Franse vrou in Bo-Kaap met mes gesteek, beroof

Die Bo-Kaap. Foto: Wikipedia

’n Franse burger is Dinsdagoggend in die historiese Bo-Kaap in Kaapstad helder oordag oorval, van haar rugsak beroof en met ʼn mes in die nek gesteek.

Die vrou sterk tans aan in ʼn Kaapse hospitaal nadat sy omstreeks 10:00 tussen die kleurvolle Kaap-Maleise huise in Chiappinistraat aangeval is.

Tristan Chesselet, ʼn inwoner van die gebied, het gesê hy het vanoggend ʼn vrou hoor skree waarna hy ondersoek gaan instel het. Sy bure het teen dié tyd reeds die bebloede vrou te hulp gesnel waar sy op die sypaadjie in dié straat gelê het.

“Sy het gehuil, ek weet nie hoe ernstig die wond was nie. Van ons bure was reeds buite. Die ambulans en die polisie het 45 minute geneem om op die toneel te kom,” het Chesselet gesê.

Inwoner Maria Honig het gesê sy het die ambulans gebel terwyl een van haar bure druk op die wond toegepas het.

Dié aanval is op sekuriteitskameras vasgevang. Volgens Honig is die beeldmateriaal ontstellend. Sy vertel dat die straat stil was ten tyde van die aanval en dat daar niemand in die straat was nie. Die vrou het na Walestraat gestap toe sy ʼn man van voor gekry het. “[Dit was] ʼn klein man. Hy het haar iets gevra. Hy het toe ’n mes of iets skerp uitgeruk en haar herhaaldelik in die nek, skouers en bors gesteek. Hy wou nie haar aandag aflei om haar rugsak te kry nie, hy het probeer om ernstige skade aan te rig,” het Honig gesê.

Die vrou het op die grond geval waarna die man met haar rugsak in die rigting van Longmarketstraat gehardloop het.

Die vrou word deur inwoners as ʼn toeris bestempel, maar sy woon glo reeds die afgelope 14 jaar in Kaapstad.

Volgens inwoners is dit deesdae ʼn alledaagse ding om in dié buurt beroof te word. “Iemand word omtrent een keer per week, verskeie kere per maand, hier beroof. Dis gewoonlik toeriste, meestal gedurende die dag, gedurende die week,” het Lucy Martin, Chesselet se vriendin, gesê.

‘n Skermskoot uit die beeldmateriaal. (Foto: ANA)

Dave Bryant, DA-raadslid, het gesê al meer mense word in die Bo-Kaap beroof maar dat dit egter die eerste keer is wat iemand ernstig seergekry het.

“Dit is ’n skok vir ons almal. Daar is baie toeriste wat daar rondbeweeg met kameras. Ons het al voorvalle gehad waar die aanvallers van die steengroef [in die area] kom. Dit blyk egter dat dit nie [hierdie keer] iemand van die steengroef was nie. Daar was ’n voertuig betrokke, nie van dié gebied nie. Dis nog steeds ’n groot skok. Ons moet polisiëring verhoog, nie net in die Bo-Kaap nie, maar in die hele stad,” het Bryant gesê.

Brandon Golding, DA-wyksraadslid vir die woongebied wat die Bo-Kaap insluit, het gesê voorvalle van dié aard het onlangs in die gebied toegeneem. Die Stad het egter reeds ʼn bykomende 18 polisiebeamptes ontplooi om die probleem te takel.

Volgens Golding is toeriste ʼn sagte teiken.

ʼn Toergids wat verkies om anoniem te bly, het gesê hy oorweeg dit om dié toeriste-aantreklikheid van sy bestemmingslys af te haal, aangesien die veiligheidsrisiko bloot te hoog is.

Hy het gesê ’n Duitse toeris is drie maande gelede ook in dié buurt aangeval. Die toeris is nie tydens die voorval beseer nie, maar haar halssnoer is wel van haar nek afgeruk.

Niemand is nog in verband met die jongste voorval in hegtenis geneem nie. Maroela Media wag op terugvoer van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tienie ·

Wat sal ek sê. Suid Afrika is Leeu Wêreld, nie n plek vir sissies nie.

Ek hoop jy gaan vertel jou eie landsburgers wat hier aangaan……..

Ina ·

En net Des het ek en my dogter daar rondgeloop asof ons in die paradys is. Ek het rerig gedink Kaapstad is anders…wat n skok en eye opener

Karolis ·

Hierdie is ‘n druppel in die emmer. Daar is ‘n ontstellende hoe kriminele syfer wat aldag bloot verduister word. Jy is ook nie meer veilig in die hele Kaap nie. Was nooit so nie.
Kyk wie is deesdae die kriminele element.

Boere Niggie ·

Prooi in n wildernis….Erg maar dis ons storie! Hulle is orals, ek hoop ook dit word wyd verkondig !

Die Verlore Skaap ·

Gaan stap teen Tafelberg op met jou rugsakkie en kyk wat gebeur op ons pragtige berg.

RATEL ·

Wonder wat se Madam Sisulu nou oor die Wonderlike vry en regverdige reenboognasie wat die ANC vir almal geskep het!

Anoniem ·

Jy is nerêns meer veilig in SA, die landsburgers weet miskien net n kwart van die misdaad van SA deur die media, sosiale media ens. Misdaad in ons land is onstellend en meer.

Land van Krotte en Rotte ·

Ou tannies loop 11uur in die aand alleen in Sicilië ( in Taormina) rond sonder vrees vir aanranding of roof.
Hier in SA kan ‘n vrou nie helder oordag in ‘n straat loop nie. Dis ‘n Misdaadhool.
Daar is misdaad oral in die wêreld, maar die geweld en omvang daarvan in SA neem eenvoudig net so toe, dat toerisme ook sy alie gaan sien.
Sê dankie vir die ANC. SA is ‘n nes vir kriminele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.