Frustrasie met veediefstal lei dalk tot skietery

Evan Sorour (28). (Foto: Instagram)

Talle boere in die Ficksburg-omgewing in die Vrystaat steier onder voortgesette misdaad, veral veediefstal, en die gebied staan bekend as ʼn brandpunt vir dié soort misdaad.

Die reeds gespanne situasie het nou oënskynlik breekpunt bereik, ná ʼn stryery oor vee glo tot die dood van die 28-jarige Evan Sorour, ʼn jong boer van die gebied, aanleiding gegee het. Hy is Sondagaand glo deur ʼn buurman geskiet, nadat dié gekla het oor beeste wat die grens na sy plaas oorgesteek het.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder verbonde aan Vrystaat Landbou (VL), het by navraag gesê Ficksburg is ʼn gebied wat welbekend is daarvoor dat dit deurloop onder veediefstal, ook in die oorgrensgebied. Die polisie is terdeë bewus van die situasie en georganiseerde landbou en boere van die omgewing vra nou al geruime tyd vir strenger polisiëring om die probleem te pak.

“Dit bly ʼn kopseer. Ons het al gevra dat daar vanaf nasionale vlak ʼn spesiale taakspan of ondersoekspan na Ficksburg gestuur moet word om te ondersoek wat presies daar aan die gang is. Daar is sekere boere wat konstant deur veediewe geteiken word; boere wat binne twee of drie jaar ʼn miljoen rand aan vee weens diefstal verloor,” sê Buys.

Evan Sorour en sy pa, Reuter, is volgens die polisie Sondagaand vroeg na ʼn aangrensende plaas nadat ʼn buurman gekla het dat hul beeste sy heining beskadig en die grens na die buurplaas oorgesteek het.

Pa en seun het die beeste van die buurman, glo ʼn veespekulant, se grond verwyder en Evan het weggery. Die buurman het Reuter glo daarna begin aanrand. Reuter het vir Evan ontbied om te kom help en met sy aankoms is Evan vyf keer geskiet, voor hy glo teruggevuur en die buurman in die heup gewond het.

Reuter en Evan is terug huis toe waar hulle ʼn ander voertuig gekry het om die gewonde jong man na ʼn hospitaal te neem. Die polisie het hulle later in die voertuig op die R26 aangetref waar Evan reeds aan sy beserings beswyk het, het AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, gesê.

Volgens Buys is daar boere wat groot verliese weens veediefstal ly. “Dan vra ons weereens die vraag: Wie sit agter die veediefstal, veral waar daar beweringe is van moontlike polisiebetrokkenheid wat ondersoek moet word?”

Buys sê die omstandighede in die streek dui op ʼn “definitiewe, georganiseerde groepering en sindikaat” wat in die Ficksburg-gebied – en omliggend – bedrywig is en ook oorgrens werk.

Daar moet ʼn daadwerklike ondersoek gedoen word om diegene wat verantwoordelik is aan die pen te laat ry, sê sy. Boere kla onder meer dat bakkies en vragmotors gebruik word om vee op groot skaal deur die Ficksburg-gebied na onder meer Gauteng te verskuif, waar dit dan heel waarskynlik op informele of selfs formele veilings verkoop word.

“Dit is werklik ʼn groot probleem.

“Ek dink daar is opgehoopte frustrasie. Ons sien dit baie by die grense en veral op die grensgebiede, waar boere onder geweldige druk is en verskriklike frustrasie verduur. Dit is frustrasie wat oor jare ophoop, maar ons wil nie hê iemand moet sy lewe hieroor verloor nie,” sê Buys.

Die polisie het die verdagte wat Evan glo geskiet het, in ʼn hospitaal op Bethlehem aangekeer waar hy steeds onder polisiebewaking behandel word. Hy het ʼn klag van poging tot moord ná die voorval aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henri ·

Dit is hartseer.

Wat ek nie verstaan nie, is die feit dat die buurman die pa en seun gebel het juis oor hulle vee op sy plaas is. Hulle het die vee kom verwyder. Hoe kom veediefstal in die spesifieke berig dan ter sprake? Ek vra om verskoning aan die slimmer gemeenskap as ek dom voorkom.

domheks ·

Jy is heeltemal reg. Ek sien ook nie ‘veediefstal’ hier nie!

Frank John ·

Ek stem saam met Henri, en dit nog buurmanne, hulle is gewoonlik samewerkend en help mekaar en verstaan as beeste dit doen en hoekom sommer begin skiet toe die man daar aankom.

Harley Davidson ·

Die polisie doen / wil nie hulle werk doen nie my oupa het altyd gesê fluks by die bak maar lui by die vak en dit is die rede vir die anargie in Suid-Afrika.

Lillian ·

Nog ‘n situasie waar SAPS se onbevoegdheid duidelik is. Cele kan netsowrl die polisie ontbind, meeste lede gee net die uniform ‘n slegte naam.

Adri ·

Ek kan nie wag dat die “buurman” wat die moord gepleeg het, voorkom nie sodat ons sy naam kan sien. Die storie maak nie lekker sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.