Fratsongeluk eis Tukkie ná sus se troue

Annien Müller (22) het Sondag in ’n fratsongeluk gesterf. Dié foto is Saterdag by haar tweelingsussie, Carolien Scheepers, se troue geneem. (Foto: Verskaf)

ʼn 22-jarige mediese student van die Universiteit van Pretoria (UP) het Sondag in ʼn fratsongeluk gesterf toe sy haar kêrel te hulp gesnel het nadat sy motor gerol het. Dit was ʼn dag ná haar tweelingsussie se troue in Potchefstroom.

Annien Müller (22) en haar kêrel van die afgelope ses jaar, Reino von Wielligh (29), het Sondag in afsonderlike voertuie na Pretoria teruggery toe Von Wielligh se motor gerol het. Die ongeluk het omstreeks 16:45 op die N14 net verby Diepsloot naby Lanseria plaasgevind.

Riandi van Rensburg (28), Müller se ouer sussie, het aan Maroela Media verduidelik dat die pad nat en baie glad was. Daar was reeds ʼn ander ongeluk toe Von Wielligh ook beheer oor sy motor verloor het. Müller het gevolglik stilgehou om haar kêrel te help.

“Hy het vir Annien gesê en gewys hy is oukei, maar toe klim Annien uit haar kar om hom te help.

“Nóg ʼn kar het toe gegly en haar getref. Dieselfde kar het daarna ook Reino se kar getref en dit het omgedop. Dit was regtig ’n fratsongeluk en die bestuurder het geen beheer daaroor gehad nie.”

Die paartjie se hond, Xara, het ná die ongeluk weggehardloop. Sy is steeds soek.

Die paartjie se hond, Xara, ’n swart pointer, was in Von Wielligh se motor en het ná die ongeluk weggehardloop. Sy is steeds soek.

Müller is met ʼn helikopter na die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg geneem, maar het later dieselfde aand aan haar beserings beswyk.

“Hulle het alles probeer om haar te stabiliseer, maar haar brein is in die ongeluk beskadig en toe het haar hart gaan staan.

“Dit is ’n baie hartseer tyd,” het Van Rensburg gesê.

Müller se tweelingsussie, Carolien Scheepers, het Saterdag in Potchefstroom getrou. Sy was reeds op haar wittebrood naby Vryburg in Noordwes toe die tragedie Sondag plaasgevind het.

Müller is ’n oudleerder van Potchefstroom Gimnasium, waar sy in 2017 een van die skool se onderhoofdogters was. Sy het in akademie sowel as sport uitgeblink.

Sy laat onder andere haar kêrel, ouers, Rina en Joggie, twee susters en broer, Christoff Müller (23), agter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

RB ·

So bitter hartseer, so baie wat ons nooit sal verstaan.
Mag daar uiteindelik troos wees in elke mooi herinnering aan haar.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die ouers, familie en nasbestaandes van Annien.

AW ·

Werklik Hartseer.

Mense, wat uit hulle voertuie klim en op n Botsings rond staan vir watter rede ook al,

Het te veel in my lewe al gesien , hoe mense beseer is en of gedood is, as gevolg van “Secondary Colissions “.

En wanneer jy vir die mens sê / vra , om hulle self te verwyder , dan is jy die vark in die fee verhaal.

Kobus ·

So jy sal nie uitklim en jou geliefdes help indien hulle in ‘n ongeluk betrokke was nie?

JL ·

Jinne maar jy íś die vark in dié verhaal. Ek hoop regtig nie jy is verbonde aan enige vorm van reaksie-eenheide nie.

Christian ·

In Duitsland moet jy ‘n noodhulpkursus voltooi om ‘n bestuurslisensie te kry. As jy die eerste persoon is wat verby ‘n ongelukstoneel ry dan MOET jy stilhou en kyk of jy hulp kan bied. AW, volgens jou moet ‘n mens nie eers stop om hulp aan te bied vir familie of vriende nie? Meskien het jy bedoel mense moet uit die pad bly van paramedici as hulle reeds op die toneel is? Anders maak jou kommentaar geen sin nie.

Toffie ·

Het jy mooi gelees? Sy wou haar vriend gaan help het wat tog ‘n menslike daad is. Sy het nie net daar rondgestaan nie.

Lubbe ·

Sy het medies gestudeer en dit was haar kerel wat in die ongelukkig was. As jy agter jou vrou moet ry en sy is in ‘n ongelukkig, gaan jy in die kar vir haar sit en kyk?

Hannelie ·

Jinne AW, in watter planeet of vakuum leef jy??? Lees die berig twee of drie keer oor dan sal jy dalk begryp HOEKOM sy uitgeklim het. Sy is ‘n mediese student, sy het reageer op instink na haar kerel in ongeluk was. Ek neem aan as jou vrou, kind of enige familie in ‘n ongeluk was en jy was agter hul, sal jy in die kar sit tot hulp opdaag!!
Eintlik weet jy nou mos al wie die vark in jou feëverhaal is.

My innige simpatie aan haar geliefdes dis is die seerste seer en sy is bitter jonk.

Skappie ·

Sterkte aan haar kerel, en haar gesin in hierdie moeilike tyd. Mag onse liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou.

JL ·

Hoe absoluut tragies. Vrede en sterkte vir die naasbestaandes.

Cindy ·

dis vrek hartseer. so jammer vir haar familie en geliefdes :(

Lubbe ·

Ek ry daai pad elke dag en die hoeveelheid ongelukke by daai spesifieke afrit is skrikwekkend. As dit reen staan die insleep dienste en wag want n ongeluk is gewaarborg.

Trotse Boervrou ·

Bitter hartseer maar ja Lubbe. So het ons ook al by so afrit by ‘n robot gegly. Gelukkig baie stadig gery. Toe sê iemand sommige Insleepdienste gooi juis olie wanneer dit reën om “werk” te kry….

suzanne ·

Maroelamedia dit was, Sunningdale, Klerkdorp nie Sunninghill nie

Lillian ·

dis so hartseer wanneer ons jongmense hul lewens verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.