Franse seevaarder wat van Houtbaai seil steeds spoorloos

Die vermiste Fransman Emmanuel Dailler. (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) help steeds soek na die Franse seevaarder wat verlede maand aan die kus van Houtbaai in die Wes-Kaap spoorloos verdwyn het.

Emmanuel Dailler (56) het op 2 Maart alleen aan boord van die Akela II vanuit die Houtbaai-seiljagklub vertrek op pad na Martinique in die Karibiese Eilande. Meer as ʼn maand later het hy steeds nie sy beplande bestemming bereik nie en word as vermoedelik vermis beskou.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê die laaste keer wat daar met Dailler kontak gemaak is, is toe hy uit Houtbaai vertrek het.

“Akela II het slegs mariene VHF-radiokommunikasie aan boord,” sê Lambinon.

“Daar is egter geen nuwe leidrade om te help om die Akela II en Dailler te vind nie.”

Die NSRI het vroeër vermoed dat hy oor die Atlantiese Oseaan na die Karibiese Eilande geseil het, maar daar is geen duidelikheid of hy ooit in die rigting van die Karibiese Eilande gegaan het nie.

“Omdat daar nie verdere leidrade is oor waar hy homself bevind nie, kan die moontlikheid nie uitgesluit word dat hy dalk in die rigting van Australië gevaar het nie, omdat hy ʼn suster het wat daar woon.”

Dr. Cleeve Robertson, uitvoerende hoof van die NSRI, sê daar is egter nog nie ʼn formele soektog na Dailler van stapel gestuur nie omdat daar geen ander inligting is nie, buiten dat hy verlede maand uit Houtbaai vertrek het.

“Dit is nog ʼn raaisel of hy dalk van plan verander het en eerder in die teenoorgestelde rigting van die Karibiese Eilande gevaar het,” sê Robertson.

“Ons is wel baie dankbaar vir almal wat help om bewustheid hieroor te skep. Die hoop is dat iemand na vore sal kom wat dalk die seiljag op die see sien vaar het. Dit is die eerste stap om die stukke van die legkaart bymekaar te sit.”

Die Akela II is ʼn wit seiljag met geen naam aan die kant van die vaartuig nie.

Lambinon sê Dailler se Akela II het geen verband met die Akela II-seiljag wat tans in die Karibiese Eilande vaar nie.

“Dit is bloot toevallig dat die twee seiljagte dieselfde naam het.”

Die NSRI, in samewerking met die Franse owerhede, doen ʼn beroep op die maritieme gemeenskap in die Atlantiese en Indiese Oseaan om op die uitkyk vir die seiljag te wees.

“Die NSRI en die Franse owerhede hou Dailler se geliefdes in hul gedagtes in hierdie moeilike tyd,” sê Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

altyd hartseer om van so-iets te lees, maar wat my wel opval is die feit dat hulle aanvoer dat hy moontlik van koers kon verander het. ‘n Seevaardes sal mos nie sonder kennisgewing so iets doen nie, of mis ek iets?

Cherokee ·

Sandra, hy blyk vreeslik onafhanklik te wees. Ek woon op die strand en weet die see is nie ‘n speelmaat nie, en ek het agting vir mense wat sulke togte op see aanpak as enkeling. Wat ek eintlik sê is om so onafhanklik te wees, laat mense partykeer eie kop volg en nie standaard roetes en instruksies nie.

piper ·

ek het 3 maal oor die atlantiese oseaan geseil. na n maand behoord hy iewers uitgekom het. die vinnigste tyd wat ek dit gedoen het was 21 dae met n multiromp seiljag wat vinniger is as die enkelromp wat op die foto is. in daardie 21 dae sien jy geen ander seiljagte of bote nie. jy is absoluut op jou eie. nerens is hulp naby nie. hy het ook net n vhf radio wat daar niks werd is nie tensy n ander boot binne die opvangsgebied is nie wat maar net n paar kilometer is. sy lot klink nie goed nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.