Fransman laat hofaansoek vaar

Marius Fransman. Foto: Facebook

Marius Fransman. Foto: Facebook

Marius Fransman, voormalige voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, het sy hofaansoek om terug in sy pos aangestel te word laat vaar nadat hy ingelig is dat dissiplinêre stappe teen hom gedoen gaan word.

Ashley Meyer, Fransman se regsverteenwoordiger, het bevestig dat die aansoek reeds formeel teruggetrek is. Fransman het hom Woensdag tot die Wes-Kaapse hooggeregshof gewend en was suksesvol in sy aansoek om die ANC te dwing om ʼn verslag oor die ondersoek na die seksuele aanklagte teen hom aan hom te oorhandig.

Fransman is daarvan beskuldig dat hy in Januarie die 21-jarige Louisa Wynand van Stellenbosch seksueel geteister het gedurende die ANC se 104de verjaardagviering in Rustenburg. Fransman is geskors hangende ʼn dissiplinêre ondersoek na die bewerings.

Fransman sou weer Vrydag in die hof verskyn het in verband met sy aansoek om weer in sy pos aangestel te word, maar het die aansoek teruggetrek nadat Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, hom ingelig het dat dissiplinêre stappe teen hom gedoen sal word.

“Daar is nou vir die eerste keer vir hom gesê wat die ANC gaan doen. Hy het nou vir die eerste keer duidelikheid,” het Meyer gesê. Hy het gesê Fransman en die ANC-leiers is genooi na ʼn bemiddelingsessie deur geloofsleiers en Fransman het hiertoe ingestem.

“Mnr. Fransman is ʼn toegewyde lid van die ANC en het besluit om die bemiddeling te probeer eerder as om in die hof te baklei. Uit respek vir die leraars en geestelike leiers het hy besluit om die aanbod te aanvaar om die saak te bemiddel.”

Daar was verlede week verwarring oor Fransman se posisie by die ANC nadat hy saam met pres. Jacob Zuma aanklop-tuisbesoeke in Philippi op die Kaapse Vlakte gedoen het in aanloop tot volgende week se munisipale verkiesing.

Dit was tóé dat Nomvula Mokonyane, die ANC se hoof van verkiesings, gesê het Fransman is terug in sy posisie aangestel. Mantashe het dit later ontken en gesê die party het nog geen besluit oor Fransman se toekoms geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

zahn ·

Ja ou Marius, jy is toe glad nie so ‘n induna in die anc soos jy gedink het nie, nê? Laat dit vir jou en die ander nie swart ouens en vrouens in die anc ‘n les wees, dis die grootste rassediskriminerende organisasie in die land, en julle kanonvoer word gebruik net om hulself, die swart ouens, te bevorder en te versorg. As hulle jou nie meer nodig het nie, word jy soos ‘n lëe plastieksakkie eenkant gegooi.

Speedguard ·

Hulle sal wel vir hom ‘n plekkie maak erens in die anc, hy was 10 teen 1 iets belowe om sy aksie te laat vaar om die Wes Kaap se stryd nie moeiliker te maak nie, hou maar dop hy sal een of ander ambasedeur word erens!

Maria van Dieweeck ·

Ek dink ou Gwede het n paar ander goed ook vir hom gese. Hy hoort in die anc. Geen selfbeheersing, arrogant, leuenaar, sien? Sjoe, die viering het hul op hol gehad en kan mens dink hoe het dit gegaan by Sun City, met ons geld! “Dis so lekker partytjie, eish, ek sal sommer…!” – was die leuse! Louisa, wees braaf, en wys hom waar is oom Daantjie se kalwerhok! Waar was sy sg geestelike respek, toe hy met jou wou lol?

Lance ·

Fransie is n groot verleentheid vir die anc in die wes kaap en mense hier sien gelukkig deur dit ….net gauteng wat nog moet sterker brille kry vir daardie korrupte leiers !

jaco ·

as daar nie volgende maand verkiesing was nie, was Fransman nou al lankal vrygespreek van alle aanklagte

Ben Prinsloo ·

En nou ANC Vroueliga? Waar is julle dan nou, almal van julle wat so kwaai geveg het vir vroueregte in SA by Oscar se saak. Oooooo ek sien, Oscar is wit Marius is bruin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.