Franse-kernkragooreenkoms sal onderteken word

Cruas-kernkragaanleg in Ardèche, Frankryk Foto: EDF

Cruas-kernkragaanleg in Ardèche, Frankryk Foto: EDF

President Jacob Zuma het Vrydag aan Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, die groenlig gegee om ʼn kernkragooreenkoms met Frankryk te onderteken.

Joemat-Pettersson sal ʼn ooreenkoms vir samewerking in die ontwikkeling van vreedsame gebruike van kernkrag tussen die Republiek van Suid-Afrika en regering van die Franse Republiek onderteken, het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê.

Die departement en sy eweknie in Frankryk sal die besonderhede van die ooreenkoms bespreek.

Maharaj het ook bevestig dat Zuma vroeër aan Joemat-Pettersson toestemming gegee het om ʼn kernkragooreenkoms met Rusland aan te gaan. “Die president het op 20 September aan die minister toestemming verleen om ʼn ooreenkoms aan te gaan tussen die Suid-Afrikaanse regering en die Russiese Federasie oor die strategiese vennootskap en samewerking in die veld van kernkrag en nywerheid,” het hy gesê.

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag gesê Joemat-Pettersson moet besonderhede verskaf oor die outoriteit wat vereis word om ʼn kernkragooreenkoms met Rusland te sluit. “Die DA is baie besorg oor berigte dat sy die jongste ooreenkoms met Rusland in die geheim onderteken het en sonder die betrokkenheid of teenwoordigheid van enige ander departementele of diplomatieke personeel,” het DA-LP Lance Greyling in ʼn verklaring gesê.

Klik hier om alle vorige berigte wat met kernkrag verband hou, op Maroela Media te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.