Freddie die olifant veilig tuis

Freddie die olifant is terug by sy trop. (Foto: Marna van Niekerk)

Freddie die olifant is terug by sy trop.

“Ons is omtrent gelukkig dat Freddie nou veilig is. Danksy samewerking met die owerhede en openbare druk van mense is dié grootvoet nou tuis,” het Carina Crayton, medestigter van die Wild Heart Wildlife Foundation, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Dié jong olifantbul het Giel en Marna van Niekerk en hulle seun, Pieter Groenewald, Woensdag in hulle tuin in Phalaborwa verras toe hy ’n bietjie water wou kom drink. Hulle sien gereeld olifante en ander wild in hulle agterplaas.

’n Video van dié voorval het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei wat amper ʼn nare nadraai tot gevolg gehad het.

“Iemand het die video op Facebook geplaas en verkeerdelik gesê dat die olifant gevaarlik is. Natuurbewaring het gevolglik aangedui dat hulle die olifant moontlik van kant sou maak. Ons was in rep en roer hieroor,” het Giel van Niekerk gesê.

Die gesin het in verbinding met die Wild Heart Wildlife Foundation getree in die hoop om Freddie se lewe te spaar.

“Ek kan nie beskryf hoe verheug ons is dat hy weer veilig by sy familie is nie,” sê Marna.

“Ons senuwees was gedaan toe ons die helikopter sien, ons het net gebid dat hy saamwerk en terugkeer na sy trop.”

Crayton het verduidelik dat wilde diere weens die aard van dié omgewing gereeld hulle verskyning aan inwoners maak. Sy het voorts gesê dat Natuurbewaring maatreëls en protokol ingestel het om die veiligheid van mens én dier te verseker.

“Die laaste uitweg sal wees om die dier te skiet. Die eerste prys sal wees dat die dier teruggaan na waar hy vandaan kom, op sy eie of met kundige hulp, en dat die heining waardeur hy ontsnap het, herstel word.”

Freddie en sy trop loop in die reservaat wat deur die Palabora-myn (PMC) bestuur word.

Volgens Crayton het goeie samewerking tussen al die betrokke rolspelers tot Freddie se veilige tuiskoms gelei.

“Waar daar ’n wil is om ’n wilde dier te red, is daar ’n weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cecilia ·

Eks bly Freddie is veilig!
Dit is soos in Marloth Park waar d diere sommer op d Huis se stoep kom eet. Ek love it maar het nog steeds d grootste respek vir Wilde diere.
Dankie aan d gesin en ander groepe wat mooi saam gewerk het om Freddie veilig te hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.