Frustrasievlakke hoog by Centurion-lisensiekantoor

Lang rye by die Centurion-lisensiekantoor. Foto: AfriForum

Lang rye by die Centurion-lisensiekantoor. Foto: AfriForum

Mense by die Centurion-lisensiekantoor se frustrasievlakke word behoorlik beproef aangesien hulle ure lank in lang rye moet wag om hul lisensies te hernieu.

Me. Carla Hartman het Maandagoggend van 06:15 tot omstreeks 09:30 in die ry gestaan. Sy het gesê hoewel haar lisensie eers in Maart verval, sy juis besluit het om dit vroegtydig te hernieu om probleme te vermy. “Die diens hier is uiters onprofessioneel. Die grootste oponthoud is by die oogtoets-afdeling waar daar net twee amptenare werk. Hulle is ook heeltyd besig om tee te drink en met mekaar te gesels.”

Nog ’n probleem is dat mense wat hul lisensies wil kom hernieu, ook in die duister is oor watter dokumente en afskrifte hulle alles nodig het voordat hulle by die toonbank kom. Dit was ook die rede vir die voorval in November verlede jaar toe ’n jong vrou glo deur ’n werknemer by dié kantoor deur die gesig geklap is oor sy oor die swak diens gevloek het. Dit het gebeur toe die amptenaar haar ingelig het dat ’n gesertifiseerde afskrif van haar identiteitsdokument nie geldig is nie en dat hulle die oorspronklike ID benodig.

Nog ’n besoeker aan die kantoor het gesê hy is na ses ure nog nie gehelp nie. Hy was darem al voor in die ry en het gesê dit is al wat hom moed gee dat hy een of ander tyd gehelp gaan word. Daar was net ’n paar stoele waarop mense kon sit. Talle mense, onder wie ook bejaardes, moes in die son staan.

’n Ingeligte bron het aan AfriForum gesê die rede vir die gesloer is omdat net agt of nege van die 25 toonbanke daagliks beman word. Elke tweede Woensdag open die kantoor boonop ook eers na 11:00 omdat die werkers glo eers ’n vakbondvergadering moet hou.

Elsabe Bloem, wat ook lank moes wag, het gesê sy was geskok oor die gehalte van diens. Volgens haar het die ry met tye ook nie korter geword nie omdat dit voorgekom het of sekere mense voor indruk. “Daar was ook geen aanduiding van watter dokumentasie jy nodig het as jy vir die eerste keer ’n afspraak wil maak nie. Die beamptes se optrede grens aan kinderagtigheid.”

Sr. Supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het luidens mediaberigte gesê hulle is bewus daarvan dat baie mense na die kantore stroom omdat diegene wat in 2010 lisensies gekry het se lisensies nou verval. Hy het beklemtoon dat mense moet onthou dat hernuwings by enige lisensiekantoor gedoen kan word.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Drieks ·

Mahamba, hoe kom jul in jul pos vlak.
Beplanning, beplanning…..
Dit nie die publiek se probleem nie. Dit ANC probleem met sy BEE aanstellings.

Nicoline ·

\\\\\\ENIGE KANTOOR SE HY!!!!!!!!!! dit gaan oral so ek het amper 3 ure gewag net om dokumente aftehaal by Winternest se diens stasie……..
As jy n afspraak wil maak vir n leerling lisensie staan jy vir ure, net om voor tekom teen 11- 12uur se kant en dan word jy net dood eenvoudig weggewys want “sorry we cut the line”……..
Dit verbaas my glad nie dat mense omgekrap raak en mense begin goed toesnou..

Sterkte aan almal wat deur enige van daai afdelings gehelp moet word!!!!!

Eish! ·

Enige staat instansie is ‘n orgie! Ek was in Bethlehem by die Binnelandse sake kantoor. Net om my paspoort af te haal. Agtuur daar en kwart voor drie eers klaar. Om die paspoort in ontvangs te neem was nie eens 3minute nie. Maar ek moet in die ry staan en wag tot hulle tyd het. En dan hoop jy die krag word nie gesny nie en hul is nie na ‘n uur of 2 aflyn nie. Vir my paspoort altesaam moes ek 3dae verlof insit en gaan sit en wag!

Nina ·

Ek, my man en 3 kinders het binne minder as 45min by Brakpan se Binnelandse Sake aansoek gedoen vir nuwe paspoorte. Dit was ook binne 2 en ‘n half weke reg om afgehaal te word. ID’s ens gaan ook baie vinnig. :D Ek gee nie om hoe ver ek moet ry nie, dis al waarheen ek gaan vir sulke dokumente. Nog nooit ‘n probleem gehad met die mense wat daar werk nie, hulle is almal baie vriendelik, behulpsaam en professioneel.

dries ·

Ek dink almal moet bymekaar kom, hande vat en bid dat ons die regte mense in poste kry. Want sonder die hulp van bo gaan ons nie reg kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.