FW de Klerk (85) sterf

Oudpres. FW de Klerk. (Foto: ANA)

Oudpres. FW de Klerk het Donderdag sy stryd teen kanker verloor. Hy was 85 jaar oud.

Die FW de Klerk-stigting het die nuus bevestig. “Dit is met diepe hartseer dat die FW de Klerk-stigting aankondig dat voormalige staatspresident FW de Klerk in die vroeë oggendure vreedsaam by sy huis in Fresnaye gesterf het.”

De Klerk het in Maart, op sy 85ste verjaardag, bekend gemaak dat hy met mesotelioom gediagnoseer is. Dit is ʼn kanker wat die weefsel in die longe aantas.

Hy is reeds in Oktober 2018 in ʼn Kaapse hospitaal opgeneem waar hy ʼn geslaagde mediese prosedure ondergaan het vir pneumotoraks, ʼn toestand waarin ʼn abnormale opbou van lug in die pleurale holte tussen die longe en bors plaasvind.

De Klerk, as leier van die destydse Nasionale Party, het van 1989 tot 1994 as president van Suid-Afrika gedien. Hy het daarna vir nog twee jaar as oudpres. Nelson Mandela se adjunk gedien en in 1997 as leier van die NP afgetree.

De Klerk het in 1993 saam met Mandela die Nobelprys vir Vrede ontvang vir die werk wat hy gedoen het ten einde die beëindiging van apartheid.

Sy seun Willem is in Oktober verlede jaar in die ouderdom van 53 oorlede. Willem is in Durbanville in die Wes-Kaap dood nadat hy ook sy stryd teen kanker verloor het.

Volgens die stigting sal begrafnisreëlings weldra bekend gemaak word. Hy word oorleef deur sy vrou, Elita, sy twee kinders, Jan en Susan, en sy kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.