Fratsongeluk by vakansieoord: ‘Dokter kan nie glo hy is nie verlam’

Johan Botha ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

“Dit is ’n wonderwerk wanneer ’n mens na die skanderings kyk. Sy dokter sê hy kan nie glo hy is nie verlam nie. Al die ander dokters sê dit is die eerste keer dat hulle só ’n geval sien.”

Só sê Caroline Hanekom nadat haar broer vroeër vandeesmaand sy ruggraat ernstig beseer het toe hy kop eerste in ʼn openbare swembad met dynserige water by ʼn vakansieoord buite Pretoria geduik het.

Johan Botha (39) van Centurion het die bodem van die swembad met sy kop getref toe hy op 14 September saam met sy vrou, kinders en ander familie vir die naweek by die oord uitgespan het.

“Hy het uit die swembad geklim en was bleek in die gesig. Ons kon sien hy het baie seergekry. Hy het gesê hy is orraait. Ons het die aand oorgebly en gebraai, maar toe hy die volgende oggend opstaan, het hy gehuil van die pyn,” verduidelik Hanekom.

Hoewel Botha nie aan ʼn mediese fonds behoort nie, het sy familie hom dadelik na die Unitas-hospitaal gehaas waar skanderings en x-strale geneem is.

Daar is toe vasgestel dat Botha in die hoësorgeenheid opgeneem moet word. Dit sou egter die familie sowat R200 000 uit die sak jaag en ʼn dokter het hulle na ʼn professor by die Kalafong-staatshospitaal in die weste van die stad verwys.

Hiér sal Botha eindelik volgende week geopereer word nadat hy langer as twee weke in ondraaglike pyn in die hospitaal sy beurt afwag.

“Sy C7-nekwerwel het met die duik as’t ware ontplof en gedisintegreer. Sy C7 is weg. Sy C5-nekwerwel het ook seergekry. Hy weet nie hoe om te maak met die pyn nie,” verduidelik Hanekom.

Botha se operasie sal sowat agt tot 12 uur duur om die skade te herstel.

Die familie samel nou geld in om die koste rakende Botha se herstel en fisioterapie ná die operasie te dek.

“Hy sal vir vyf dae in die intensiewe eenheid moet bly voordat hy na ʼn gewone saal geskuif kan word. Hy moet daarna nog ses tot agt weke plat lê. Hy sal dan die gebruik van sy liggaam weer moet aanleer,” verduidelik Hanekom oor die lang herstelpad wat vir haar broer voorlê.

Besoek die Go Get Funding-webwerf om meer oor Johan Botha se besering te lees en geldelik by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Janine ·

C5 en C7 is nie rugwerwels nie… Dis nekwerwels. Kan die joernaliste asb net eers korrekte navorsing doen voor hul sulke snert publiseer

Tania Heyns ·

Dagsê Janine

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Poppie ·

Die ruggraat, of werwelkolom, bestaan uit 33 werwels (vertebrae) : 7 nekwerwels (servikale werwels), 12 borswerwels (torakale werwels), 5 lendewerwels (lumbale werwels), 5 saamgesmelte stuitwerwels (sakrale werwels) wat saam die heiligbeen (sakrum) vorm en 4 saamgesmelte stertwerwels (koksigeale werwels) wat saam die stuitbeen (koksiks) vorm.

Ilda ·

Dankbaar, dit kon soveel erger uit gedraai het. Mag jy gou weer herstel.

WMirabilis. ·

Janine die skrywer/joernalis wat die beriggewing gedoen het, het slegs aangehaal wat die suster van Johan Botha, Caroline Hanekom, (foutiewelik en in aanhalingtekens) weergegee het.

Elizabeth ·

Mens moet ALTYD eers seker maak dat jy weet hoe diep water is en of daar nie rotse is, voordat mens kop eerste induik nie. Dit kon baie tragies geeindig het…Sterkte met die lang pad na herstel!

Kobus ·

Terwyl ek so deur die berig lees begin ek koue rillings kry hoe dit sal gaan met NGV. Om in Kalafong in pyn te lê en wag vir ‘n operasie is ‘n doodsvonnis.

Christa ·

Ons God het nog nooit verander nie. Aan Hom Kom toe die lof en eer. Gee Hom ere.

Dorie ·

Dis n absolute wonderwerk dat hierdie man nie verlam is nie. Bid hom sterkte en beterskap toe, mag die erge pyn, binne kort iets vandi verlede wees.

Papa G ·

Desnieteenstaande die oorspronklike tegniese foutjie het die meeste van ons tog die berig verstaan. Party van ons sien die verstommende feite raak: hy het uit die swembad geklim… Ongelooflik geseënd!

Marthinus Willemse ·

My niggie, Marietjie van Tonder, het in Bethlehem se openbare swembad ingeduik, en haar kop teen die rand gestamp. Daardie nag is sy dood aan bloeding op die brein.

Ons is altyd geleer: as water dynserig of ondeursigtig lyk en jy moet inspring, doen dit voete en bene eerste.

Jr ·

12 dae wag vir ‘n operasie. En hulle wil hê NHI moet werk.ASSEBLIEF !!!!

Kaaskop ·

Sterkte aan die familie, maar hoe gaan mens deur die lewe sonder ‘n mediese fonds, al is dit net ‘n hospitaal fonds? jy is dit aan jou vrou en kinders verskuldig.

Johnnie ·

Dis so jammer. Mense, asb neem ‘n hospitaalplan uit. Ons weet nie wat môre voorlê nie. Dis vreeslik om in staatshospitale te wees. Los eerder die sjokolades en drankies en ander goed en sit eerder daai geldjie in ‘n hospitaalplan.

Kallie ·

Na 2026 gaan dit nie help nie. Private hospitale gaan verdwyn en almal sal staatspasiënte wees.

Sonja ·

Ek was so n paar jaar gelede by n openbare swembad waar n klomp jong seuns ook was en na n paar voggies vir n seun van so 23jaar uitgedaag het om te gaan swem en hy duik toe in die vlak kant in. Ek het dit sien gebeur en gaan help, hy het mooi gevra tannie sit net my hande op my maag toe weet ek die kind is verlam, sy skedel was van voor tot agter van mekaar weggetrek, was n baie hartseer dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.