Frustrasie omdat moordsaak amper dekade sloer

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Frustrasie.

Dit is wat Dries Venter (70) ervaar nadat die verhoor van sy vermoorde dogter, Andrea Venter (25), se vermeende moordenaar vir die tweede keer vanjaar uitgestel is. Andrea is in 2011 glo deur haar gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren, buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek.

Die verhoor sloer al vir nege jaar.

Jansen van Vuuren het in Mei 2013, vier dae voordat die verhoor aanvanklik sou begin het, met vervalste reisdokumente uit die land na Brasilië gevlug. Interpol het hom in Junie verlede jaar opgespoor en hy is na Suid-Afrika uitgelewer.

Jansen van Vuuren se verhoor sou op 16 Augustus vanjaar begin het, maar is tot 4 Oktober uitgestel.

Jansen van Vuuren het toe verlede Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn, maar die verhoor het nie plaasgevind nie. Die saak is tot 18 Januarie uitgestel nadat ’n nuwe staatsadvokaat, adv. Makwena Mokwatedi, aangestel is om die saak te behartig.

Volgens Mokwatedi moet sy nou die saak bestudeer en vertroud raak met al die feite voordat die verhoor kan voortgaan. Sy het aan Maroela Media gesê dat sy ook eers met al die betrokke getuies in die saak moet kontak maak.

‘n Destydse foto van Gerhard Jansen van Vuuren.

Venter sê hoewel hy frustrasie met die sloer van die saak ervaar, sal hy geduldig wag tot die dag wanneer Jansen van Vuuren se vonnis opgelê word.

“Dit maak nie saak wanneer die verhoor gaan wees nie, net solank hy die straf kry wat hom toekom,” voeg Venter by.

Venter het vroeër aan Maroela Media vertel Andrea se ma, Annatjie, is in 2016, vyf dae nadat sy 63 jaar oud geword het, dood. Volgens hom het sy vrou haar dood getreur.

“Tegnies is die man verantwoordelik vir my kind én vrou se dood. Hy het onnodige smart vir ons veroorsaak. Hy moet boet vir sy dade.”

Venter sê hy het ’n brief geskryf wat hy aan Jansen van Vuuren wil gee.

“Ek wil hom in die oë kyk as ek dit vir hom gee.”

Maroela Media het vroeër berig kringtelevisiebeeldmateriaal van die veiligheidskompleks in Lonehill, Johannesburg, waar Andrea gewoon het, wys hoe sy vanuit die kompleks na die hek probeer vlug en dan van agter af deur ’n persoon met ’n mes aangeval word. Jansen van Vuuren is as die man in die video identifiseer.

Volgens Venter het Jansen van Vuuren Andrea omtrent 12 keer met ʼn mes in die rug gesteek. Sy het nog vir so 150 meter vorentoe probeer hardloop. Toe steek hy haar weer twee keer in die skouer en kuit. Laastens het hy haar hoofslagaar in haar nek gesny en toe die mes in sy eie nek gesteek in ’n poging om selfmoord te pleeg.

Andrea is op die toneel dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Die land se regstelsel werk mat afrika tyd die regstelselsel is n grap.

Misky

Ek het die dokumenter gekyk wat op Huisgenoot se ware lewensdramas op Showmax is. Daar is beeldmateriaal van die aanval en die bewyse is oorweldigend. Ek kan nie verstaan dat hierdie tipe sake so lank kan sloer as alle bewyse daar is nie. Heng, ek dink die arme pa verdien dit na alles wat hy deur is.

Johann

Ongelooflik dat dit as aanvaarbaar beskou word?

Suzette

Dis hoe die gaan in SA – alles is in hulle kanon in as gevolg van die onkapabele regering, kader aanstellings en onbevoegde mense. Die mense wat wel bevoeg is word op ‘n daaglikse basis uitgewerk….

Jasper

Daar is nie tyd daarvoor nie want hulle is besig om die cosas 4 se moord 200 jaar terug te ondersoek waar moet hulle nou tyd kry vir ondersoeke doen wat na 94 gepleeg is.