Frustrasie na nóg ʼn uitstel in Van Coller-moordsaak

Isabel van Coller en Harriet Ackermann (Foto: Facebook)

Die verhoor van Goliath Biazza, die man wat vir die moord op Isabel van Coller teregstaan, is weer uitgestel.

Biazza het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn. Die saak was vir twee weke op die hofrol geplaas, maar is tot 3 Oktober uitgestel sodat een van die hoofgetuies opgespoor kan word.

Goliath is ʼn veroordeelde misdadiger en dien tans gevangenisstraf vir ander misdade uit.

Van Coller is die oggend van 15 November 2019 tydens ʼn kaping in Bramley, Johannesburg, doodgeskiet. Kringtelevisie-beeldmateriaal wat die gewelddadige kaping en Van Coller se skietdood wys, het ná die voorval wyd opslae gemaak.

Dit blyk uit die beeldmateriaal dat Biazza, een van vier vermeende kapers, die doodskoot afgevuur en in Van Coller se voertuig weggejaag het. Hy staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Voor van links: Andrew Ludick (AfriForum), Harriet Ackerman (Isabel van Coller se tweelingsuster), Jackie van Zyl (skoonsuster), adv. Phyllis Vorster (AfriForum). Agter van links: Ferdinand van Zyl (broer) (Foto: Verskaf)

Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het namens Harriet Ackerman, die tweelingsuster van Van Coller en ʼn senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), omdat die saak aanvanklik van die rol geskrap is.

Ná AfriForum se vertoë het die NVG egter te kenne gegee dat hy twee van die verdagtes wat na bewering betrokke was by die kaping, kon opspoor en dat een persoon nou

“Die staat se onvermoë om die getuie vandag voor die hof te kry beteken dat geregtigheid weereens vertraag word. Die gemeenskap het ʼn reg om te weet waarom hierdie getuie nie deur die polisie gemonitor is en vandag in die hof kon getuig nie. Die onvermoë om hierdie saak reg te hanteer, is van die begin af duidelik: die dossier het byvoorbeeld vermis geraak en moes gerekonstrueer word,” sê Natasha Venter, raadgewer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Vandag het ons ook gesien dat die familie, wat van ver gereis het om hier te wees, weereens deur die stelsel in die steek gelaat is. Die staat se gebrek aan kommunikasie met die familie kan ook nie verskoon word nie.

“Die blote feit dat die staat nie gevra het vir die uitreik van ʼn lasbrief nie, is tekenend dat die getuie nooit gedagvaar is nie. Ons weet steeds nie watter stappe, indien enige, die polisie gedoen het om te verseker dat die getuie by die hof is nie.”

Ackerman, wat van Oos-Londen af gereis het in die hoop dat die verhoor vandag sou begin, was duidelik gefrustreerd. Sy het gesê dat die staat haar en haar familie aan sekondêre trauma blootstel weens die voortdurende vertragings en gebrek aan kommunikasie.

Sy het tydens ʼn onderhoud gesê dat sy – self ʼn aanklaer – AfriForum se hulp moes inroep en dat daar daarna eers behoorlik aandag aan die saak gegee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.