FUL verwelkom aanbeveling oor twee regters

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die drukgroep Freedom Under Law (FUL) het die aanbeveling van die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste verwelkom om die geskorste Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, en afgetrede regter Nkola Motata albei van hul amp te onthef.

“Die klagte teen die twee regters het te lank gesloer en werp ʼn refleksie op ʼn stelsel wat veronderstel is om regters aanspreeklik te hou,” sê FUL.

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) het albei regters vroeër aan growwe wangedrag skuldig bevind.

Hlophe is skuldig bevind nadat hy twee regters van die Konstitusionele Hof onbehoorlik probeer beïnvloed het in sake waarby oudpres. Jacob Zuma betrokke was.

Motata het in Januarie 2007 deur ʼn muur gebars terwyl toe hy onder die invloed van alkohol bestuur het.

“Die portefeuljekomitee moet geloof word vir sy spoedige afhandeling van die saak en dat hy nie toegelaat het dat die proses deur vertragingstaktieke in die wiele gery word nie,” sê FUL.

Hlophe en Motata se finale lot berus nou by die Nasionale Vergadering (NV) wat die portefeuljekomitee se aanbeveling moet bekragtig.

Dit kan slegs gedoen word deur ʼn tweederde‑meerderheid stemme van LP’s.

“Ons doen ʼn beroep op die NV om toe te sien dat ook hierdie besluit die nodige aandag so spoedig moontlik sal kry,” sê FUL.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oosieoos ·

Moes lankal afbetaal gewees het saak het te lank gesloer en regsbank skade berokken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.