hulle…

Eliza-beth ·

Johann Marx – ek weet OOK hoe dit voel en stem 100% saam met jou sentimente. Mens kan die familie net sterkte en vrede toewens. Dit kan in enige familie gebeur – ons verstaan werklik nog glad nie die werkinge van die brein en hoe dit inwerk op emosies nie. Ons DINK ons weet baie maar eintlik weet ons bitter min.

Daleen Snyman ·

My innige meegevoel aan die familie. Dis so hartseer

Jan Henning ·

Tragies. Ons gebede is met die familie vir vertroosting

George ·

My simpatie aan die Steyn-familie. My hart gaan uit na bulle. Dit is maar ‘n bitter beker om te drink. Ek was 3 jaar gelede in die selfde situasie. Soos Johann Marx gesê het, tyd maak dit sagter maar dit gaan nooit weg nie.

Pieter ·

Baie sterkte aan die Steyn familie mag God julle staande hou deur hierdie bitter moeilike tyd. Ons familie het ‘n jaar gelede dieselfde ervaring beleef met my broer se selfdood. Daar is soveel vrae en verwyte, maar stem saam met die vorige skrywer dat mens raak mettertyd gewoond om saam met die verlies te leef.

Marjorie Frylinck ·

Ons innige meegevoel gaan uit vir Frans Steyn en sy familie. Mag die Heilige Gees, ons Groot Trooster jul troos, versterk en dra in hierdie baie seer tydperk in jul lewens! Ons het 4 jaar gelede my “dinamiese briljante broer wie ‘n Skoolhoof was by Jeugland Hoërskool was ook verloor toe hy sy eie lewe geneem het, soooo onverwags en hy was die laaste persoon wie ons gedink het dit sou doen, want hy was altyd daar vir ander, dan wonder ‘n mens nogsteeds hoekom? ek was baie na aan my boetie en mis hom nog elke dag! sterkte Frans!!!

Tascha ·

Ai dis so vreeslik hartseer! My innige medelye en simpatie met Frans en sy familie ek bid dat Jesus julle sal toevou in die holte van Sy hand en dat Hy die helende balsem sal word aan jul harte. Baie sterkte vir julle.

Marthie ·

Baie sterkte vir Francois en sy familie. Mag die Here julle hierdeur dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.