Frustrasie oor onvoltooide moordondersoek

Jaco Geldenhuys se liggaam is vroeër die maand gevind nadat hy spoorloos verdwyn het.

Die familie van die vermoorde Jaco Geldenhuys (32) van Pretoria is gefrustreerd omdat die hofsaak herhaaldelik uitgestel word, glo weens ʼn gebrek aan bewyse. Deon en Neil Geldenhuys worstel boonop met talle vrae oor hul broer se dood en waarom hy so wreedaardig van hulle weggeneem is. Hulle glo hulle sal dié antwoorde kry sodra die hofsaak teen hul broer se vermeende moordenaar spoed optel.

Jaco het op 14 Julie spoorloos verdwyn en sy liggaam is twee dae later naby ʼn grondpad in die Cullinan-omgewing aangetref. Volgens die nadoodse ondersoek is hy aangerand en gewurg.

Johan Martin Kichebrand is kort daarna in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy het aangedui dat hy skuldig gaan pleit en het ook enige regshulp van die hand gewys en aan die hof gesê hy gaan homself verteenwoordig.

Kichebrand het sedertdien verskeie kere in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn op ʼn aanklag van moord en regsverydeling.

Volgens Deon is die saak herhaaldelik uitgestel weens ʼn gebrek aan bewyse. Die familie lê die skuld voor die polisie se deur en beweer die polisie doen nie hul werk om die nodige bewyse in te samel nie.

“Die ondersoekbeampte is reeds in Oktober versoek om ʼn selfoon as bewysstuk te gaan haal, maar dit het ná meer as drie maande nog nie gebeur nie,” sê Deon.

Deon voer aan hulle het al twee keer aan die ondersoekbeampte se bevelvoerder geskryf en versoek dat die werk gedoen word. Hulle sê daar het egter dadels van dié versoeke gekom.

Die saak is na die hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas en Kichebrand sal na verwagting op 1 Maart daar verskyn.

Volgens Deon is dit ʼn klein ligpunt in die donker tonnel.

“Hopelik sal die saak dan begin vorder, maar as die nodige bewyse steeds nie ingehandig is nie, kan ons dalk weer ʼn uitstel verwag.”

Deon en Neil wil net geregtigheid vir hul broer se dood laat geskied en voel die regstelsel laat hulle tans in die steek.

Die broers sal ook meer berusting hê indien daar van die bewyse werk gemaak word. “Dit sal nie Jaco terugbring nie, maar dit sal ons effense vrede gee.

“Jaco se dood was so onnodig en onregverdig. Hy was net só ʼn liefdevolle en vriendelike mens wat dit nie verdien het nie. Ons sal seker nooit verstaan waarom hy vermoor is nie.”

Maroela Media het vroeër berig die dag toe Jaco verdwyn het, het ʼn man hom gevra om herstelwerk aan ʼn voertuig by ʼn perseel naby Cullinan te doen.

Jaco het ʼn vriendin van dié man geken. Hy het na die kwansuise herstelwerk spoorloos verdwyn.

Geldenhuys se motor is die Donderdag ná sy verdwyning stowwerig en verlate by ʼn winkelsentrum in Pretoria gevind en sy liggaam is ʼn dag later naby ʼn grondpad in die Cullinan-omgewing aangetref. Volgens die nadoodse ondersoek is hy aangerand en gewurg.

Johan Martin Kichebrand is kort daarna in ʼn hospitaal in Pretoria in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy het glo sy eie lewe probeer neem.

Maroela Media het navraag oor die saak aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Het polisie nou al tot op so lae vlak gedaal dat hulle nie eers voldoende getuienis kan insamel in n saak waar daar n erkenning van n moord is nie? Baie “effektief” nê? Cele bars seker van trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.