Franziska se ouers: ‘Aanvaarding is die moeilikste’

Franziska Blöchliger en haar ouers.

Die ouers van Franziska Blöchliger, die tienermeisie wat verlede jaar in die Tokai-woud in Kaapstad wreed verkrag en vermoor is, het in ʼn brief verduidelik hoe hul lewe handomkeer verander het ná hul dogter se moord.

Howard Oliver (27) is Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind vir die moord op en verkragting van die 16-jarige Franziska. Hy het in ʼn bekentenis wat vroeër in die hof voorgelees is in grusame besonderhede vertel hoe hy Franziska op 7 Maart 2016 in die Tokai-woud verkrag en vermoor het.

Adv. Lenro Badenhorst vir die staat het in die hof ter verswarende omstandighede ʼn brief van Franziska se ouers, Andreas en Shireen, voorgelees. In die brief vertel die egpaar dat hulle sedert hul dogter se moord verhuis het, hul kinders van skole moes verander en met nagmerries en slapeloosheid gesukkel het. Die Blöchliger-egpaar sê selfs hul huwelik het weens Franziska se dood gely aangesien hulle baie gesukkel het met blaam- en skuldgevoelens en hul geloof in God is getoets.

“ʼn Jaar ná haar dood sukkel ons steeds met ons hartseer en skok oor haar moord. Die verlies van ʼn kind is byna onbeskryflik. Daar is pyn, daar is hartseer, daar is angs, maar aanvaarding is die moeilikste. Om te weet dat jou kind gely en jou in daardie tyd nodig gehad het, is vernietigend. Die verlies van ʼn kind is een van die mees traumatiese ervarings. Jy verloor ʼn deel van jouself wat jy nooit weer kan terugkry nie,” lui die brief.

Die egpaar het gesê hul jonger dogter, Sophia, sukkel ook om die verlies van haar suster te verwerk. “Ons sit met die ewige vraag van ‘hoekom?’. Hoe kan een mens dit aan ʼn ander doen? Hoe kan ʼn volwassene dit aan ʼn kind doen?”

Volgens Franziska se ouers sal daar nooit ʼn verduideliking of regverdiging vir haar moord wees nie. “Ons kan net hoop dat die persoon wat verantwoordelik is vir hierdie brutale daad van geweld teen ʼn onskuldige kind nie vrygelaat word om ooit weer ʼn ander mens seer te maak nie.”

Die voorvonnisverrigtinge in die saak sal Donderdag voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die Tokai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Goeie werk ·

Goeie werk deur die Polisie en Staatsaanklaer, so bly jul kon vir hierdie ouers die troos gebring het waarna hulle smag, dat hul dogter se verkragter/moordenaar aan die pen gaan ry en nie nog kan aanraak hetsy deur verkragting of moord nie.

DS ·

Sterkte aan die gesin. Glo my dit word nie beter nie mens leer net om daarmee saam te leef. Wees asb lief vir mekaar en julle ander kind. Spandeer tyd saam mekaar en praat oor al die mooi dinge wat Franziska “lewend” kan hou en probeer die lelik agter julle te sit. My seun het 2 en half jaar terug verongeluk op 19 en totdat ek opgehou dink het aan hoe en waar dit gebeur het en eerder sy wonderlike mooi geaardheid en pragtige glimlag elke dag onthou het was daar geen rede om aan te gaan nie. En sonder die Here is die toekoms donker. Julle is in my gebede.

Ada ·

Ai ek dink so aan die ouers en die jong kind wat so sinneloos gesterf het. Ek hoop die gemors kry ‘n goeie straf.
Natuurlik gaan die ouers nog lank treur! Jy kom nooit oor so ‘n verskriklike ding nie. nooit! Dit gaan later bietjie beter maar jy treur jou lewe lank oor jou kind.

Genieve ·

Dis n lang pad vir julle as gesin,maar ons glo die Here sal julle hierdeur dra.Dis moeilik om te aanvaar ja ek stem saam met julle…maar baie sterke.

Ai ·

Sterkte aan hulle. Hoop hulle nader hulself tot God want die vyand wil juis he hulle moet Hom nou wegstoot. Dis hoekom hy sy werkers uitstuur om te gaan vernietig.
Hart breuk vir die gesin. ?

O aarde ·

Maroela,

Wat is die naam van die vierde verdagte in die Corneliussaak? Hy was gister in die hof, en daar moet seker al bevestiging wees van sy naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.