Fratsongeluk eis 17-jarige seun

Waldo Nel (17). (Foto: verskaf)

“Hy was ʼn besige seun. Hy kon maar net nie stilsit nie.”

Só het Wally Nel Donderdag gesê nadat sy seun, Waldo (17), Dinsdag in ʼn frats perdryongeluk naby Lichtenburg in Noordwes dood is.

Waldo, ʼn graad 11-leerling aan die Hoërskool Lichtenburg, het op dié noodlottige middag saam met drie maats op ʼn vriendin se ouers se kleinhoewe gaan perdry.

Nel het sy seun, wat nie ʼn ervare ruiter was nie, aanvanklik probeer oortuig om nié te gaan perdry nie. Hy het eindelik bes gegee, maar Waldo gemaan om versigtig te wees. “Ek het gesê dis reg, maar moenie seerkry nie.”

Toe die foon ʼn paar uur later lui en Nel hoor dat Waldo van die perd afgegooi is, het hy aanvanklik gedink iemand maak ʼn grap. Hy het egter gou besef Waldo is wél beseer en hy en sy vrou, Petro, en hulle dogter, Isandrie (11), is inderhaas na die dokter na wie Waldo intussen geneem is.

“Toe ons daar instap, kon ek sien hy het seer. Hy het séérgekry,” het Nel gesê.

“Hy was by sy positiewe; ons het in die spreekkamer met hom gesels. Sy ma het vir hom gesê hy gaan weer rugby speel en ek het vir hom gesê om net rustig te wees.”

Waldo het egter deurlopend gekla van pyn en dat hy sukkel om asem te kry.

Die dokter het aanbeveel dat hy so gou moontlik na ʼn hospitaal op Klerksdorp oorgeplaas word en hy is met ʼn ambulans soontoe geneem.

“Sy ma was saam met hom in die ambulans. By Hartbeesfontein, so 30 kilometer voor Klerksdorp, kon sy sien hy is weg, maar die paramedici het gesê hy is nog daar.”

By die hospitaal op Klerksdorp het dokters vergeefs probeer om Waldo se lewe te red.

“Die dokters sê hulle het als probeer…”

Waldo is waarskynlik dood weens massiewe inwendige bloeding.

Volgens sy pa het die perd waarop Waldo gery het, vermoedelik vir iets geskrik en reguit op ʼn vragmotor op die R52 afgepyl. “Niemand het regtig gesien wat gebeur het nie.”

Die perd het klaarblyklik teen die vragmotor vasgehardloop. Die dier is op die toneel dood.

Waldo het vermoedelik die vragmotor getref en is waarskynlik tot in die pad teruggeslinger.

(Foto: verskaf)

Waldo se maats het Woensdagaand na die huis gestroom, waar hulle tot in die vroeë oggendure staaltjies oor dié besige jong man vertel het.

Waldo het o. 17-rugby vir die Luiperds gespeel, was ʼn kranige gholfspeler, het jiu‑jitsu gedoen, motorfiets gery en slot vir sy skool se eerste rugbyspan gespeel.

“Hoe meer extreme dit was, hoe meer het hy daarvan gehou,” het Nel gesê.

ʼn Begrafnisdiens word Dinsdag om 11:00 in die Hervormde Kerk op Lichtenburg vir Waldo gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jackie ·

Baie sterkte aan die gesin, ons bid en dink aan julle.
Waldo het ‘n groot ……….. werk gekry hy gaan nou vir Jesus help daar bo…..
jammer vir die eina!

Karolis ·

Die perd het nie die ruiter afgegooi soos in die berig beweer word nie.

Tinkerbelle ·

Nou skryf vir ons die berig met AL die REGTE feite… Hoe die insident presies gebeur het verander nie die uitkoms nie. Baie sterkte aan die familie en al sy vriende.

Sarie ·

Lichtenburg het n yster verloor maar God het n groter werk vir hom gehad.Petro.Wally.Issie en die hele familie.vriende en skoolmaats julle moet sterk wees.Jul is in ons as gemeenskap se gebede.

DS ·

My innige meegevoel met die familie se verlies. Daar is altyd die goeie herinneringe wanneer mens verlang maar dit vat ongelukkig nie die seer weg nie. Mag die Here julle styf vashou vandag en in die toekoms.

Thelma ·

Dit is so vreeslik hartseer, wens hulle kon hom red. Ek voel so jammer vir hierdie ouers. Wat ‘n verlies vir die samelewing om so pragtige jong seun te verloor. Baie sterkte aan die gesin, familie, vriende en gemeenskap.

Sarie ·

Lichtenburg het n yster verloor maar God het n groter werk vir hom gehad.Petro.Wally.Issie en die hele familie.vriende en skoolmaats julle moet sterk wees.Jul is in ons as gemeenskap se gebede.

christine ·

Baie sterkte ouers familie en vriende .Pragtige kind seer gaan nooit weggaan .

Liezel ·

Dit is ongelooflik hartseer. Baie sterkte aan die familie.

Heyla ·

Baie baie sterkte aan almal wat vir Waldo geken het. Hy was so ‘n besige jong man op die rugbyveld, ons gaan jou vreeslik mis.

Landie ·

Innige simpatie aan ouers en familie van Waldo. Seun jy het voluit gelewe did verseker, Rus in Vrede.

Hanlie ·

Ag hoe hartseer! Baie sterkte vir julle as familie. Waldo speel nou rugby vir Liewe Jesus se eerste span.

Sandy ·

My innige meegevoel met sy ouers en familie lede. Dis uiters hartseer, en ons as ouers sal nooit weet hoe julle voel nie. God’s rykste seen en liefde aan julle.

anton ·

Rus sag Waldo. My innige meegevoel met die familie. So n pragtige jong seun net 17!
Sterkte aan die familie. Ai, ek huil sommer my oe uit.

Gerda ·

My innige simpatie aan die pragtige jongman se ouers en geliefdes… God het weereens een van sy mooiste blomme kom pluk… Mag die ouers, sussie, familie en geliefdes berus in die wete dat hy veilig is by Jesus.. ???????????????????? Van n ma wat self haar enigste seun moes teruggee aan God op die 5 de April 2019. Hou vas aan God.. Dit is n baie seerpad wat voorle, maar God gee jou die krag. ♥️ ♥️ ♥️

Anton Smith ·

Waldo is deur onse Here geroep vir hoër diens!!!Dis baie hartseer vir sy naasbestaandes!Ons innige simpatie aan sy ouers en familie!!Weereens n Voorbeeld van n persoon wat weggeruk is uit hierdie wêreld om uiteindelik vir sy Skepper te gaan diens doen!!Waldo gaan gemis word!!

Wielspore ·

Sterkte aan die ouers, familie en vriende, die afsterwe van ‘n jong persoon is altyd tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.