Fratsongeluk stuit nie dié student se drome

(Foto: Stefan Els)

Jay-Dee Meyer, ʼn student wat elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch (US) studeer het, het vandeesmaand, ondanks ʼn lewensveranderende voorval kort voor haar finale jaar, haar graad ontvang.

Meyer sê sy is sedert sesjarige ouderdom verlief op dié skilderagtige dorp en het nog altyd geweet dat sy eendag in Stellenbosch wou studeer.

En om ʼn BIng-graad in elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die US te verwerf was vir dié student ʼn voor die hand liggende keuse “aangesien sy nog altyd ʼn passie vir elektrisiteit en probleemoplossing gehad het”.

“Elektrisiteit is die opwindendste uitvinding nóg en om ʼn verskil in die wêreld te kan maak is nog altyd iets wat my aangespoor het om harder te werk,” vertel sy.

Haar lewe het egter aan die einde van 2022 ʼn onverwagse wending geneem toe sy vier meter ver uit ʼn boom geval en haar ruggraat gebreek het, wat haar permanent van haar heupe af verlam gelaat het.

Ná twee maande se rehabilitasie en “aanpassing in haar nuwe lewe”, het Meyer, sonder om deur haar fratsongeluk ontmoedig te word, besluit om haar finale jaar te voltooi.

“Daar is meer emosionele as fisieke uitdagings. Die universiteit is reeds heelwat toeganklik en die dekaan, prof. Wikus van Niekerk, het seker gemaak dat ek alles het wat ek nodig het.”

Sy onthou dat sy selfbewus was met haar terugkeer na die fakulteit en dat almal vir haar gekyk het.

“ʼn Paar dae later het ek egter iets wonderliks besef: Dat niemand my aanstaar uit bejammering nie, maar eerder met bewondering.”

Haar hele lewe was omgekeer en tog het sy by klasse opgedaag en geglimlag – dankbaar om op universiteit te wees en met haar studies voort te gaan.

“Om gemotiveerd te bly te midde van teëspoed was egter nie altyd maklik nie. Daar was dae wat my so oorweldig het dat ek nie eens ʼn boek kon oopmaak nie.

“Maar ek het geleer om geduldig met myself te wees en te onthou dat stadige vordering steeds beter is as geen vordering.”

Toe sy regtig motivering nodig gehad het om haar deur die meer uitdagende dae te dra, het sy bly visualiseer hoe sy tydens die gradeplegtigheid op die verhoog in haar rolstoel haar graad ontvang.

“Ek het myself ook gereeld aan my groter doelwit herinner: om uiteindelik ʼn ingenieur te word.”

Sy sê die uitdaging met ʼn moeilike dag is om nie toe te laat dat dit twee dae word nie.

“Om tydens teëspoed die balans te vind tussen dissipline en genade kan moeilik wees, maar dit is ʼn uiters belangrike vaardigheid om aan te leer.”

Haar finalejaarprojek is iets wat haar na aan die hart lê: die ontwerp van ʼn battery-bestuurstelsel vir ʼn windenergie-omskakelingstelsel (WECS) wat deur die Suid-Afrikaanse Antarktiese navorsingsbasis (SANAE IV) gebruik word.

“Ek het die projek geniet omdat ek reeds bewus was van my passie vir hernubare energie. Enigiemand wat ingenieurswese studeer weet, hoe meer jy weet, hoe meer weet jy wat jy nie weet nie,” skerts sy.

Sy beskryf die navorsing as ʼn amper ongelooflike reis wat “uitdagend en soms frustrerend” was, maar sê dat sy op die ou end ongelooflik dankbaar is vir hoeveel sy kon leer en dat sy ʼn nuwe waardering gekry het “vir hóé kompleks hernubare energie is”.

As sy terugkyk op haar haar pad die afgelope maande, deel sy waardevolle advies vir ander wat teëspoed moet trotseer.

“Geluk in die lewe is nie die afwesigheid van probleme nie, maar wel die vermoë om dit te oorkom.

“Elke enkele uitdaging in die lewe kan óf gesien word as ʼn struikelblok in jou pad, óf as ʼn geleentheid om jouself te bewys en iets waardevols te leer.

“Alles hang van jou ingesteldheid af.”

Meyer gaan binnekort ʼn nuwe hoofstuk in haar lewe aanpak, as beheeringenieur by Sasol in Sasolburg in die Vrystaat, maar sê haar strewe bly geanker in haar verbintenis tot hernubare energieprojekte.

“My droom is om in Suid-Afrika aan hernubare energie- en mikronetwerk-projekte te werk, wat hopelik ons land se koolstofvoetspoor sal verklein en ʼn stap in die regte rigting “vir ʼn meer volhoubare toekoms vir Suid-Afrika” sal wees.

Benewens haar loopbaan hoop Meyer om eendag ʼn nie-regeringsorganisasie (NGO) te stig wat tweedehandse rolstoele verskaf aan behoeftiges, wat haar toewyding beklemtoon om ʼn verskil in ander se lewens te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.