‘Fredi is ʼn vegter’

Fredi Nest in die hospitaal.

Fredi Nest in die hospitaal.

JONGSTE: Fredi Nest het op 3 Julie 2015 sy stryd teen kanker verloor. Klik hier om meer te lees. Ons innige meegevoel aan sy familie, naasbestaandes, vriende en ondersteuners. – Red

Die geliefde Pretoriase sanger, Fredi Nest, ontvang reeds twee weke lank bestraling nadat kankergewasse op sy brein gediagnoseer is.

“Die bestraling vat erg aan ʼn mens en dit maak hom maar siek, maar hy is baie positief en veg hard,” het Bino Boshoff, die familie se woordvoerder, Maandag aan Maroela Media gesê.

Nest (57) is reeds sowat twee weke gelede uit die Steve Biko-hospitaal ontslaan nadat hy op 30 April in die intensiewesorgeenheid opgeneem is nadat hy vermoedelik ʼn beroerte gehad het.

Deur toetse is vasgestel dat hy twee gewasse op sy brein het nadat kanker in sy nek daarheen versprei het.

“Fredi is die afgelope tyd naweke by die huis en weekliks so tussen drie en vier dae in die hospitaal terwyl hy bestraling ontvang,” het Boshoff gesê.

Boshoff het gesê Nest se dokters het besluit dat bestraling die beste behandeling teen die kanker sal wees. “Ons weet in dié stadium nie hoe lank die bestraling gaan voortduur nie. Hy word week ná week waargeneem en behandeling word daarvolgens bepaal.”

Nest het vroeër vanuit sy hospitaalbed gesê hy is reg om enigiets te hanteer wat vir hom voorlê en hy gaan ten minste nog 15 jaar lewe en musiek maak. Hy het ook ʼn kort boodskappie aan sy aanhangers gestuur. Klik hier om dit te sien.

Nest het op 3 September 2012 drie hartaanvalle gekry. Hy het die oggend by sy huis in Pretoria ineengestort ná twee hartaanvalle en terwyl hy in die Steve Biko-hospitaal besig was om ʼn angiogram te ondergaan, het hy ʼn derde hartaanval gekry. Hy was egter gou weer op die been, teen Oktober terug in sy ateljee en hard aan die werk.

Lees vorige berigte oor Nest op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

Sterkte, Fredi. Ek hoop ons gaan jou nog baie jare hoor sing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.