Freek Robinson tree af

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Die veteraanjoernalis en eNuus-ankeraanbieder Freek Robinson het pas sy aftrede aangekondig.

Robinson het ʼn merkwaardige en dinamiese loopbaan van 45 jaar in die televisie- en radiojoernalistiek gehad.

Hy het in Julie 2010 by eNuus aangesluit en was vir byna ʼn dekade deel van die eNuus-span op kykNET en kykNET&kie.

“Ek is dankbaar dat ek verslag kon doen oor gebeure tydens apartheid, die oorgang na demokrasie en die ontwikkeling daarvan oor die afgelope 26 jaar,” sê Robinson.

“Vir my was die hoogtepunt van my loopbaan toe ek die geleentheid gehad het om die debat tussen Nelson Mandela en FW de Klerk voor die verkiesing in 1994 te fasiliteer. Maar die klein heldedade van gewone Suid-Afrikaners het ook ’n onuitwisbare indruk op my gemaak.”

Paul Dunn, redakteur van eNuus, het sy dank teenoor Robinson uitgespreek vir sy volgehoue toewyding aan die eNuus-span.

“Met sy jare lange ondervinding, sy kalm geaardheid en sy waardevolle insae in die Afrikaanse televisie-nuusgehoor het Freek ʼn onskatbare bydrae tot eNuus gemaak. Ek wil graag my opregte dank aan hom betuig vir sy uitsonderlike bydrae tot eNuus, die Suid-Afrikaanse joernalistiek en die lewens van duisende landsburgers.”

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, sê Robinson was meer as net ʼn nuusleser vir kykNET-kykers.

“Hy is ʼn ikoon wat groot respek met ʼn onberispelike loopbaan verdien het. Ons wens hom alles van die beste toe vir ʼn opwindende nuwe lewensfase, maar ons sal sy professionele teenwoordigheid en gravitas mis.”

eNuus word elke aand om 19:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en kykNET&kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Isabella ·

Wat n BEKWAME man ons gan hom mis hy het sy pos waardig volgestaan

Juffrou ·

Altyd só professioneel! Puik joernalis.
Gaan jou goed, Freek!

Stof ·

Ek vertrou dat die nuwe generasie joernaliste sy integriteit sal navolg en hom as mentor sal onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.